Boekresensie: Die trekos en trektoerusting in Suid-Afrika
Titel: Die trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: ’n historiese perspektief
Outeur: C. Marius Oosthuysen
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1127-0 (gedrukte boek)
Die outeur, C. Marius Oosthuysen skryf heel agter in dié besonderse boek, wat ’n uitgebreide oorsig van die benutting van die trekos en sy trektoerusting in Suid-Afrika bied, die volgende: “Mag die inhoud van hierdie werk daartoe bydra dat die leser dit sal ervaar as: ‘Hulde aan die trekos’. En wat ’n ongelooflike blik bied hierdie werk nie op “die os en sy toerusting […] as kultuurhistoriese entiteit” (p. 5) nie! Dit lewer inderdaad ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse kultuurhistoriese boekeskat.
Dié historiese perspektief, ’n verwerkte weergawe van ’n verhandeling, het bygedra daartoe dat ’n Magistersgraad in Geskiedenis in 2017 met lof aan die outeur toegeken is deur die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Die navorsingsvraag het gelui: “Hoe het die benutting van die trekos as kragbron histories in Suid-Afrika ontwikkel, en watter bydrae het dit tot die algemene aktiwiteite in die samelewing gelewer?”
Die uitgewersbrief stel die boek só bekend: “Vir die eerste keer word die benutting en ontwikkeling van die os en die gepaardgaande trektoerusting, met spesifieke verwysing na die trekos as kragbron, in die ontwikkelingsgeskiedenis van Suid-Afrika deeglik bekyk.”
Alhoewel ek baie lief is vir geskiedenis, het ek nogal gewonder hoeveel ’n mens nou eintlik oor die nederige os kan sê. Tot my grootste verbasing (en verrassing!) het hierdie uitmuntende werk deur Oosthuysen my oë geopen vir die rol wat makgemaakte osse in ons land se ontwikkelingsgeskiedenis gespeel het. Dis geen wonder dat dié werkdiere hier bo as ’n kragbron beskryf word nie! Trekosse verdien inderdaad die hulde wat met dié skrywe aan hulle gebring word. Ek het veral die bylae oor trekosname vanuit ’n skrywersoogpunt geniet. Name soos Swaaikwas, Towerman en Waslap het my verbeelding op loop gejaag.
Diegene wat lief is vir die plaaslewe en belangstel in die geskiedenis van landbou in ons land sal Die trekos en trektoerusting in Suid-Afrika: ’n historiese perspektief geweldig interessant vind. As jy soos ek gefassineer word deur die Groot Trek sal jy beslis beïndruk wees met hoe trekosse nie net ossewaens getrek het nie, maar ook ingespan is om die binneland te help ontwikkel. Die boek beslaan agt hoofstukke en twee bylaes. ’n Vlugtige loer na die eindnote en bronnelys bring jou deeglik onder die besef van die magdom navorsing wat in die boek ingegaan het. En wat is ’n blik op die geskiedenis nou sonder kosbare foto’s om toendertyd lewendig te maak?! Ek het veral gehou van die foto (gemerk as figuur 3.1 (daar is 68!) op bladsy 47) waar ’n touleier ’n span osse osse lei wat ’n wa trek.
Die titels van die hoofstukke gee ’n goeie aanduiding van die inhoud daarin vervat. Ek noem slegs drie van die vele subtitels per hoofstuk.
Hoofstuk 1: Inleiding
Hoofstuk 2: Herkoms, verspreiding en benutting (Agtergrond, Fenotipiese kenmerke van beeste as norm vir kultuuruiting en Osse as kragbron in uiteenlopende beskawings)
Hoofstuk 3: Die os as werkdier in Suid-Afrika (Osse en hul benutting in Suider-Afrika voor die vestiging van die VOC, Praktiese meriete van trekosse in Suid-Afrika en Faktore wat die getal trekosse beïnvloed wat vir uiteenlopende take benodig word)
Hoofstuk 4: Profiel van die Suid-Afrikaanse os (Uitkenning en naamgewing van trekbeeste- en osse, Karakter – geaardheid, gedrag en temperament van die trekos en Tegnieke om eienaarskap van beeste aan te dui)
Hoofstuk 5: Die tradisionele Suid-Afrikaanse osdrywer (Die osdrywer se berekening en omskrywing van afstand en spoed, Osdrywerstaal en terminologie van die osdrywer se nering en Die trekos in die Afrikaanse spreekwoordeskat)
Hoofstuk 6: Neweprodukte van die trekos as kultuurkomponente (Proviand, spoorsny en beskerming, Die vel en Vleiswaarde)
Hoofstuk 7: Trekgoed van die Suid-Afrikaanse trekos (Dryftoerusting, Trektoerusting en Roetine van inspan en uitspan)
Hoofstuk 8: Verwerking van velle en die brei van rieme (Die keuse en bereiding van velle vir die sny van rieme, Opsnytegnieke van heel rouvelle tot rieme en Toepaslike afronding van gaargebreide rieme)
Bylaag 1: Sweepstokkultuur
Bylaag 2: Trekosname
Dit is egter nie net die boekstawing van die geskiedenis agter die trekos en trektoerusting wat hierdie boek so besonders maak nie. Dit is die oordrag van vaardighede soos die voorbereiding van velle, die sny van rieme en die knoop van stroppe wat hierdie boek ’n ereplek op die gesin se boekrak laat verdien. Lank leef die os!
Meer oor die skrywer:
Marius Oosthuysen beskik oor die grade B.Sc. en B.Sc. (Hons.) wat hy aan die UOVS behaal het sowel as ’n Meestersgraad in Geskiedenis met onderskeiding van die NWU se Potchefstroomkampus. Dié voltydse boer was voorheen deeltydse konstultant in dieretrekkrag aan die Universiteit van Fort Hare. Hier het hy opleiding gegee in die maak van trektoerusting. Hy is al vir baie jare betrokke by velleverwerking en die maak van rieme en bied ook interaktiewe demonstrasies aan by landbouskoue en -museums en nasionale herdenkings.