Laat jou besigheid vir jou werk
STELSELS is ‘n area in besigheid wat gereeld onderskat word, maar dit is ‘n area wat noodsaaklik is om ‘n besigheid doeltreffend te bestuur.
Stelsels bemagtig personeel op elke vlak van ‘n besigheid. Dit kan ook ‘n besigheid se produktiwiteit en winste dramaties verhoog, en bowenal, laat dit besighede toe om bedryf te word sonder die aktiewe aanwesigheid van die eienaar.
Die ActionCOACH definisie van ‘n besigheid is: ‘n kommersiële, winsgewende onderneming wat sonder sy eienaar werk. Dit fokus op die idee dat die bou van ‘n inkomstestroom wat onafhanklik van ‘n sake-eienaar se betrokkenheid groei, meer effektief en volhoubaar is as die een wat dit nie het nie. Stelsels laat jou toe om jouself uit die besigheid te onttrek, sodat jy verdere groei kan nastreef, ander ondernemings kan aanpak, stokperdjies kan verken, of selfs vakansie kan neem!
Oordrag van Kennis
Wat is sommige van die situasies wat in die pad staan vir die meeste sake-eienaars om goeie stelsels in te stel?
Byna elke besigheidseienaar wie ek ontmoet het, werk oortyd. Dit is omdat hulle besigheid nie werk nie – hulle werk. Hulle gee nie nuwe take aan werknemers nie, omdat hulle te veel noodsaaklike besigheidsinligting vir hulself hou, eerder as om in kennisoordrag te belê. Dit spruit dikwels daaruit dat dit vir hulle moeilik is om te deligeer, asook, as gevolg van ‘n gebrek aan vertroue in ander om vinnig en doeltreffend te werk.
Besigheidsgroei is ook beperk indien ‘n sake-eienaar elke nuwe werknemer persoonlik probeer oplei. Sonder goeie stelsels kan die meeste eienaars nie onthou wat hulle nodig het om nuwe werknemers te leer nie, omdat soveel besigheidspraktyke inherent aan hulle geword het en verduidelikings dus moeilik is om te bewoord. Dit kan daartoe lei dat ongeïnspireerde en ondoeltreffende werknemers heropgelei word, eerder as om tyd te bestee daaraan om nuwe mense te huur en op te lei.
As ‘n sake-eienaar het jy vermoedelik nie ‘n besigheid begin sodat jy ‘n slaaf daarvoor kan word nie. Daar is net soveel wat jy kan byvoeg by jou “te doen” lys voor jou tyd en jou gesondheid opgebruik is.
Vestig stelsels
As jy jouself herken in hierdie voorbeelde, sal jy vir ewig in jou besigheid werk eerder as aan jou besigheid. Die beste manier om dit te oorkom, is om stelsels te vestig en te verdeel om die besigheid te laat groei. Ek noem hierdie “verdeel om te vermenigvuldig”, en om dit reg te kry, vereis stelselmatigheid. Sake-eienaars moet hul aanvanklike besigheidsdoelwitte onthou en moet dan die gaping bepaal tussen hoe hulle wil hê hul besigheid moet lyk en waar dit tans staan. Dit sal ook ‘n besigheid meer aantreklik maak vir potensiële kopers – dit bied ‘n finale produk aan, eerder as ‘n besigheid wat onlosmaaklik met een persoon verbind is.
Bill Gates is ‘n goeie voorbeeld van hierdie beginsel, hy het baie geld verdien met die verkoop van sagteware, maar hy het die rykste man in die wêreld geword deur aandele in sy funksionele, selfonderhoudende besigheid te verkoop.
Dit is belangrik om te identifiseer hoe jou besigheid sou lyk sonder jou teenwoordigheid. Sal die besigheid steeds doeltreffend funksioneer? Sal die stelsels en mense integreer om die kerndoelwitte van die onderneming te bereik? Met die korrekte stelsels in plek, kan dit die werklikheid vir jou besigheid wees.
Die vier belangrikste areas om u besigheid te sistematiseer is:
- Mense- en onderrigstelsels
- Bedryfs- en verspreidingstelsels
- Verbeteringstoetsing en meetstelsels
- IT-stelsels en -tegnologie
Deur die jare het ek baie klein besighede gehelp om hierdie stelsels te ontwerp en te implementeer en die resultate was ongelooflik. Begin deur te identifiseer watter areas om te sistematiseer, begin met die implementering van die stelsels, en jy sal jou besigheid optimaal omskep in ‘n volhoubare en groeiende onderneming. Al wat jy nodig het, is die regte stelsels om jou besigheid te bestuur, en die regte mense om jou stelsels te gebruik.