Insulienweerstandigheid – die olifant in die kamer

Die verband met tipe 2 diabetes.

Ons weet almal van suikersiekte (diabetes), maar besef ons die omvang van die probleem? Vergelyk die volgende syfers met Covid-19 syfers van vandag en neem ook in ag dat die ernstige en kritieke gevalle van Covid-19 meestal gepaard gaan met bykomende toestande, waarvan diabetes ‘n baie belangrike een is:

  • 450 miljoen volwassenes wêreldwyd was reeds diabete in 2017.
  • In Afrika alleen was daar 19 miljoen in 2019!
  • In 2017 het Suid-Afrika 3.5 miljoen gediagnoseerde volwassenes gehad, omtrent 6% van die bevolking.

Nog 5 miljoen was prediabeties, met ander woorde die bloedglukose is net nog nie hoog genoeg om diabetes tipe 2 te diagnoseer nie of daar was diabetes tydens ‘n swangerskap.

Die helfte van prediabete word in elk geval later gediagnoseer met diabetes, maar almal van hulle is alreeds insulienweerstandig! Hoekom is dit belangrik? Insulienweerstandigheid is altyd ‘n voorloper van tipe 2 diabetes en as ons dit kan voorkom of omkeer, kan ons keer dat tipe 2 diabetes, met al sy komplikasies, ontwikkel. (Onthou: tipe 1 diabetes het heeltemal ander oorsake en maak slegs omtrent 5% van alle diabete uit.)

Wat is insulien en hoe werk dit?

  • Insulien is ‘n essensiële hormoon wat afgeskei word deur sekere groepies selle in die pankreas wanneer  glukosevlakke in die bloed styg. Die hormoon word in die bloedstroom vrygestel om deur die liggaam na die selle te versprei, waar die funksies meestal gerig is op die beheer van metabolisme van koolhidrate (suiker en stysel), vette en tot mindere mate proteïene en minerale. Insulien is krities vir die liggaam se gebruik van glukose, veral in die spier- en vetselle. Dit bind aan insulienreseptore op die seloppervlaktes, sodat dit ‘oopmaak’ om die glukose te gebruik vir energie binne-in die spierselle, óf te stoor as vet in die vetselle. Dit is een manier hoe insulien bloedglukosevlakke beheer en dit onderdruk ook die afbraak van vet in die vetselle.
  • Insulien stimuleer ook die stoor van glukose in die lewer in die vorm van glikogeen wanneer baie glukose beskikbaar is, sodat dit vrygestel kan word as die glukosevlakke laag is. Sodra die glikogeen in die lewer egter omtrent 5% van die lewermassa bereik, verander die glukosemetabolisme in die lewer sodat vry vetsure gevorm word, onder andere trigliseriede.

Oorvereenvoudigd kan ons dus sê dat insulien die liggaam aanmoedig om glukose te gebruik vir prosesse en om vette te stoor.

Wat gebeur met insulienweerstandigheid?

Aangesien insulienafskeiding gestimuleer word deur stygende glukosevlakke in die bloed, sal die inname van enige koolhidrate, wat tot ‘n mindere of meerdere mate die bloedsuikervlakke laat styg, ook insulienafskeiding stimuleer. Indien hierdie stimulasie daagliks gereeld oor ‘n lang tydperk plaasvind, moet die pankreas die insulienvlakke amper deurlopend hoog hou om die gewenste effek van bloedsuikerverlaging te kry. Oor ‘n tydperk van jare op so ‘n hoë koolhidraatdiëet verminder veral die spier- en vetselle se respons op die insulien en moet die pankreas al harder werk om meer en meer insulien af te skei om die ‘oopmaak’reaksie te verkry en glukosevlakke te verlaag. Aanvanklik sal dit net ná etes gebeur wanneer die bloedsuikervlakke die hoogste is, maar later meer deurlopend. Bloedtoetse kan op hierdie stadium normale bloedsuikervlakke toon maar wel verhoogde insulienvlakke. Dié persoon is egter reeds insulienweerstandig. Sonder ingrype word die pankreas oor die langer termyn uitgeput en kan nie meer genoeg insulien afskei om normale bloedsuiker te handhaaf nie en dan is die persoon ‘n prediabeet. As die bloedglukose dan bo sekere waardes styg kan tipe 2 diabetes gediagnoseer word. Daar is gevind dat 30% van hierdie diabete dan reeds komplikasies het van hoë bloedsuiker, wat verhoed kon gewees het!

Wat is hierdie komplikasies?

  • Arteriosklerose (verdikking van en verkalkings in medium en groot slagare) met verhoogde risiko vir beroertes en hartvatsiekte met angina (hartkrampe) en hartaanvalle.
  • Kleinbloedvatsiekte met perifere neuropatie (sensasieprobleme), nierversaking, blindheid, velinfeksies en gangreen.
  • Sterk assosiasie met lewervervetting a.g.v. veranderde vetmetabolisme. Dit kan ook lei tot lewersirrose en selfs lewerkanker.

Wat is simptome en tekens van Insulienweerstandigheid?

Insulienweerstandigheid alleen het GEEN spesifieke simptome of tekens nie. Wanneer die bloedsuikervlakke reeds begin styg kan mens moegheid, gebrek aan konsentrasie en hongersensasies ervaar. Daar is egter toestande wat met insulienweerstandigheid geassosieer word, sg. risikofaktore waarna mens moet oplet:

  • Metaboliese sindroom: Sentrale gewigstoename met ‘n middelmaat by mans van >102cm en by dames > 89cm, saam met hoë bloeddruk > 130/85 en verhoogde bloedcholesterol en veral triglisiriede.
  • Obesiteit op enige ouderdom met BMI >25kg/m2 (kinderobesiteit styg in ontwikkelende lande).
  • Familiegeskiedenis van tipe 2 diabetes, hoë bloeddruk of arteriosklerose.
  • Onaktiewe lewenswyse.
  • Acanthosis nigricans (verdikking en donker verkleuring van vel in velvoue) Daar is geen behandeling vir hierdie toestand nie.
  • Vleismoesies/muistepels(skin tags)
  • Fertiliteitsprobleme by vrouens, veral polikiesteuse ovariële sindroom(PCOS) wat gekenmerk word deur menstruele abnormaliteite, obesiteit, oormatige beharing en soms verhoogde testosteroon.
  • Stres.
  • Swangerskap.
  • Infeksie of ernstige siektes.
  • Gebruik van steroïede.

Faktore wat insulienweerstandigheid verder kan vererger is: Slaapprobleme, veral slaapapnee, rook, ouer ouderdom >40 en sekere medikasies.

Insulienweerstandigheid kan positief gediagnoseer word met bloedtoetse. Normale vastende bloedglukose met verhoogde insulienvlakke kan reeds daarop dui. Sommige dokters doen ook ‘n glukosetoleransietoets oor 2 ure met ‘n insulientoets vir om reeds ontwikkelde diabetes heeltemal uit te skakel. Daar is ook ander toestande wat hoë insulienvlakke tot gevolg kan hê en die dokter moet dit ook uitskakel.

Hoe voorkom of behandel mens insulienweerstandigheid?

Leefstylveranderinge is die hoeksteen van behandeling. Dit moet verkieslik geleidelik ingefaseer word vir lewenslange volhoubaarheid. Mens moet in elk geval nie vinnig resultate verwag nie want die toestand het meestal oor ‘n tydperk van járe ontwikkel.

  • Hou op rook.
  • Dieet – veral afname en aanpassing in koolhidraatinname kan glukosepieke verminder en so ook die stimulasie van insulien wat nodig is om dit te hanteer. Vermy koolhidrate wat vinnig opgebreek word in basiese suikers wat vinnig opgeneem word in die bloed, dus met ‘n hoë glisemiese indeks (GI). Dit sluit in verfynde suikers soos vrugtesap en tafelsuiker, verfynde stysel soos witbrood, bagels en oliebolle. Lae GI voedsels het gewoonlik ‘n hoër veselinhoud soos volgraanprodukte en lae- of geenstyselgroente soos broccolli, wortels en groenbone. Die GI van ‘n hele ete en geassosieerde drank moet in ag geneem word. Volg verkieslik ‘n lae koolhidraat of ketogene dieet met meer proteïene en vette maar kry leiding by ‘n professionele persoon as daar enige moontlikheid van nierprobleme bestaan. Hierdie is egter ‘n onderwerp op sy eie wat miskien later meer volledig bespreek kan word.
  • Oefening – Mik vir ten minste 30min/dag 5dae/week en doen beide aerobiese oefening en oefeninge met gewigte. Dit verhoog die spiere se sensitiwiteit vir insulien. Probeer ook om in die algemeen meer te beweeg. ‘n Sittende lewenswyse is ‘n risikofaktor.
  • Gewigsverlies – kan insuliensensitiwiteit  omdraai asook die ontwikkeling van diabetes vertraag. Obesiteit is nog ‘n risikofaktor wat mens kan verander. Probeer ‘n gesonde gewig handhaaf.
  • Medikasie – Metformin is ‘n voorskrifmedikasie ook vir tipe 2 diabete wat saam met al bogenoemde maatreëls gebruik kan word in sekere gevalle. Dit voorkom die vrylating van glukose in die bloedstroom deur die lewer  en maak ook die vet- en spierselle meer sensitief vir insulien. Die verlaging in bloedsuiker verminder die behoefte aan die pankreas se afskeiding van insulien.  

Sal ons nie onsself  die guns doen om daarop te konsentreer om hierdie toestand te probeer voorkom en verminder in die gemeenskap nie? Dit kan duidelik verreikende gevolge vir ons gesondheid hê, wat weer ‘n groot invloed op ons algemene lewenskwaliteit en produktiwiteit kan hê. Dink net hoe goed ons dan ons eie ding kan doen!!

Erkennings:

4.67 avg. rating (92% score) - 3 votes

2 Comments

  • Vas vir 24 uur tussen maaltye (eet aandete, gaan slaap, dan geen kos tot aandete op dieselfde tyd die volgende dag), en langer, kan baie help met insulienweerstandigheid ens, ens. Kyk gerus op die Internet vir meer informasie oor hoe dit kan help om die proses om te keer.

    • Baie dankie vir jou aanvullende kommentaar , Cindy. Ja, intermitterende vas word aanbeveel vir die omkering of verbetering van hierdie probleem. Ons wou in hierdie artkel eers net konsentreer daarop om mense bewus te maak van die toestand, maar hoop om in ‘n latere artikel meer oor aanbevole dieetveranderinge te skryf. Intussen hoop ek dat mense jou raad solank sal begin volg om ‘n internetsoek daaroor te doen.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui