
3 000 wit kruise op pad na Washington
Op 26 September 2026 gaan Lex Libertas 3 000 wit kruise op die National Mall, die bekende openbare parkgebied in Washington, D.C., oprig. Elke kruis verteenwoordig ’n slagoffer van ’n plaasmoord en saam vestig hulle die aandag op die menselewens agter statistiek wat alte maklik geïgnoreer word.
Met die Witkruisprojek wil Lex Libertas internasionale steun werf vir groter selfstandigheid en selfbestuur plaaslik, terwyl plaasmoorde, geweld, diskriminasie en staatsverval onder die aandag van internasionale besluitnemers gebring word. Die projek sluit ook ’n petisie in wat ’n beroep op die Verenigde State doen om ’n spesiale gesant aan te stel om met die Afrikanergemeenskap en ander kulturele minderhede te skakel.
Hierdie benadering sluit ten nouste aan by KragDag se filosofie: om nie op beter staatsbestuur te wag nie, maar plaaslik die vermoë, instellings en oplossings te ontwikkel waarmee gemeenskappe groter verantwoordelikheid vir hul eie toekoms kan neem. Internasionale steun kan hierdie strewe versterk, maar selfstandigheid word uiteindelik van onder af opgebou.
KragDag ondersteun Lex Libertas se poging om hierdie boodskap aan ’n internasionale gehoor oor te dra. Ons wens dr. Ernst Roets en die hele Lex Libertas-span sterkte toe met die laaste voorbereidings en die uitvoering van hierdie belangrike projek.
Jy kan deel word van die Witkruisprojek deur die petisie te onderteken, ’n kruis te borg of die veldtog met ander te deel.

