Kaskenades tydens beurtkrag

Beurtkrag is ’n noodsaaklike euwel waarmee ons vir lief moet neem. Teen dié tyd wis ons wel dat dit nie help om steen en been te kla en in sak en as te gaan sit elke keer as die donkerte ons oorval nie. Ja, die kragopwekkers brul lustig en die braaivleisvure knetter gesellig soos ons probeer om so normaal as moontlik met ons lewens aan te gaan. Dis nou as jy nie tydens spitstyd vir ure lank vasgevang sit in die verkeer of bekommerd is oor ’n familielid wat afhanklik is van lewensondersteunende apparaat soos asemhalingsmasjiene nie. Boonop is daar maar altyd die gevaar dat opportunistiese boosdoeners op die loer lê wanneer die elektrisiteitstoevoer na ons huise onderbreek word. Beurtkrag veroorsaak onmeetbare skade en lê ons ekonomie lam. ’n Mens kan baie sê en skryf oor al die faktore (en idiote!) wat ons gebring het tot hier, maar dit is nie die doel van hierdie artikel nie. Kom ons kyk eerder na maniere hoe ons die tyd wys kan gebruik, veral oor naweke wanneer jy nie by die werk is nie en die kinders nie by die skool is nie.

Spandeer gehalte gesinstyd saam

Ons lewens draai deesdae om elektriese en elektroniese toestelle. Skuif dít en ander moderne tegnologie eenkant toe. Indien beurtkrag saans vroeërig plaasvind, kan jy soos in die ou dae in die sitkamer vergader saam met jou gesinslede en spookstories of ouplaasstories vertel. Haal die albums uit en hou die familiegeskiedenis lewendig. Reël ’n impromptu huiskonsert, speel bordspeletjies of stomstreke, en kyk wie kan die beste skadufigure teen die muur optower. Maak sommer ’n kermisbed op en hou ’n pajamapartytjie. Lag, gesels en skep herinneringe.

Ontdek die buitelewe

Stedelinge kry nie altyd die kans om die natuur saam met hulle kinders te verken nie. Indien dit veilig is, verken julle tuin op soek na vuurvliegies, paddatjies en krieke. Gesels oor waarom dit belangrik is om nie insekdoders in die tuin te gebruik nie.  Maak jou kinders bewus van hoe naggeluide verskil van daggeluide. Bestudeer die hemelruim vir satelliete of verskietende sterre en wys aan jou kinders die Melkweg en die konstellasies uit. Dis dalk ’n goeie idee om ’n verkyker of teleskoop byderhand te hou. Dit is ook altyd opwindend om saans die liggies van ’n vliegtuig te sien waar dit deur die sterbelaaide hemelruim klief.

Begin ’n nuwe stokperdjie

Stokperdjies is wonderlike maniere om jou tyd bedags én saans konstruktief te gebruik.

  • Leer ’n nuwe taal aan
  • Leer speel ’n musiekinstrument
  • Doen ’n opknappingskursus of twee
  • Skryf of lees ’n boek/gedig/lied
  • Brei of hekel ’n trui of blokkieskombers
  • Leer jou kinders tolletjiebrei
  • Bou ’n legkaart
  • Luister radio (dié wat nog met batterye werk)
  • Knip prentjies uit ou tydskrifte en maak ’n collage
  • Maak ongebakte, outydse lekkergoed en koekies
  • Pak jou kombuiskaste en klerekaste reg
  • Knip papierpoppe uit en maak vir hulle klere
  • Skilder of kleur in
  • Bak pannekoek of jaffels op ’n gasstoof

Raak aktief

Wanneer beurtkrag bedags plaasvind, kan jy dalk reël om saam met jou gesinslede of ’n groepie vriende te gaan stap, draf of fietsry. Of kom by een se huis bymekaar en doen aërobiese oefeninge of lyndanse. Spring trampolien of tou. Speel aksiekrieket, raakrugby, vlugbal of veerpyltjies. Swem en hou watergeweerkompetisies. Woel gerus ook in die tuin en ruil vars groente, vrugte en kruie onder mekaar uit.

Reik uit na ander

  • Besoek ’n ouetehuis en kuier saam met die bejaardes
  • Spandeer tyd saam met minderbevoorregte kinders
  • Pas ’n sorgafhanklike persoon op terwyl dié se versorger ’n tydjie af neem
  • Leer iemand om iets te doen wat jy kan en hy of sy nie kan nie
  • Luister na jou kind se leeswerk
  • Bied jou hulp as ’n vrywilliger aan by die DBV of ’n soortgelyke instansie

Wanneer jy in die verkeer vassit

Stedelinge weet maar te goed hoe frustrerend dit is wanneer die motors vir kilometers ophoop en jy weet dat jy noodgedwonge ’n uur of twee later as gewoonlik by die huis gaan kom. Oudioboeke, of luisterboeke, is die nuwe inding. Luister na ’n opname van die voorlesing van jou gunstelingskrywer se nuutste boek. Jy kan selfs na potgooie en motiveringspraatjies luister of dalk ’n oudiokursus doen.

Koop die tyd uit

Moenie net die tyd sit en omwens nie – verlore tyd kan immers nooit weer ingehaal word nie. Dink kreatief en opportunisties en wees produktief. Moenie ’n slagoffer wees van omstandighede nie. Skep jou eie omstandighede. Maak ’n plan. Maak ’n verskil. Wen met beurtkrag!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui