Lae bloedsuurstof in Covid-19
Met al die inligting wat die rondte doen oor Covid-19, hoor of lees mens van tyd tot tyd dat pasiënte te min suurstof in hulle bloed het. Die term “hipoksemie” word ook hiervoor gebruik. Buiten by wyse van ‘n bloedtoets kan die persentasie suurstof in die bloed ook gemeet word met ‘n oksimeter, wat gewoonlik aan ‘n vinger vasgeklem word. ‘n Lesing van meer as 95% word as normaal beskou en wanneer dit onder 90% daal is dit te laag. Die persoon kan begin simptome van kortasemheid en verwardheid ontwikkel en as die suurstof in die bloed verder daal tot in die lae 80’s, kan organe begin skade kry en kan dit lewensbedreigend word. Die lae bloedsuurstof word behandel met suurstof wat toegedien word met neuskannules of maskers. Indien die waardes dan nog nie na wense verbeter nie, word meganiese ventilasie sonder, of uiteindelik met behulp van ‘n keelbuis toegepas.
Maar daar is ‘n vangplek by party Covidpasiënte! ‘n Redelike persentasie van hulle toon “stil hipoksemie” of happy hypoxemia. Dit is waar die persoon geen kortasemheid ervaar nie, selfs wanneer die suurstofvlakke al baie laag gedaal het en die dokter figuurlik-gesproke al gereed staan om die pasiënt te intubeer om sodoende die suurstofvlakke te verbeter. Hierdie persone mag alreeds vir ‘n paar dae ander simptome getoon het wat nie behandeling of doktersaandag vereis het nie. Wanneer hulle dan wél sieker begin voel met moegheid of kortasemheid, is hulle eintlik al baie ernstiger siek as wat hulle besef. Die situasie kan natuurlik ook voordoen wanneer ‘n mens juis uitstel om hospitaal toe te gaan as gevolg van die vrees vir of kennis van die moontlike gevolge van hospitalisasie in die huidige omstandighede.
Covid-19 is primêr ‘n longsiekte en die skade wat die virus in die longsakkies veroorsaak, lei daartoe dat die deurgang van suurstof deur die wande van die sakkies na die bloedvate afneem. Aanvanklik kan die longe nog daarvoor kompenseer, maar die toestand kan vinnig agteruitgaan as gevolg van die inflammasiereaksie en verhoogde bloedstollingsneiging wat by die siekte gevind word. Suurstofvlakke kan verder daal en skade in ander organe soos die hart, lewer, niere en brein veroorsaak, met gepaardgaande orgaanfaling. Dit is waarskynlik een van die redes waarom jonger mense met gesonde organe, die laer suurstofvlakke beter kan hanteer as mense wat alreeds ‘n mate van orgaanskade as gevolg van ouderdom of chroniese siektes het. Hoe vroeër ‘n verlaging in bloedsuurstof waargeneem word en met suurstofterapie ondervang word, hoe beter is die vooruitsig om die siekteproses te verkort of om te draai. Goeie monitering van die pasiënt met bloedtoetse is egter ook nodig.
Hoekom ervaar sommige mense nie kortasemheid nie? Daar word verskillende verklarings hiervoor aan die hand gedoen, byvoorbeeld dat die oksimeters “oorsensitief” en dus minder akkuraat by laer waardes is, of dat die brein nie die suurstoftekort registreer nie omdat die koolsuurgasvlakke nie aanvanklik styg soos by meeste ander oorsake van lae bloedsuurstofkonsentrasie, soos asma of emfiseem nie. Ouer mense en mense met diabetes mag andersinds ook afgestompte reaksie van hul asemhalingsbeheer hê en skynbaar word dit aanvaar dat effens laer lesingwaardes by ouer mense ook as normaal beskou kan word.
Die kern van hierdie skrywe is daarop gemik om die leser daarvan bewus te maak dat die skade wat Covid-aanrig nie noodwendig korreleer met die erns van die aanvanklike simptome nie. Dit is egter nie daarop gemik om paniek of onnodige bekommernis te veroorsaak nie, maar eerder ‘n oproep tot voorbereiding vir ‘n gebeurlikheid. Siende dat ons ook ingelig word dat Covid hier is om te bly, dink ek nie dit is onnodige voorsorg nie.
Eerstens sou dit wys wees om vooraf te bepaal waar mens toegang tot ‘n oksimeter kan kry sou dit nodig wees, hetsy deur die huisdokter, apteek, familie of vriende in u gemeenskap. Ekself het een aangeskaf teen ‘n billike prys by Berien*, wat eintlik spesialiseer in CPAP- en BiPAPmasjiene, maar nou ook suurstofkonsentreerders en oksimeters verskaf. Wanneer is ‘n oksimeter nodig? Enige persoon wat weet dat hulle in kontak was met ‘n Covid-19-pasiënt, behoort vir 2 weke lank daagliks met ‘n oksimeter getoets te word. Ook as daar enige simptome van hoes, moegheid en koors is, sonder dat mens bewus is van blootstelling aan die siekte of selfs as jy negatief getoets het.
Tweedens sou mens die saak vooraf met die huisdokter en familie bespreek ten einde op ‘n plan van aksie te besluit indien iemand se bloedsuurstofvlakke wel sou begin daal. Elkeen se situasie is verskillend en moet dus individueel ge-evalueer word sodat besluite daarby aangepas kan word. In ‘n Rubriek in Maroelamedia van 4 Augustus 2020 deel ‘n seun hul familie se ervaring met ‘n bejaarde ouer wat gediagnoseer is met Covid-19. Daar is baie uit te leer… sonder om te suggereer dat die besluite in alle gevalle dieselfde moet wees!
Sterkte vir u besluite!
Erkennings:
- https://www.medicalnewstoday.com/articles/covid-19-how-do-we-explain-happy-hypoxemia
- https://edition.cnn.com/2020/05/06/health/happy-hypoxia-pulse-oximeter-trnd-wellness/index.html
- https://www.health.com/condition/infectious-diseases/coronavirus/silent-hypoxia
- https://www.atsjournals.org/doi/10.1164/rccm.202006-2157CP
Ek wil graag hierdie suursstof toets masjientjie bestel. Kan u my asb die prys voorsien.KragDagVermelding
Prys van suurstof toetsmasjientjie assenlief
Kan u asb vir my van ñ prys voorsien op oksiemeter asook Pols Bloedrukmeter.Kragdagvermelding.
Kan ek asb n prys kry op die oxymeter. Krag dag vermelding
Ek wil graag ‘n prys op die oxymeter hê asb. Kragdagvermelding.
kan ons miskien ook n pryslys kry van die oxymeter bloeddruk masjien en suurstof silindersasb. Kragdagvermelding
Berien CPAP Produkte en Dienste is ‘n Kragdag-uitstaller.
Inligting oor reeks van produkte met pryse is beskikbaar by ons webwinkel. Die Afrikaanse deel is by
https://berien.co.za/af/shop
Watse kosse help om jou suurstof vlakke op te kry as dit laag is
Kan ek asb n prys kry op die oxymeter. Krag dag vermelding
Goeiedag Ida
Ek vra om verskoning vir die laat antwoord. Dit is egter ‘n baie omvattende onderwerp en ek heg ‘n paar skakels aan. Onthou net dat enige van hierdie toestande ter sprake behoorlik gediagnoseer moet word deur ‘n dokter en behandeling bespreek moet word voor mens ‘n koers inslaan.
By akute lae bloedsuurstof soos by Covid en erge longontsteking speel spesifieke kosse nie eintlik ‘n rol nie. Genoeg vloeistof is egter belangrik en die vorm waarin voeding ingeneem word. Die aksie van kou kan uitputtend wees vir so ‘n persoon en om energie te bespaar sou mens aanbeveel dat voedsame soppe, ‘smoothies’ en ander maaltydvervangende drankies wat deur dieetkundiges goedgekeur word, ingeneem word, of baie sagte kosse.
By chroniese lae bloedsuurstofkonsentrasie sou mens moet kyk na die oorsaak en ‘n dieet volg wat dit help aanspreek indien moontlik. Sulke oorsake kan bv. erge bloedarmoede (anemie), longtoestande of hartsiektes wees.
Ek noem net 2 algemene oorsake van bloedarmoede. By ystertekortanemie sal mens bv. kyk na rooivleis, pluimvee, lewer, groen blaargroentes, bone en seekos. Onthou dat mens ook vitamien C nodig het om yster te absorbeer en dat die drink van tee die opname van yster kan onderdruk.
https://af.approby.com/voedsel-vir-die-behandeling-van-ystertekort-anemie-en-newe-effekte/
https://dmylogi.ru/gesondheid/19779-hoe-om-meer-yster-te-eet.html
Nog ‘n oorsaak van bloedarmoede kan Vitamien B12-tekort wees en weereens is vleis, lewer, vis, kaas en eiers goeie bronne.
https://kedlaguru.bid/vrae/8983-top-10-vitamien-b12-voedsel.html
https://www.webmd.com/a-to-z-guides/vitamin-b12-deficiency-anemia
Vir ander chroniese toestande word anti-oksidantryke voedsels aanbeveel soos beet, soetrissie, borrie, tamatieprodukte, bloubessies en rooikool en ook kosse wat veronderstel is om bloedsirkulasie te verbeter soos cayenne-peper, knoffel, gemmer, donker sjokolade, vetterige vis en okkerneute. Maar onthou die mediese behandeling is eerste prioriteit en bespreek dieet met ‘n professionele persoon.
https://www.healthline.com/nutrition/lung-cleansing-foods#7.-Blueberries
https://www.rxlist.com/foods_help_circulation_dvt_deep_vein_thrombosis/article.htm
Ek hoop dit gee vir jou ‘n aanduiding!
Hello
Ek het asma. My suurstof lesing bly so rondom 80
Ek is op foxair.
Wat kan nog help