Sesessie, afskeiding of separatisme

Afskeiding of sesessie is vandag ‘n aktuele saak, ook in ons land en die Wes-Kaap.  Ons moet egter daarop let dat daar ‘n grondige verskil is tussen die betekenis van ‘Afskei’ en ‘Afstig’.  Om af te skei, beteken om twee verskillende gedeeltes wat skeibaar is, vanuit ‘n mengsel te skei, (bv. room van melk af te skei) terwyl afstigting beteken dat ‘n groot eenheid van dieselfde entiteit, net opgedeel word in kleiner gedeeltes (as voorbeeld om ‘n gemeente wat te groot raak, op te deel in twee gemeentes).

Regoor die wêreld is daar volke wat deur meerderhede gedwing word om teen hul wil in te skakel by onderdrukkende eenheidstate.  Die Nuwe Wêreldorde (NWo) kan nooit sy uiteindelike doelwit van ‘n Een-wêreldstaat bereik, solank onafhanklike soewereine volke bestaan nie. Die magsbe­hepte geldgieriges het al vir eeue beheer oor volke verkry deur grense te verskuif, eenheidstate te stig en dan deur middel van partypolitiek en marionetregerings alle vryheidsgesindes met geweld in toom te hou.

Die ewige stryd om Vryheid, woed tans in verskeie wêrelddele waar minderhede deur ander oorheers en regeer word. Die strewe na vryheid is egter nie iets wat oornag gedemp kan word nie… vryheid is ingebed in ’n soewereine volksbestaan.  Ons sal hier poog om voorbeelde te toon van volke of separatistiese groepe wat wil afskei, of sesesseer vanuit eenheidstate wat deur die wêreld se Geldmag op hulle afgedwing word.

Die opkoms van separatisme, herinner ons dat saamgestelde nasies nie vir ewig kan bly staan nie.  Selfs in ons leeftyd het Europa se grense verander.  In die tagtigs het die magtige Sowjet Unie-eenheidstaat soos ‘n groot beer, onoorwonne gelyk, Kommunistiese Oos-Duitsland, Tseggoslowakeie en Joegoslavië was nog deel van die Oos-Europese kaart, terwyl histories onafhanklike volke, soos Estland, Litaue en Montenegro tesame met Slowenië en Kroasië weer hul verskyning gemaak het.

Ongelukkig kan onafhanklikheid nie altyd deur ‘n politieke proses verkry word nie.  Etniese suiwering, konsentrasiekampe, vlugtelingkampe en stede onder beleg, is nie iets waarvan ons daagliks lees nie, maar tog, so onlangs as 2-3 dekades gelede was dit die hoofopskrifte in die nuus gewees.  Ongeveer 14,000 mense is dood in Kroasië se stryd tot onafhanklikheid, terwyl 64,000 – meestal vrouens en kinders – in Bosnië se oorlog gedood is.  In Tseggoslowakeie was ‘n vreedsame skikking bereik en selfs in die bloedige Sowjet-unie, was daar ‘n redelik vreedsame oorgang.  Die uiteinde van die huidige Russies-Oekrainiese oorlog is egter tans vir ons almal nog duister.

Vir die elite van die NWo is vrye volkskap ‘n vloekwoord, en tog kan dit nie gestuit word nie.  Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Die vryheidstryd eindig nooit nie, dit gaan deur terugslae en oorwinnings, maar moet gedurigdeur geveg word.”  Hierteenoor het die goeie bedoelings in Suid-Afrika om die verskillende volke van die gebied, afsonderlik na onafhanklikheid te lei, sonder om bloed te vergiet, die woede van daardie selfde wêreldheersers ontketen, want dit sou hulle plan van ’n Een-wêreld-nasie kelder en moes ten alle koste vernietig word.

Die magsmal ANC word egter vandag beangs, want hulle sien dat hier, bo en behalwe die Boerevolk, selfs swart en kleurling-volke is soos die Khoi, San en Zoeloes, wat van plan is om hulself af te skei van hierdie Suid-Afrikaanse Eenheidstaat.  Die pendulum is besig om weg te swaai van ANC korrupsie, na volksontwaking.  Ons glo dat ander volke hier ook sal ontwaak en besef dat hulle as volke vry kan word van die houvas wat die wêreld se geldmagte ook oor hul eie tuislande se minerale reserwes het.  Hulle persepsie van vryheid is egter so besoedel deur die NWo se leuens oor “Aparthate” dat hulle nog vir lank in daardie leuenslaap vasgevang sal wees.

Openbaring_18:4  En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê:  Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

Wie kan ontken dat Separatisme ’n Bybelse opdrag is?  Israel is deur ons Vader self hul beloofde land ingelei, om tussen talle heiden-nasies, vir Hom ’n volk te wees, maar Sy opdrag was dat hulle as ’n “apartgestelde” volk sal leef en nie met die ander volke sal vermeng nie.  Die twee Republieke wat Hy in Afrika aan Sy Geloftevolk gegee het, sal Hy weer vrymaak as ons, ons Geloftes getrou sal betaal.

‘Eenheidstate’ regoor die wêreld, is geskep deur die NWo, met die doel om soewereine volke in hul mag te hou, terwyl hulle daardie volke se grondgebied beroof van hul minerale en bates.  Die Boerevolk is maar een van talle volke hier in Afrika wat op dieselfde wyse gyselaar gehou word, eers was dit die Britse Imperialiste, daarna die Afrikaner-Broederbond en tans doen die korrupte ANC die vuilwerk van die NWo.

Vandag sit daardie wêreldheersers met ’n nuwe probleem.  Hier in Suid-Afrika hoef ons nie eens bekommerd te wees dat die land “moontlik” ineen gaan stort, indien ons volk ons Boererepublieke sou afskei van die res van die land nie, die ineenstorting is reeds besig om ons onafhanklikheids-verklaring vooruit te loop.  Die blankes van Suid-Afrika was dalk tydelik uitgeskakel, maar die Skotte, Walliesers, Iere, Kataloniërs, en talle ander klein blanke volke is besig om op te staan, om hul verlore vryheid op te eis.  Van hierdie volke is reeds vir eeue onderdruk deur heersers wat dit ten doel het om oor die wêreld te heers asof dit een nasie is.  Die strewe na vryheid van volkere word egter nie maklik gedemp of vernietig nie.  Oor baie eeue is bewys dat kultuur, tradisie en geloof van ’n volk nie maklik vernietig word nie.

Uit die 54 state waarin Afrika se grond-gebied opgedeel is, is daar skaars 5 wat met reg kan sê dat hulle onafhanklike volke is wat deur hul eie verkose regerings bestuur en beheer word.  In Suidelike Afrika mag Swaziland en Lesotho dalk voorbeelde daarvan wees, maar of hul keuse van ’n monargie, werklik aan daardie volke soewereiniteit bied, is ook ’n ope vraag.  Tans poog die NWo deur middel van die ANC ook in elk geval om daardie klein landjies se grondgebied in te sluk en aan die NWo uit te lewer.

In die Noorde van Afrika is daar in 2012, na 50 jaar van oorlog, besluit om vredesonderhandelinge tussen Eritrea en sy voormalige onderdrukkende eenheidstaat, Ethiopië te finaliseer.  Eritrea vorm die noordelike grens, wat Ethiopië skei van die Rooisee en van die enigste hawens waardeur Ethiopië oorsese handel kan stuur.

Reeds sedert 1962 veg die “Eritrean People’s Liberation Front” (EPLF) vir afskeiding van Ethiopië. Toe die “Ethiopian People’s Revolutionary Democratic Front” in 1991 die kommunistiese diktator, Mengistu se bewind omverwerp, kon die EPLF die noordelike provinsie asook Asmara, die hoofstad oorneem.  Na ‘n referendum wat in 1993 gehou was, is die onafhanklike Eritrease Republiek deur die VN sowel as die Ethiopiese regering erken.  Hierdie vrede het egter nie lank gehou nie.  In Mei 1998 het daar weer oorlog oor grenslyne tussen dié twee state uitgebreek. Nadat ongeveer 80 000 mense omgekom het, is daar eers in die jaar 2000 op ‘n skietstaking ooreengekom wat uiteindelik in 2012 met ‘n vredesverdrag vervang is.

In die Midde-Ooste is daar ‘n ander unieke seperatiste beweging wat die wêreld telkens aan die gons het.  Die Koerde is ‘n verstrooide volk wat ook reeds sedert 1920 aanspraak maak op ‘n onafhanklike staat.  Wat hulle situasie egter so uniek maak is dat hul tradisionele grondgebied, wat suid van die Kaukasiese gebergtes lê, tans deur vier verskillende eenheidstate beset word, naamlik Sirië, Turkye, Irak en Iran.  Die Koerde word al sedert die vroegste eeue deur talle ryke en dinastië onderdruk – Mongole, Ottomane en vroeg in die 20ste eeu is hulle ook deur die Engelse in die steek gelaat na hul onderdrukking deur die Turke.  Tans is die Koerde se hoop gevestig op die Siriese burgeroorlog, om hulle grondgebied van Sirië af te skei.  Die Turke is egter vas van plan om ‘n stokkie daarvoor te steek.

Die blanke volke van ons stamlande in Europa was ook nie uitgesluit van hierdie eenheidsdrywing deur die wêreldheersers nie.  Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het hulle hulself aangematig om die Duitse volk in twee te skeur deur die oprigting van ’n vervloekte muur wat uiteindelik die dood van baie mense, wat gepoog het om oor die muur na hulle familie en na vryheid te kom, veroorsaak het.  Dit is nou meer as 33 jaar sedert die muur afgebreek is, en die Duitsers sukkel steeds om weer ’n hegte volk te word soos voorheen.

‘n Onlangse uitsending oor ‘Deutsche Welle’ het gehandel oor die ontsettende groei en opkoms van Salafisme in Wes-Europa, en veral in Duitsland, Frankryk en Engeland.  Salafisme is ‘n aggressiewe sekte van die Suni-Islam en tree ook op as die werwingsgroep vir ISIS in Europa.  My afleiding hieruit is dat die onbeheerste instroming na Europa van Moslem-insypelaars, sogenaamd as vlugtelinge, vir die oorblywende blanke gelowiges in ons lande van oorsprong ‘n groot lewensbedreiging gaan word. Voorspellings dat die Boerevolk moontlik nog vir hulle ‘n veilige heenkome hier in Boereland sal moet bied gaan dalk gouer waar word as wat ons besef.

Sesessiebewegings, sommige ernstig, ander net wispelturig, kry oral in Europa momentum.  Die NWo se skepping van ’n groot kontinentale eenheidstaat, word tans deur talle kleiner volke in Europa teengestaan. Daar is tans pogings tot sesessie deur Kataloniërs en Baske om van die Spaanse eenheidstaat af te skei. Hierdie eenheidstaat is deur die eeu-oue leuen van sogenaamde adelikes en koningshuise op die werkerstand van Europa afgedwing.  Streke soos Galisië  en Aragon mag dalk hul voorbeeld volg.

Die eeu-oue leuen van die Britse eenheidstaat is ook besig om te verkrummel.  Die Iere is tans besig om deur middel van referendums aanspraak te maak op hulle reg tot onafhanklikheid van die Engelse koningshuis.  Die Skotte wil hulself losmaak van Groot-Brittanje, maar waarom die Skotte steeds deel van die EU wil bly, is ook ’n ope vraag.  Dit is ook moontlik dat die gevoel van nasionalisme Wallis op dieselfde weg sal plaas.

Nog ‘n eenheidstaat wat maklik kan disintegreer is Italië wat eers in 1860 verenig is.  Vir eeue het die inwoners onder verskillende regerings geleef.  Bowenal het hulle nie dieselfde taal gepraat nie.  Minder as 3% in Toskane het die dialek wat vandag bekend is as Italiaans gepraat.  Is dit ‘n wonder dat Italië in 40 jaar 27 eerste ministers gehad het?  Die separatistiese Lombard-legioen het reeds 26% van die stemme in afgelope streeksverkiesings gewen.

Vasbeslote Venesiërs het in 2013 in groot verwagting ‘n referendum gehou in die hoop dat daar gehoor gegee sou word aan hulle versoek om onafhanklik te word.  Vir die grootste gedeelte van die afgelope 1200 jaar was hierdie Italiaanse stad ‘n nasie op sigself – magtig, vooruitstrewend en trots.  Trots op die feit dat die Moslemaanslag op die Weste, telkens deur hulle verslaan is.  In 1861 het hulle deel van die Italiaanse Koninryk geword.  Maar talle van hierdie pragtige stad se inwoners glo nou, dat hulle toekoms in hulle verlede lê. Vele van die inwoners sê dat dit beter sal wees as die stad en omliggende deel bekend as Veneto weer as ‘n onafhanklike staat, los van Italië, sal funksioneer.

Die grootste beswaar is ook dat hulle moeg is om biljoene aan belastings aan Rome te betaal wat op allerhande maniere net verdwyn.  Gevolglik het duisende Venesiërs ‘n petisie onderteken waarin hulle ‘n “egskeiding” vra het van hulle mede-Italianers.  Die deklarasie van onafhanklikheid was, soos verwag kon word, deur ‘n gondel aan die streeksregeerders afgelewer wat besig is om oor die moontlikheid van ‘n referendum te besin.  “Ons het nie Rome nodig nie, selfbeskikking is ons reg,” het Lodovico Pizzati, ‘n professor in ekonomie, aan die spits van die beweging, gesê.

België is reeds vir die afgelope dekade lam gelê deur etniese konflikte tussen die Nederlands-sprekende Vlaminge en die Franssprekende Wallone.  Aangesien Antwerpen (een van noordelike Europa se grootste hawens) onder die beheer is van ‘n party wat Vlaamse onafhanklikheid eis, is daar baie wat vrees (of hoop) dat die disintegrasie van België slegs ‘n kwessie van tyd is.

Selfs in Frankryk is daar ‘n opwelling van separatisme.  In Napoleon se geboorteplek, Korsika het ondersteuning vir onafhanklikheid drievoudig toegeneem en het die nasionaliste tweede in 2010 se streeksverkiesings gekom.

Die Verenigde State van Amerika is altyd die “Land of Liberty and Opportunity” genoem.  Wie sou kon dink dat die VSA dalk nie meer so verenigd is as wat hulle liberale regerings wil voorgee nie.  Reeds meer as 10 jaar gelede het ten minste 20 state in Amerika, in petisies aan die Obama-administrasie, gevra om hulle hul onafhanklikheid vreedsaam te verkry.  Dit het destyds gevolg op die herverkiesing van Obama as president van die VSA.

Louisiana was die eerste staat wat ‘n petisie ingedien het. Kort daarna het ‘n aansoek van Texas gevolg.  Volgens die webwerf van die Withuis was die state wat sesessie-verwante vertoë gerig het Alabama, Arkansas, Colorado, Florida, Georgia, Indiana, Kentucky, Michigan, Mississippi, Missouri, Montana, New Jersey, New York, North Carolina, North Dakota, Oregon, South Carolina en Tennessee.

Tans begin die sesessie-beweging in Amerika stoom kry, hoofsaaklik as gevolg van die frustrasie oor ‘n federale regering wat buite beheer is.  ‘n Aantal konserwatiewe, landelike Amerikaners praat al hoe meer van afskeiding en die skepping van hulle eie state, wat dalk tot gevolg kan hê dat die kaart van die VSA die volgende mag insluit:

  • ‘n Een-en-vyftigste staat, gedoop Jefferson wat uit Noordelike Kalifornië en Suidelike Oregon sal bestaan;
  • ‘n Nuwe staat genoem Westelike Maryland;
  • ‘n Nuwe staat genoem Noord Colorado;

Hierdie bewegings is besig om in momentum toe te neem deur kiesers reg oor die land.  Jeffrey Hare is aan die spits van die 51ste Staat Inisiatief in Colorado, ‘n poging om die bandelose wetgewende liggaam te stuit wat regeringsbeleid in die kele van kiesers af forseer.  “Ons het nou ‘n punt van ‘onversoenbare verskille’ bereik” het Hare aan CBN Nuus gesê.

Die VSA is ‘n deurmekaar konglomeraat van mense uit wyd uiteenlopende agtergronde, maar die vryheid en geleenthede wat almal na hierdie groot land gelok het, is tans in die weegskaal. Al meer mense sal daarom hul vryheid begin verdedig.  Van al die Amerikaanse state, is Texas seker die voorbeeld wat die naaste ooreenstem met die situasie waarin die Boerevolk homself tans bevind – hulle was ook voorheen ‘n internasionaal-erkende onafhanklike staat.

Verblydend is die feit dat hierdie neiging, om deur die leuens van die Nuwe Wêreld-orde te kan sien, nie slegs in die Verenigde State van Amerika te bespeur is nie. Na ‘n baie korter tydperk van manipulasie en wanadministrasie is dit ook besig om na die oppervlak te borrel in die Verenigde State van Europa, korrupte swart state van Afrika,  die Midde-Ooste asook in Asië.

Solank vryheidsliewende volke nie hulself in hul eie onafhanklike republieke kan regeer nie, sal daar altyd pogings tot sesessie in die wêreld wees. Die Boerevolk is nie die eerstes nie en sal ook nie die laaste wees nie.

Die fokusillustrasie is ‘n foto van die Vriendskap van die Nasies -fontein in Moskou.

 

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui