’n Veearts met ’n hart vir ietermagogge

Dokter Karin Lourens het in 2002 as veearts gekwalifiseer by Onderstepoort, TUKS.  In 2017 open sy saam met me. Nicci Wright, ’n deurwinterde wildlewe-rehabilitasie-spesialis, die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital, ’n ten volle geregistreerde veterinêre hospitaal en wildlewe rehabilitasiesentrum wat oor al die nodige permitte beskik. Dr. Lourens het in 2017 ook begin met navorsing vir haar meestersgraad. Die titel: Reference intervals for selected haematological and clinical biochemistry measurands in Temminck’s ground pangolin (Smutsia temminckii). Dit handel oor die bloedwaardes van ietermagogge. Dit was belangrik dat sy eers moes vasstel wat die normale bloedwaardes is voordat sy siek diere kon behandel. Sy het 83% vir haar navorsingstudie gekry. Haar sukseskoers met die  behandeling van ietermagogge het sedertdien van 50% tot 80% gegroei. Sy hoop om volgende jaar haar doktorsgraad te verwerf.

Dr. Lourens is geskei en het twee kinders. Isak (9) en Sofia (5) verstaan dat hulle ma lang en snaakse ure moet werk om diere gesond te dokter. Klein Sofia stel veral belang in wat haar ma doen. Dié het immers al meer as 200 inheemse spesies behandel, en een van hulle is Temminck se ietermagog of te wel die grond-ietermagog – die enigste ietermagog wat in Suid-Afrika voorkom (daar is agt soorte wêreldwyd waarvan vier soorte in Afrika aangetref word). Sy en me. Wright het al meer as 90 ietermagogge by die hospitaal behandel. Sodra ’n ietermagog volkome herstel het, word die dier weer vrygelaat met behulp van die African Pangolin Working Group, ’n organisasie wat hulle beywer om Afrika se ietermagog spesies en hulle habitatte te bewaar. Elke ietermagog word vir ’n jaar lank ná vrylating per satelliet-opsporing gevolg. Lees gerus hierdie briljante artikel deur Claire Trickett wat meer oor dr. Lourens en me. Wright se werk met die ietermagogge vertel.

Wêreld-Ietermagogdag

Die negende Wêreld-Ietermagogdag is op Saterdag 15 Februarie 2020 gevier. Dr. Lourens en haar span het op dié dag vier ietermagogge behandel. Hierdie soogdiertjies word, vir hulle eie veiligheid, nie by die hospitaal aangehou nie, maar wel by ’n beskermde bewaararea waar hulle kan aansterk. Ietermagogge is immers die mees onwettig gestroopte soogdier op die planeet en verskyn op Cites se Aanhangsel 1. Daar mag glad nie handel gedryf word met hulle nie. Sou jy met een in jou besit betrap word, kan jy jou ’n allemintige boete op die hals haal.

Daar bestaan ’n vermoede onder wetenskaplikes in Guangzhou, China, dat die ietermagog moontlik die 2019-2020 Wuhan koronavirus (COVID-19) na die mens oorgedra het. Die wetenskaplikes se offisiële bevindinge moet egter nog gepubliseer word. Gaan lees gerus hier meer daaroor. Kyk ook hierdie video oor die bekommernis wat daar tans heers dat mense ietermagogge voor die voet sal doodmaak net omdat hulle bang is dat hul dalk die gevreesde virus kan opdoen.

Mamelodi

Dr. Lourens onthou steeds die heel eerste ietermagog wat sy behandel het. Sy het hom Mamelodi gedoop omdat hy tydens ’n polisie deursoekingsoperasie in Mamelodi gekonfiskeer is. Destyds het dr. Lourens nog self nie mooi geweet hoe om die geweldige skaam en skadelose nagdier vas te hou of selfs te behandel nie. Sy het mettertyd behandeling-protokols daargestel waarby hulle hou. Volgens haar maak ietermagogge geen geluide nie en wil hulle net miere en termiete eet. Hulle vertoef meestal ondergrond en kom snags uit om te eet. Hulle skubbe is verskriklik hard en nie eens ’n volwasse leeu kan daardeur byt nie. Ietermagogge het nie tande nie en hulle enigste verweer is om hul liggame op te rol in ’n bondeltjie.

Die mens is die ietermagog se grootste vyand. Stropers kan die opgerolde bondeltjies maklik optel en in ’n sak druk – dit is natuurlik vreeslik traumaties vir dié diere. Hulle skubbe word gemaal en word verkeerdelik beskou as medisinaal van aard. Sommige kulture eet die vleis van ietermagogge, veral die fetusse word as ’n fynproewersgereg beskou wat viriliteit aanhelp – natuurlik is dit, nes in die geval van renosterhorings, ’n absolute bogstorie en is daar géén wetenskaplike bewyse daarvoor dat dié sogenaamde tradisionele medisyne hoegenaamd werk nie. Daar is ’n geweldige groot aanvraag vanuit China en Viëtnam vir ietermagogge vanuit Afrika omdat die spesies in Asië so te sê uitgewis is. Die vredeliewende diere word dus onnodig gestroop en teen astronomiese bedrae verkwansel. Indien hierdie onwettige aktiwiteite aanhou, sal die ietermagog binnekort uitsterf. Dit is nie bekend hoeveel ietermagogge nog in Suid-Afrika oor is nie omdat dit moeilik is om hulle te tel. Hulle natuurlike habitat word ook al meer bedreig namate die beskawing groei. Elektriese heinings skok ietermagogge ook gereeld dood of beseer hulle.

Die grond-ietermagog se dragtige tydperk is 139 dae. Die wyfie gee lewendig geboorte aan een kleintjie wat vir nagenoeg twee jaar lank by haar bly voordat dié seksuele wasdom bereik en na ’n paringsmaat sal soek.

Beide dr. Lourens en me. Wright het as skrywers bydrae gelewer tot die boek Pangolins Science, Society and Conservation Biodiversity of World: Conservation from Genes to Landscapes. Volgens dr. Lourens is dit die eerste publikasie van sy soort en sluit dit alles in wat n mens van ietermagogge wil weet.

Dr. Lourens se passie en liefde vir ietermagogge is nie te betwyfel nie. Sy kweek graag bewustheid oor dié unieke diere en gaan ook op 7 Julie ’n spreker wees by The Vet Expo Africa 2020 waar sy spesifiek gaan praat oor die behandeling, rehabilitasie en weer uiteindelike vrylating van ietermagogge in Suid-Afrika. Ondersteun haar en ander wat bewusmaking kweek oor die lot van ietermagogge gerus.

Hoe jý die ietermagog kan help beskerm

Gaan lees gerus hier meer oor ietermagogge en ondersteun die verskillende projekte:

Gaan kyk ook hier na ’n uitstekende video oor ietermagogge:

https://youtu.be/xcnBane3z8Q

Skakel gerus die nommer hier onder indien jy ’n ietermagog in nood sien. Die hulplyn word deur vrywilligers beman. Volg ook die skakels om meer oor dié wonderlike inisiatiewe te wete te kom.

Bronne:

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui