Môre skyn die son weer
Dit is opmerklik hoe baie mense deesdae sukkel om ’n positiewe ingesteldheid te handhaaf. Dit is asof ons gedurig veranderende wêreld heeltemal té vinnig alles wat bekend is onder ons voete wegkalwe. Dit voel of ons in dryfsand of ’n snel vloeiende stroom beland het en daar is net geen uitkomkans nie. Dinge spiraal buite beheer.
Ons is ’n vuisvoosnasie wat sekerlik almal in ’n mindere of meerdere mate aan ’n vorm van posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ly weens die geweldige hoë vlakke van misdaad in die land. Ons bekommer ons onder meer ook oor die politieke, ekonomiese, sosiale en ekologiese toestande hier en elders. Net om ’n koerant te lees of na ’n nuusflits te luister is genoeg om angsvlakke die hoogte te laat inskiet! Wanneer, waar en hoe gaan hierdie wegholtrein waarop ons die passasiers is dan finaal ontspoor? Boonop lyk dit of die persone wat hierdie wegholtrein moontlik nog kan keer, doodeenvoudig net nie die wil of dryfkrag het om dit te doen nie. Hulle omarm blykbaar die hersinskim dat alles maar net vanself spiekeries sal uitdraai.
Hoe het ons lewens nie verander nie! Ons leef agter slotte en grendels, hoë mure, lemmetjiesdraad en geëlektrifiseerde heinings. Snags is ons bewus van elke geluid, want misdadigers skroom nie om ons in ons privaat heiligdomme aan te val nie. Hoeveel slagoffers sterf nie in hulle beddens aan die hand van kriminele nie?! Orals waar ons beweeg – of ons nou per motor reis, by die werk is of by die naaste inkopiesentrum indraf om gou iets te koop – die wete dat ons in ’n geweldadige samelewing woon waar ongelykheid hoogty vier omdat die geleenthede wat daar was om die ongelykheid aan te spreek, nooit na behore aangegryp is nie, maak ons terdeë bewus daarvan dat ons enige tyd, enige plek ook deel van die misdaadstatistiek kan word.
Die hele debakel rondom Covid-19 en alles wat daarmee gepaard gaan, het natuurlik ekstra spanning op ons almal kom aflaai. Daarby saam was die lang afsonderingstydperk vir baie van ons baie uitdagend en emosioneel ontwrigtend. Van ons staan gedurende hierdie tydperk geliefdes aan die dood af as gevolg van die siekte. Die feit dat hulle, weens die streng regulasies, alleen sterf en ons nie by hulle mag wees nie, is besonder traumaties. Dan het van ons ons besighede, werke of groot dele van ons inkomstes verloor. Sommiges van ons het so saam met die afleggings by ons werk ook letterlik die dak oor ons koppe verloor. En steeds is het einde niet, want selfs al sou die virus van die aardbol af verdwyn, moet ons en ons kinders nog met die nagevolge daarmee saamleef. Ons staar inderdaad ’n baie onseker toekoms in die gesig.
Hoe bly ek positief en hoopvol?
Hoe takel jy elke liewe dag met die wete dat bogenoemde probleme nie maar net een oggend iets van die verlede gaan wees nie? Hoe verseker jy dat jy en jou geliefdes aanpasbaar bly en wel lewensvreugde put uit die één lewe wat elkeen van ons gekry het? Deur elke dag opnuut jouself daaraan te herinner dat jy, in die woorde van William Ernest Henley se inspirerende gedig, Invictus, jouself wel in ’n skynbaar hooplose situasie kan motiveer met die volgende: “I am the master of my fate, I am the captain of my soul.” Gaan lees gerus die analise van dié besondere gedig hier.
Neem bewustelik beheer van jou lewe soos dit tans is. Begin nuut en van voor af, sonder om jouself of jou omstandighede voortdurend te meet aan wat wás. Besluit dat niks en niemand jou sal onderkry nie. Dat wat ook al nou in jou lewe gebeur, net tydelik van aard is. Dit sal ook weer verbygaan. Oordink dít wat werklik vir jou belangrik is en waaroor jy wel beheer het. Jy kan dalk nie van die wêreld ’n beter plek maak nie, maar jy kan wel ’n verskil maak aan één ander persoon se lewe. Dalk nie finansieel nie, maar miskien deur iemand te mentor en ’n vaardigheid te leer wat jy onder die knie het. Selfs deur net ’n opregte glimlag op jou gesig te hê, kan reeds die wêreld se verskil aan iemand anders se dag maak. Wees goed vir jouself en sien na jouself om, maar fokus ook jou tyd en energie daarop om vir iemand anders iets te beteken. Dit sal jou herinner dat jou lewe van waarde is en dat daar wel vir jou ’n plekkie in die son is.
Moenie jou laat onderkry nie! Maak die beste van wat jy het. Doen wat jou hand en jou hart vind om te doen. Put vreugde uit die oënskynlik klein dingetjies in die lewe. My man is van nature ’n positiewe mens. Onlangs vra ek hom toe hoe hy dit regkry om altyd die beste in elke situasie te sien. Sy antwoord: “Ek gaan maak ’n draai in die tuin. Daar is altyd iets wat my oog vang – ’n miskruier wat ’n bolletjie mis groter as hyself rol of ’n miertjie wat ’n insek baie groter as hyself voortsleep. Vandag het ek ’n sprinkaan gesien wat onderaan ’n grashalm hang. Ek het toe net daar gehurk en met die sprinkaan gesels. Hy was in sy wêreld en ek in myne. Ons het mekaar nie gepla nie. ’n Spinnekop of ’n voël kon hom enige tyd opraap, maar vir daardie oomblik was alles reg in ons wêrelde. En dit was genoeg.”
Ons lees ook in die Bybel: “’n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput” (Spr. 17:22; AFR83). Lag ’n bietjie. Maak ’n punt daarvan om elke dag iets humoristies in elke situasie te sien. Jy sal verbaas wees hoe vinnig ’n mens leer om vir jouself te lag en hoeveel beter ’n heerlike skaterlag jou laat voel.