Jy dink jy het dalk Covid-19 … wat om te verwag as jy jou wil laat toets.

JY het simptome ontwikkel wat jou laat dink jy mag dalk Covid-19 onder lede hê. Toe het jy jou dokter of die Covid-19 hulplyn geskakel en die raad gekry om jou by die naaste patologielaboratorium of hospitaal te laat toets. Wat nou? 

‘n Goeie idee sou wees om die betrokke instansie wat jou moet toets te bel en inligting te kry oor hulle reëlings en waar jy moet aanmeld. Dié mense moet optree volgens riglyne wat op die NICD-webwerf uiteengesit is en wat hulle hantering bepaal van my en jou wanneer ons kontak maak. Hierdie is ‘n poging om ons voor te berei vir wat ons daarvolgens te wagte kan wees. 

Eerstens moet hulle so gou moontlik vasstel of jy ‘n moontlike geval van Covid-19 kan wees. 

Dit sal waarskynlik gebeur deur spesifieke vrae te stel, verkieslik met behulp van ‘n vraelys. Enige persoon met akute boonste lugwegsimptome en koors wat nie duidelik aan ‘n ander oorsaak toegeskryf kan word nie, sal as ‘n moontlike kandidaat beskou word. Indien die persoon gedurende die 14 dae voor die simptome begin het, in kontak was met ‘n moontlike of bevestigde geval van Covid-19 hoef daar net boonste lugwegsimptome of koors te wees om jou ‘n moontlike geval te maak. Dieselfde geld as jy gedurende daardie tydperk besoek afgelê of gewerk het by ‘n fasiliteit waar pasiënte met SARS-CoV-2-infeksie behandel word.

Indien so ‘n kandidaat aanmeld moet hy of sy dadelik van ‘n sjirurgiese masker voorsien word en na ‘n aparte vertrek gelei word, of moet ‘n 1-2 meter afstand van ander pasiënte handhaaf word, afhangend van die instansie se fasiliteite. Hulle moet aangesê word om die nodige bedekking van mond of neus te doen met hoes of nies en dan moet seep of handreiniger beskikbaar wees vir die nodige handhigiëne. Die pasiënte moet so min as moontlik rondbeweeg, verkieslik mobiele X-strale kry waar moontlik en ook ‘n aparte badkamer tot hul beskikking hê. Hulle moet so gou as moontlik deur die evaluasieproses gaan.

Deppers van die neus- en keelholte moet geneem word, asook slymmonsters as dit beskikbaar is, maar hoes moet nie geïnduseer word as die pasiënte nie vanself hoes nie. Wanneer die monsters geneem word, moet die gesondheidswerkers die nodige beskermende klere en toerusting gebruik.

Afhangend van die spesifieke simptome en geskiedenis van die pasiënt mag ander ondersoeke ook nodig wees, soos bloed- en urienmonsters en X-strale. Daar mag dan ook besluit word om solank met behandeling van ander moontlike toestande te begin, solank daar gewag word vir die uitslae van die toetse.

Mag ek by die huis vir die uitslae wag?

Jy sal geëvalueer word en aan sekere vereistes moet voldoen om toegelaat te word om huis toe te gaan, anders word jy opgeneem. Mense wat medies gesond of lig aangetas is, moet die volgende toon:  bloedsuurstof meer as 94%,  polsspoed minder as 120 slae/min,  asemhalingtempo minder as 25/min,  temperatuur 36 -39 °C en by hul volle positiewe wees (aanpassings word vir kinders onder 12 jaar gemaak).

Sulke pasiënte mag tuis gaan self-isoleer en wag vir die uitslae met die nodige advies om oordrag na ander te voorkom. Die volgende advies moet verkieslik skriftelik aan jou voorsien word.

  • Bly in eie kamer en gebruik aparte badkamer indien moontlik. Vermy onnodige reis en kontak met ander mense.
  • Indien kontak onvermydelik is , dra ‘n masker en behou afstand van verkieslik 2 meter van ander mense.
  • Was hande gereeld met seep en water. Handontsmettingsmiddels moet ten minste 70% alkohol bevat.
  • As mens hoes of nies gebruik ’n sneesdoekie en gooi dit dadelik in ‘n gevoeringde asblik  en was hande.
  • Moenie besoekers ontvang nie. Ander huismense mag wel tuis bly. 
  • Indien daar gemeenskaplike vertrekke soos die kombuis of badkamer is, moet getoetsde persone hulle in hul kamer bly met die deur toe en net uitkom as dit absoluut noodsaaklik is en met ‘n masker in posisie.
  • Moenie huishoudelike items soos eetgerei deel nie. Ná gebruik moet dit deeglik met seep en warm water gewas word.
  • Maak alle gebruiksoppervlaktes soos tafels, fone en rekenaars gereeld en toepaslik skoon.
  • Moenie wasgoed na ‘n wassery toe neem nie. Was dit met die warmste water doenbaar vir die materiaal wat gewas word, verkieslik bo 60 °C, en gebruik seep. Tuimeldroog en stryk met yster op warmste gestel vir die tipe materiaal. Gebruik wegdoenbare handskoene en plastiese voorskoot indien moontlik, terwyl vuil wasgoed hanteer word en maak die wasmasjien en nabygeleë oppervlaktes deeglik skoon. Trek handskoene uit en was hande deeglik.
  • Pasiënte moet weet wie om te bel indien hul simptome sou vererger, sodat hulle geherevalueer kan word.

Ek toets positief vir Covid-19! Wat nou?

Eerstens moet jy spoedig geëvalueer word (triage) om te sien hoe ernstig jy aangetas is, met ander woorde of jy tuis kan bly of opgeneem moet word vir mediese redes. Jou huisdokter sal dit tot ‘n mate telefonies kan doen, maar as daar enige twyfel bestaan sal jy waarskynlik na ‘n hospitaal verwys word vir ‘n fisiese onderoek. Dit moet so spoedig as moontlik gedoen word sodat matige tot kritieke gevalle vroeg geïdentifiseer en toepaslik opgeneem kan word vir ondersteunende behandeling en infeksiebeheer. Tweedens moet die oordrag van die siekte van jou na ongeïnfekteerde persone hokgeslaan word, dus moet jou kontakte opgespoor en getoets word en seker gemaak word dat jy  goeie hoeshigiëne en infeksiebeheer tuis kan toepas, anders word jy in een van die kwarantynfasiliteiete opgeneem.

Pasiënte met ligte siekte mag oorweeg word vir tuisbehandeling, onderhewig aan die voorwaardes dat hulle veilig kan self-isoleer en nie risikogevalle is om ernstig siek te word nie. Dit beteken die volgende:

Kriteria vir tuisbehandeling:

  • Ligte siekte – Bloedsuurstof konsentrasie meer as 94%, asemhalingstempo minder as 25/minuut, polsspoed minder as 120/minuut, temperatuur 36 – 39°C en by volle positiewe. (Vir ouderdomme 5 – 12 jaar moet asemhalingstempo minder as 30/minuut en polsspoed minder as 130/minuut wees.)
  • In staat om veilig te self-isoleer – Daar moet ‘n aparte slaapkamer vir die pasiënt beskikbaar wees en hy of sy moet instaat wees om die gesondheidsinstansie te kontak en daarheen terug te keer indien die toestand sou agteruitgaan.
  • Nie hoë risiko vir agteruitgang nie – jonger as 65 jaar, geen ernstige meegaande hart- of longprobleme of ander verswakkende toestande soos kanker hê nie.

In geval van pasiënte wat tuis hanteer word, is dit krities dat aan al die infeksiebeheermaatreëls, soos uiteengesit in die vorige gedeelte, voldoen moet word om verspreiding van die virus na kontakte te voorkom.

Dit is belangrik om te onthou dat 10 – 15% van pasiënte met ligte siekte binne 1 week of langer kan oorgaan in ‘n ernstige siekte. Tuisbehandelde pasiënte moet die kontakbesonderhede van hul dokter of hospitaal kry sodat hulle self kan uitreik indien hul toestand vererger.

As ek moet opgeneem word vir Covid-19. Wat moet ek verwag? 

  1. Suurstofterapie vir pasiënte met ‘n lae suurstofkonsentrasie in die bloed. Suurstof kan toegedien word met neuskannula, gewone masker of met ‘n masker met ‘n reservoirsak. 
  2. Moontlike vogtoediening deur middel van ‘n infuus.  
  3. Antibiotika as daar moontlik ‘n bykomende infeksie is.
  4. Pynbeheer.
  5. Streng monitering veral van pasiënte met asemhalingsprobleme  vir enige teken van agteruitgang. Dit beteken waarskynlik ook gereelde bloedtoetse.
  6. Streng infeksiebeheermaatreëls. (Waarskynlik geen besoekers)
  7. Ander medikasies?
  • Roetine kortikosteroïede word nie aanbeveel nie tensy dit vir ‘n ander toestand nodig is. 
  • Geen spesifieke behandeling word tans vir Covid-19 aanbeveel nie. Daar is verskeie middels wat deel vorm van kliniese proewe en dit word aanbeveel dat hierdie middels slegs aan gehospitaliseerde pasiënte gegee word.  
  • Daar is geen bewys dat enige medikasie of immunisasie Covid-19 voorkom nie.
  • Daar is geen bewys dat ‘n sekere groep bloeddrukmedikasies of anti-inflammatoriese middels gestaak moet word, indien ‘n pasiënt dit reeds voor Covid-19 moes gebruik nie.

As suurstof met ‘n masker nie genoeg is nie dws steeds Hipoksemie!

Hipoksemie (Bloedsuurstoflesing van minder as 90% op ‘n oksimeter of minder as 60mmHg met bloedgasbepaling) en vermeerderde asemhalingspogings al word suurstof toegedien met ‘n masker, dui daarop dat die pasiënt waarskynlik meganiese ventilasie benodig. Tans is intubasieventilasie met longbeskermende voorsorgmaatreëls mees algemeen die volgende stap.

Hoëvloei suurstof deur neuskannule (HFNO) en nie-indringende ventilasie (NIV) met ‘n CPAP of BIPAP-masjien mag net in geselekteerde pasiënte gebruik word, indien hulle goed gemonitor kan word vir agteruitgang en spesifieke voorsorg getref kan word teen verspreiding van die virus in klein lugpartikels. 

Kriteria vir isolasie-opheffing of ontslag.

Mense wat tuis isoleer het omdat hulle positief getoets het maar sonder simptome, moet in isolasie bly vir 14 dae nadat hulle positief getoets het. In geval van ligte siekte kan die pasiënt uit isolasie kom 14 dae ná aanvang van simptome, maar in geval van ernstige siekte (dus gehospitaliseer) 14 dae nadat pasiënt nie meer suurstofaanvulling nodig gehad het nie en klinies stabiel is.

Ons hoop nie een van die lesers het nodig om hierdie inligting te gebruik nie!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui