Ons staat van inperking
Ek skryf hierdie op die eerste dag van die drie weke ingeperkte staat as gevolg van Covid-19, wat in Suid-Afrika afgekondig is. Vir meeste van ons is dit ‘n gans nuwe ervaring, maar daar is mense wat dit al vantevore onder ander omstandighede beleef het. Op ons gemeenskap se Whatsappgroep het daar ‘n paar dae gelede ‘n stukkie verskyn wat my beïndruk het. Tot dusver is die skrywer onbekend maar ek wil graag aan hom of haar erkenning gee deur die skrywe onveranderd plaas. Aangesien dit al op meer as een groep verskyn het, glo ek dat die blootstelling op ‘n groter forum nie ‘n probleem behoort te wees nie. Hier volg ‘n woordelikse aanhaling. (My kursivering)
LOCKDOWN
Oor die volgende drie weke is die gala aan, en gaan jy heel moontlik ñ baie beperkte spasie deel met mense wat jy nog altyd gedink het jy baie goed mee oor die weg kan kom. Na 5 jaar in Afghanistan, en tallose “hard lockdowns” wat soms tot ñ maand geduur het, deel ek graag so paar gedagtes van my eie ondervinding.
- Dis moeilik. Nee, dis vrekmoeilik! Veral hier na dag 10, wanneer die nuutheid en die snaaksheid daarvan begin verdwyn. Jy gaan jou selfdissipline moet opknap en skerp hou.
- Ontwikkel vinnig ñ gemaklike roetine waar jy ñ gesonde balans tussen jou eie tyd en tyd saam met die res van die huishouding balanseer.
- Moenie lyf wegsteek met dagtakies nie – bring jou kant. Maar moet ook nie ñ pyn in die gat wees vir ander en hulle die heeltyd op en af order nie. Nerwe raak vinnig dun so.
- Jy gaan dinge van die mense rondom jou leer, raaksien en ontdek wat jou nog altyd ontgaan het. Meeste daarvan gaan jou nie laat giggel nie. Deal with it, en byt op jou tong. Hulle besef ook skielik dat jy nie so perfek is soos wat jyself glo nie.
- Hou ñ fyn ogie oor die mense rondom jou. Die swart hond het ñ slegte gewoonte om in hierdie tye sy intrek te neem. En as dit nie hy is nie, is dit daai jakkals wat hulle Onverdraagsaam roep. Hou altwee van jou deur af weg.
- Wanneer jy toegelaat word om te reis/beweeg, vermy enige ding in uniform so ver moontlik. Niks sit die deursnee spietkop/soldaat/polisieman op ñ power trip soos omstandighede soos hierdie nie.
- Bly besig, al is jy net besig om rustig te wees. Dit sorg dat jou kop nie warm raak met allerhande worries en stres nie. Dinge is wat dit is – die troos is dat bittermin van ons NIE hierdeur sal kom nie. Sorg dat jou verhoudinge hierna sterker en beter is. Dit sal ñ bummer wees as jou eerste stop na lockdown die egskeidingsprokureur of malhuis is.
- Bly positief. This too shall pass. Dit doen altyd. Hierdie is nie oorlog nie. Ontgin jou kreatiwiteit. Smee nuwe planne vir die toekoms. Droom groot en berei jouself voor om gat te skop wanneer die deure weer oopswaai.
- Hou ñ ruim voorraad popcorn. Jy gaan dit nodig hê wanneer jy sit en toekyk hoe die ouens wat nie hierdie raad volg nie self-destruct. Vermy snowflakes – daai goed gaan jou mal maak met hulle entitlement en eise.
- Jy het baie tyd op hande. Gesels ñ slag met jou Skepper, en leer Hom weer ken. Jare van nou af gaan jy terugkyk en besef hoe waardevol hierdie drie weke regtig was.
En dan, die elfde gebod. Be safe, but have fun.
Uit die staanspoor moet ek sê dat mens darem nie alle uniformdraers oor dieselfde kam kan skeer nie, maar aangesien mens waarskynlik nie bekend gaan wees met dié waarmee jy gekonfronteer gaan word nie, is dit beter om sulke situasies te vermy waar moontlik.
En dan is daar dalk meer van u wat, soos ek, nie geweet het wat ‘n snowflake is nie. Google se verduideliking: an overly sensitive or easily offended person, or one who believes they are entitled to special treatment on account of their supposedly unique characteristics. Ja, mens kry soms met hulle te doen of lees van hul uitsprake in nuusberigte!
Wat my opgeval van die hele skryfstuk is die gebrek aan verwysings na fisiese probleme! Al die knelpunte waarna hierdie persoon verwys lê op die vlak van verhoudings, geestesgesondheid en persoonlike welsyn. Dit is skynbaar die fronte waarop ons moet konsentreer. Toegegee, ons moet begin by gebalanseerde dieet, genoeg oefening en ‘n kwaliteit slaappatroon, maar ons behoort nie daarmee te volstaan nie. Ons kan hierdie tyd gebruik vir persoonlike groei, om lewensvaardighede aan te leer en verhoudings te bou wat ons in die jare wat kom handig te pas kan kom.
Dan moet ons ook in gedagte hou dat die inperkingstydperk nog verleng kan word, aangesien dit aan die lig gekom het dat die inkubasietydperk van Covid-19 so lank as 21 dae kan wees en dat dit lyk asof veral kinders wat asimptomaties is wel tog aansteeklik kan wees. Daar is kenners wat van opinie is dat die piek van die bevestigde gevalle bietjie verder in die toekoms lê as wat ons dalk dink. Sonder om negatief te wees sou ek tog aanbeveel dat mens jouself geestelik daarop ook voorberei. Hef aan lê dalk nog voor!