Praktiese Covid-19 raad

Hier volg algemene raad tydens die Covid-19 pandemie uit my oogpunt as ma en huisvrou met mediese agtergrond. Sommige standpunte mag gesien word as kontroversieel maar ek noem dit nogtans omdat dit my persoonlike oortuiging is.

Voorkomend

Pas die kontak-voorkomingsmaatreëls, wat nou al baie bekend is, nougeset toe.  Bly tuis tensy dit regtig noodsaaklik is om êrens heen te gaan, was gereeld hande, gebruik handskoene, moenie aan u gesig met ongewasde hande vat nie, behou ‘n afstand van ander mense, dra ‘n masker as u tussen mense moet beweeg, maak moontlik blootgestelde oppervlaktes skoon met alkohol, hou vertrekke so goedgeventileerd as wat die klimaat en sekuriteitsituasie toelaat, ens.

Voorbereiding

  1. Bou immuniteit met ‘n basiese gesonde leefwyse. Terwyl die meeste mense minder rondbeweeg as gewoonlik, is hierdie ‘n goeie tyd om ons daaglikse roetines aan te pas in die meer voordelige rigting vir ons algemene welsyn. Kry genoeg hoë-kwaliteit slaap, (melatonien wat afgeskei word vanaf laatmiddag en wanneer al die TV en ander skerms afgeskakel is, dra by tot goeie slaap en ook immuniteit), eet gesond en gebalanseerd (konsentreer op proteïen en groente) en drink genoeg water. Veral mense wat alleen bly, is geneig om gereelde etes,  self kosmaak en goeie slaaphigiëne na te laat.
  1. Bou immuniteit met aanvullings. Dit is kontroversieel en die lys is sekerlik nie volledig nie. Ek beveel dié aan waarvan ek persoonlike ondervinding het. Van die gelyste items, gebruik ten minste 2 of 3 items op ‘n gereelde basis. Onthou egter dit is geen waarborg om nie siek te word nie, net ‘n poging om die liggaam te help om die geveg teen enige kiem meer effektief te maak.

Vitamien C ten minste 1000mg/dag verkieslik in poeiervorm, opgelos in water of as bruistablet. Dit kan meer kere per dag geneem word as siektesimptome sou begin. Mense wat neig tot nierstene moet egter versigtig wees en genoeg vog inneem. ‘n Newe-effek kan ook diarree en buikkrampe wees, maar dit behoort te verbeter met vermindering van die dosis. (Self het ons dit in 20 jaar nog nie ondervind nie.)

 Vitamien D3 1000 – 5 000 IU (Let wel dis nie dieselfde as vitamien D2 wat algemeen vir osteoporose voorgeskryf word nie.) As dit langertermyn gebruik word moet Vitamien K2 daarmee saam geneem word wat nie noodwendig algemeen beskikbaar is nie.

Sink – suig- of gewone tablette, verkieslik met Selenium en Vitamien A.

Echinaceatinktuur, 20 druppels per dag verkieslik onder die tong vir vinnige direkte opname of met bietjie water.

Probiotika veral die met Lactobacillus-spesies. Dit kom ook voor in jogurt wat gespesifiseer word dat dit nog lewende kulture bevat, of natuurlik tuisgemaakte jogurt.

Ander naturopatiese produkte. Elderberry,curcumin (borrie) en knoffel is voorbeelde maar ek het nie kennis of ondervinding daarvan nie.

  1. Bespreek nou reeds met u behandelende geneesheer of kliniek hoe om die situasie te hanteer indien u enige chroniese siektetoestand soos diabetes, chroniese long- of harttoestande, kanker het of op immuunonderdrukkende medikasie is.
  1. Chroniese medikasie. Vul betyds aan en kry voorraad vir 3 maande indien moontlik. Let veral op goeie beheer van bloedsuikervlakke, wat ook ‘n invloed op immuniteit kan hê. Mense wat suurstof nodig het moet seker maak dat hulle genoeg het en betyds kan aanvul, want enige siektetoestand kan u behoefte verhoog. Dit geld ook vir mense met asma wat moet seker maak dat hulle genoeg pompies het.
  1. Belê in ‘n lugbevogtiger indien u dit kan bekostig. Die lug gaan begin droëer raak en in die Suidelike Halfrond begin die griepseisoen nou. Dán is dit ‘n goeie idee om die slymvliese te probeer beskerm teen uitdroging, wat dit meer vatbaar maak vir boonste lugweginfeksies. Dit help ook om ingedikte afskeidings in die lugweë te verdun indien ‘n infeksie wel sou voorkom. Meeste bevogtigers het ook ‘n kompartement waarin vlugtige olies soos bloekom of menthol geplaas kan word, wat ook ‘n verligtende invloed op lugwegsimptome het.
  1. Aankope van voorraad vir ingeval u siek word:

Sneesdoekies – toiletpapier is goedkoper, miskien was dit die rede vir die aanvraag?!

Paracetamoltablette (ook stroop en setpille as daar klein kinders in die huis is) vir pyn en koors. Daar is vrae rondom die anti-inflammatoriese middel, ibuprofen, tydens ‘n Covid-19-infeksie. Dit het in elk geval meer newe-effekte op die maagslymvlies as paracetamol.

Suigtablette of keelsproei vir seerkeel.

Hoesmedisyne wat slym verdun en verkieslik nie hoes onderdruk nie. Bespreek dit met u apteker.

Termometer (opsioneel)

  1. Optimiseer u asemhalingsfunksie, al het u nie longprobleme nie. Weens ons sittende en passiewe lewenswyses mag ons almal voordeel trek uit asemhalings- en aërobiese oefening, om die asemhalingspiere te versterk en longkapasiteit te verbeter.
  1. Maak ‘n groot pot sop en vries dit in porsies vir ‘n noodgeval.
  1. Bespreek ‘n plan van aksie met huisgenote of familie, sou iemand siek word. Is daar ‘n isolasiearea in die huis indien net een sou positief toets vir Covid-19, hoe kan so ‘n situasie prakties hanteer word? Wie moet verantwoordelik wees vir wat? Nou is die tyd om kalm te wees en vooruit te beplan.

Wat om te doen as mens siektesimptome toon

  • Kontak u huisdokter, kliniek of die Covid-19 noodlyn by 0800 029 999 en bespreek u simptome en verdere optrede. Covid-19 kan soos ‘n gewone verkoue begin met loopneus en nies asook hoofpyn, seerkeel en hoes. Skielike verlies van die reukvermoë sonder dat die neus toe is, is ook ‘n simptoom wat kan voorkom – selfs voordat enige ander simptome verskyn. Moenie dadelik paniekerig raak nie! Meeste mense kry dit relatief lig en kan hulself tuis in isolasie behandel. Die simptome kan egter erger wees met lyfpyn, moegheid, koors en kortasemheid. Daar moet toetse gedoen word om Covid-19 te bevestig of nie, om u verdere hantering of hospitalisasie te bepaal en om moontlike kontakte te identifiseer. Indien u temperatuur bo 38°C is of u benoudheid ervaar, is meer intensiewe ondersoeke waarskynlik ook nodig.
  • Behandel intussen die simptome met beskikbare middels.
  • Vermeerder dosisse van Vitamien C en Echinacea tot 3 – 4 maal/dag indien u dit gebruik.
  • Sorg dat u genoeg vog inneem. ‘n Glas water langs die bed, tee, warm suurlemoendrankie met heuning, dun sop, verdunde vrugtesap, ens. Vir die seerkeel sal die warm drankies moontlik verligtend wees terwyl kouer goed en veral water beter is in geval van koors.
  • Rus baie. Gee die liggaam kans om energie op die siekte en herstel toe te spits.
  • Gebruik maskers en handskoene en isoleer indien daar ander mense ook in die huis woon.
  • Hou twee weke isolasie vol al verbeter u toestand dramaties.

Sterkte!

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui