
Die vergete 11de gebod: Kommunikasie
Waneer die tweede dag van Mei aanbreek, slaak menige maatskappy-eienaar, entrepreneur of werkgewer ‘n sug van verligting. Ten einde laaste kan werk weer voortgaan soos wat dit moet. Geen openbare vakansiedae meer nie, geen halfhartige werk gedurende die twee dae wat ‘n vakansiedag voorafgaan nie – so ook nie tydens werksdae na openbare vakansiedae in die middel van die week nie. Kom ons wees eerlik… die eintlike werksjaar begin eers op die tweede dag van Mei!
April is die één maand in die jaar wanneer my besigheidsafrigtingskliënte my met die miljoen Rand vraag nader: “Waarom presteer my spanlede nie soos ek van hulle verwag nie?”
Ek roem nie daarop dat ek al kennis in pag het nie, maar, dit kan ek waarborg: Ten einde jou personeel te motiveer om beter te presteer, moet jy hulle met die toepaslike vlak van duidelikheid en rigting bemagtig. Sodoende sal hulle die resultate kan lewer wat jy van hulle verwag.
Indien jy jou unieke situasie wil bespreek, moet asseblief nie huiwer om ons te kontak by die kontakbesonderhede hieronder nie.
Die antwoord is dat jy as verantwoordelike persoon moet verseker dat daar gesonde spanbestuurstrategieë in plek is, dat jy individuele en spanvergaderings gereeld sal hou en dat jy seker sal maak dat jy die respek en vertroue van jou werknemers verdien en behou. Dit is ook nodig dat jy sal werk met die oogmerk om die uitsette en aktiwiteite te bestuur eerder as om werknemers in hul persoon te bestuur.
Op die vraag, hoekom spanlede nie doen wat van hulle verwag word nie, kan die volgende drie primêre redes verskaf word:
- Die eerste is dat hulle nie die belangrikheid van die taak wat hulle moet doen, begryp nie.
- Die tweede probleem is dat hulle nie verstaan wat hulle veronderstel is om te doen nie.
- Derdens is dat daar net te veel is om te bereik.
Oplossings
Soos met die meeste aangeleenthede in besigheid, is daar nie ‘n een-grootte-pas-almal resep om hierdie vraag te beantwoord nie.
- Jy kan dit egter aanspreek deur iets so eenvoudig soos om duidelik te sê wanneer jy ‘n opdrag aan jou spanlede gee, wat is nodig en wat is opsioneel – tussen die twee is daar ‘n verskil. Jy het seker ook al die stelling gehoor dat geen werk voltooi is alvorens die papierwerk klaar is nie. Om te verseker dat alle partye die opdrag op dieselfde manier verstaan, is dit altyd gerade om dit op skrif stel.
- In gevalle waar ‘n geskrewe opdrag nie moontlik is nie, en jy presies weet wat jy gedoen wil hê, is die eenvoudige praktyk om te volg om hulle te vra om op te som wat hulle verstaan van wat gedoen moet word ten einde te verseker dat beide partye ad idem is. Jy mag dalk vind dat die partye se begrip van “uitset” en “voltooiing” verskil. Maak seker dat jy konsensus het wat hierdie konsepte beteken en dat beide partye eensgesind is.
- Laastens moet jy hulle ook vra of hulle alles het wat hulle benodig om die taak wat jy aan hulle opgedra het te voltooi en of hulle gemaklik is met die tydlyn wat aan hulle gestel is. Oorweldiging en swak hulpbronne kan enige projek stop voordat dit begin het.
Deur hierdie eenvoudige stappe te volg, sal jy na elke opdrag- of inligtingsessie ongetwyfeld ‘n verbetering in die uitvoering van die pligte deur jou spanlede begin sien.
Met betrekking tot jou span: Watter tipe probleme het jy onlangs teëgekom? Stuur gerus ‘n e-pos en ons sal jou graag bystaan.
Fergus Ferguson : fergus@fergusmor.co.za : 082 650 0867