Weef – ‘n deel van ons geskiedenis
Bo-oor, onderdeur, bo-oor, onderdeur, bo-oor, onderdeur…
Hooffoto:- Weefraam
Ons almal onthou hoe ons in die kleuterskool papierrepe ingeweef het in ‘n ander papier vol gleufies. Of… hoe ons daardie keer uit pure verveeldheid probeer verstaan het hoe die wasgoedmandjie aanmekaar gesit is.
Volgens geskiedkundiges is weef een van die oudste vorme van handwerk – omtrent 12 000 jaar oud! Vir millenniums is dit beoefen om klere, matte, mandjies en vele meer te weef en om selfs stories uit te beeld.
‘n Herlewing van kunsvorme
Weef – maar ook ander handwerk- en kunsvlytvorme – het ‘n merkwaardige nuwe asem gekry as ‘n opstand of teenstand tydens die industriële rewolusie in Europa en Noord-Amerika. Klem was gelê op die mens as skepper van verbruikers-items, eerder as op masjiene wat gebruikersprodukte in kil en koue fabrieke vervaardig.
Weef in Suid-Afrika
Alhoewel weef gewild en baie beoefen was in Europa, Asië, die Amerikas asook in ‘n groot gedeelte van Afrika, was daar geen gevestigde weefkultuur onder die Afrikanervolk nie. Eers ná die Tweede Vryheidsoorlog het weef deel geword van die Afrikanerkultuur. Dit was te danke aan ‘n Britse vrou wat alreeds ‘n plek gehad het in die volkshart… Emily Hobhouse.
Om Afrikaners weer op hul voete te plaas het sy ‘n tuisnywerheidsfonds gestig. Hobhouse, wat self in Skotland geleer weef het, het potensiaal in wol, een van ons belangrikste landbouprodukte, gesien.
Sy was vol moed dat dit uiteindelik tot selfvoorsienende tuisnywerhede sou lei en het besluit om weefskole te stig waar meisies kon leer spin en weef. Die Tuisnywerheids- en Noodleningsfonds het onderneem om haar vir 3 jaar te ondersteun. Uiteindelik is Suid-Afrika se eerste weefskool op 11 Maart 1905 op Phillipolis in die Vrystaat geopen. Vandaar het weef onder die volk versprei en is verskeie weefgildes deur die land gestig.
Ek wil weef, wat nou?
Om ‘n nuwe vaardigheid aan te pak is altyd ‘n uitdaging. Gelukkig is daar weefgildes wat altyd gereed staan om nuwe wewers met ope arms te ontvang.
Tans is daar drie wewersgildes in Suid-Afrika: Pretoria Wewersgilde, Johannesburg Wewers- en Spinnersgilde asook die Kaapse Wewersgilde