Klassieke musiek – Ontspannend, opbouend – maar kan jy ‘n lewe daarvan maak?

Vry van staatsondersteuning, is elke klassieke musikant wat in Suid-Afrika en baie ander lande ‘n lewe wil maak, ‘n entrepreneur. Dit bring egter talle uitdagings en daar moet buite die boks gedink word, geleenthede moet self geskep word en jy moet buite jou gemaksone kan werk.


Loïs en Marleen Boshoff

Die Kunste Fabriek musiek-ateljee is gestig deur Loïs en Marleen Boshoff, twee susters, wat hulle hele jonglewe lank tuisonderrig ontvang het en wat as tieners al die nood vir musiekonderwys in hulle gemeenskap gewaar het en begin aanspreek het. In 2020 sal die Kunste Fabriek sy 10de bestaansjaar vier. Hier word klavier-, tjello-, blokfluit- en slagwerklesse aangebied, asook klasse in teorie en musiekgeletterdheid. Studente is uitblinkers op kunstefeeste en konserte, en het vanjaar onder andere vier trofeë by die Pretoria Eisteddfod ingepalm.

’n Hoogtepunt is die jaarlikse Kunste Fabriek Orkes Projek. Dit is ‘n kwartaallange Orkes kursus waaraan kinders van 10 tot 18 jaar kan deelneem. Die toelatingsvereiste is Graad 1 musiek standaard en enige instrument kan deelneem. Daar is geen oudisie nie en musiek word spesiaal vir elke kind se vlak van vaardigheid verwerk. Sedert 2016 het die orkes van 20 tot 45 lede gegroei, ‘n volwaardige Simfonie orkes. Inskrywings vir die 1ste kwartaal projek van 2020 open in Oktober.

Die Kunste Fabriek Orkes Projek bied ook die Orchestra@Eduplex projek aan, wat met dieselfde uitgangspunt funksioneer, maar wel ‘n oudisie het.

Besoek die Kunste Fabriek Orkes Projek Facebook blad vir meer inligting.

Middagete konserte by Sakeliga KragDag 2019

In vandag se gejaagde lewe is daar vir baie mense gewoon nie tyd om die genot van ‘n musiekuitvoering van goeie musiek eerstehands te beleef nie. En as gevolg van baie druk programme by die skool en tuis, vind baie musiekleerlinge en hulle onderwysers tot hulle misnoeë dat die musiek telkens in die oefenkamer bly…  In die koester van verskeidenheid bied die KragDag ekspo ‘n platform waar klassieke musikante hulle musiek na die mense toe kan bring. “So doen ons – musikaal gesproke – ons eie ding en gee ons die publiek die geleentheid om vir ‘n paar uurtjies te ontsnap na die wonderlike wêreld van melodie en harmonie.” sê Loïs.

Tydens die KragDag etensuur konserte sal jy die geleentheid kry om die ware Jakob eerstehands te beleef.  Musikante wat werklik lewendig optree (nie net maak asof hulle sing en speel, terwyl die musiek eintlik afkomstig is van kunstig voorafopgeneemde klankbane nie).  Musikante wat saam musiek maak – unieke musiek, die moeite werd om na te kom luister: strykers, koperblasers en ‘n sang ensemble wat jou asem sal wegslaan …

Kry jou koffie en kom sit langbeen in die son, terwyl uitsoek opkomende en jong professionele musikante jou vermaak met musiek uit die boonste rakke.  En gooi gerus iets in die hoed as hulle musiek aan jou hartsnare kom roer!

KRAGDAG ETENSUUR KONSERTE SAL ELKE EKSPODAG VAN 11:30 TOT 13:30 IN DIE KUIERPLEIN PLAASVIND

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui