Boekresensie: Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel

Titel: Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel

Outeur: Arina du Plessis

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 978-0-7981-7713-9

Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel

deur Arina du Plessis

Ek is besonder lief vir kookboeke en versamel dit graag. Nie net om die heerlike resepte nie, maar ook oor die wonderlike stories oor kos en samesyn om ’n tafel wat die outeur gewoonlik ook met die lesers deel. O, en dan praat ek nie eens van die aptytwekkende foto’s van vars produkte en keurig voorbereide maaltye nie! Wat nog te sê van die tendens om kosbare familiefoto’s en reisherinneringe rondom kos in te sluit! Wanneer ek deur ’n kookboek blaai, voel dit vir my asof ek by ’n witgeskropte kombuistafel sit en my verlustig aan ’n beker boeretroos en ’n blik bederfbeskuit terwyl ek die kok dophou waar dié besig is om smaaklike disse op te tower. Wat is dan nou lekkerder as om ’n vleisgereg te sien verbruin in die oond terwyl die betowerende geure van knoffel en roosmaryn verleidelik in die lug hang? Daar is towerkrag in resepteboeke, glo ek.

Arina du Plessis, die kosredakteur van Landbouweekblad en Landbou Boerekos, se kookboek, Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel, bevat van die heel lekkerste en gewildste resepte wat in Landbouweekblad se kosrubrieke asook die kostydskrif, Landbou Boerekos, verskyn het. Die kookboek beslaan 224 bladsye en bevat 300 maklike en alfabeties ingedeelde resepte wat jy gerus kan beproef.

Chris Burgess, die redakteur van Landbouweekblad, skryf dat Arina met hierdie besondere kookboek gepoog het “om nie net bloot oor kos te skryf nie, maar om eerder die geliefde geure en bestanddele van ons kinderdae te herinterpreteer, ’n nuwe baadjie aan te trek, en so ’n nuwe, dog bekende, generasie geregte deurlopend op te tower. Geregte wat hul plek met trots kan inneem langs ou geliefdes, soos vetkoek, groenboontjiebredie en oondgebraaide skaapboud.” Hy spog verder: “Vir hierdie boek het Arina die beste resepte uit ons Boerekos-tydskrifte gekies. Daardie treffers waarvan ons lesers nie genoeg kon kry nie, gemaak met plaasvars produkte in ons Boerekos-toetskombuis. Van die plaas na jou tafel – geniet dit!”

Arina voel só oor die boerekostradisie: “Die woord ‘boerekos’ beteken baie dinge vir baie mense. Dis die term vir van ons tradisionele erfkos, soos bobotie, melktert, skuinskoek en waterblommetjiebredie, ja. Dis ook die term vir kos wat mense destyds gemaak het met dit wat op hul lande gewei en in hul akkers gegroei het. Die kos wat jy maak met dit wat jy tot jou beskikking het. Met plaasprodukte. Eenvoudige, goeie kos sonder tierlantyntjies.” Sy voel ook baie sterk daaroor dat daar ’n stewige band tussen kosproduseerders en kosliefhebbers behoort te bestaan. “Dit is danksy boere en plaaswerkers dat elkeen van ons daagliks by ’n winkel kan instap en die kos wat ons wil hê van die rakke kan afhaal.”

Die liplekker resepte is ingedeel volgens voedsame plaasprodukte – van aarbeie tot wortels. Die alledaagse, gesonde bestanddele behoort maklik verkrygbaar te wees. Daar word ook meer informasie oor die verskillende produkte gegee sowel as moets en moenies en plantwenke.

Hier volg ’n lys van sommige van die produkte in die register – ek gee ook twee voorbeelde van lekker resepte soos in die boek vervat:

Aspersies: spek-en-aspersie-souttert

Beesvleis: beesskenkelsop met bone en olywe

Beet: soet beetpiekel

Dadels: dadelbroodjie

Druiwe: druiwe-en-bloukaasslaai

Eiers: eiersmeer

Groenbone: kerrieboontjieslaai

Hoender: liplekker kerriehoender

Kersies: kersieblatjang

Kruie: vinnige kruie-en-kaaspanskons

Lamsvleis: klewerige skaapribbetjies

Pampoen: broodpampoen

Sampioene: korslose souttert

Tamaties: geroosterde tamatiesop met chorizo

Uie: bros uieringe

Varkvleis: lensiesop met varkworsies

Wildsvleis: blitsige wildspastei met oorgooikoors

Ek het die smullekker skaapvleispastei op bladsy 122 (’n foto van die dis verskyn op die voorblad) vir my gesin voorberei. My huismense was gaande daaroor.

Meer oor die skrywer

Arina du Plessis het op ’n familievrugteplaas in die Ceres-distrik grootgeword. Sy is deeglik vertroud met ’n bedrywige plaaskombuis en plattelandse kostradisies, én sy weet hoe die landboubedryf funksioneer. Haar liefde vir die plaas en sy mense wys in die versameling maaltye in hierdie spogboek wat die lieflike geure en smake van gister vasvang.

Landbou Boerekos – van die plaas na die tafel is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar. Dit is “ideaal vir boerekosliefhebbers, haastige kokke, werkende ouers en bedrywige huisvroue”.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui