Inheemse veldbokke: Die bok vir die toekoms!
Inheemse veldbokke, wat eie aan Suid-Afrika is, het met die veredeling van boerbokke amper uitgesterf.
Volgens die Inheemse Veldbok Vereniging van Suid-Afrika het hierdie siekte-weerstandige bokke eeue gelede saam met die nomadiese stamme uit Afrika suidwaarts ge-immigreer.
Die ras bestaan uit vier etniese tipes. Behalwe die Skilder- en Appelbokke is daar ook die Nguni-tipe en die Kunene tipe.
Die Appelbok, wat ook soms die Oos-Kaapse Xhosa lob-oor genoem word het langs die kontinent se ooskus afbeweeg terwyl die Skilderbok langs die weskus afbeweeg het.
Boere in die Oos-Kaap het oorspronklik hierdie bokke gebruik om ondeurdringbare doringveld skoon te wei vir die aanplanting van gewasse of beweiding vir ander diere. Hierdie inheemse veldbok het gou gewildheid gewen as gevolg van hulle natuurlike weerstandigheid teen siektes en dus lae onderhoud en kostes. Die ooie is baie vrugbaar en kan drie tot vier lammers grootmaak omdat hulle baie melk het. Daar is aantekeninge dat die Dorslandtrekkers hierdie bokke se melk gebruik het tydens die bekende trek vanaf die ou Transvaal na Angola.
Die velle van inheemse bokke het simmetriese patrone, soos in die geval van zebra’s en luiperds. Hierdie velle is dan gebrei en in en om die huis gebruik. Vandag nog is dit ‘n baie gewilde vel vir die Europese markte.
Boere het egter in die 20ste eeu besluit om die ”Boerbok” soos hy bekend staan, tot ‘n ras te veredel met groter bouvorm, rooi koppe en meer prominente bespiering. Hierdie verbetering sou dan lei tot die amperse verswelging van die oorspronklike inheemse veldbok se unieke eienskappe.
Die inheemse veldbok het net-net oorleef met die uitbreiding van die Boerbok- en die Sybokhaar-industrie in Suid-Afrika. Vandag is daar hernieude belangstelling in hierdie ras wat bekend is vir gehardheid teen siektes en sy vrugbaarheid en unieke kulturele agtergrond.
Inheemse veldbokke oorleef gemaklik in Suid-Afrikaanse veldtoestande. Hulle natuurlike bouvorm verseker gemaklike beweging en die bokke kan lang afstande stap. Ooie is vanaf ‘n jong ouderdom vrugbaar, is nie gebonde aan teelseisoene nie en het verder ook ‘n lang produktiewe leeftyd.
Inheemse veldbokke is uitnemend aangepas vir geharde omstandighede. Haarbedekking pas aan volgens die klimaat waaraan hulle blootgestel is. Uitstekende pigmentasie verseker dat hulle bestand is teen hoë temperature en die fel son. Natuurlike seleksie verseker verder dat die inheemse veldbok weerstandig is teen inwendige sowel as uitwendige parasiete.
Inheemse Veldbokke is uitstekende presteerders in ekstensiewe boerderypraktyke. Die bokke het ‘n goeie trop-instink wat help om hulle teen roofdiere te beskerm. Die ooie is ook bekend vir hulle uitstaande moedereienskappe en sal selfs teen roofdiere baklei om hulle lammers te beskerm.
Daar is vier geregistreerde eko-tipe veldbokke in Suid-Afrika:
Nguni-bokke
Die Nguni-tipe is meer volop as ander bokke. Nguni-bokke is meer bonkig gebou en wissel van klein- tot mediumgrootte liggaamsbou en die ooie is aansienlik kleiner as die ramme. Die gesigsvorm is meer konkaaf en plat alhoewel sommige ramme ‘n meer romeinse neus mag hê. Hulle is ‘n veelkleurige ras met ‘n wye verskeidenheid eenvormige kleurpatrone met kort blink hare. Sommige van hierdie bokke mag gedurende winters ‘n fyn wol, wat kasjmier genoem word, produseer.
Appel- of Oos-Kaapse Xhosa-bokke
Die Oos-Kaapse Xhosabok is ‘n medium tot groot gespierde bok. Die gesig is redelik lank en konveks gevorm met kenmerkende hangore. Ramme en ooie het horings en baarde kom net by ramme en selde by ooie voor. Manlike baarde is groot en prominent. ‘n Groot verskeidenheid eenvormige kleure soos wit, swart, bruin en rooi-bruin, bont (twee of meer kleure), gespikkeld, en veral gekolde, blommerige en marmeragtige patrone en allerhande kombinasies van hierdie kleure kom voor. Meeste van hierdie bokke het kort, glansende hare en is geneig om kasjmier te produseer gedurende koue winters.
Noordkaapse Skilderbokke
Die Noordkaapse Skilderbok se oorsprong is die droë Noord-Kaap en is deur die pionierboere (Dorslandtrekkers) van die Noord-Kaap na Namibië geneem waar sommige Namibiese boere hierdie bokke suiwer gehou het. Die Skilderbok is ‘n goedgespierde bok met ‘n medium tot grootliggaamsbou. Hulle het groot hangore en beide ooie en ramme het prominente horings. Baarde is waarneembaar by ramme sowel as by die ooie, maar die baarde van ramme is meer prominent.
Die Skilderbok se kop en bene is feitlik eenkleurig, met ‘n wit bles op die voorkop tussen die horings. Die hele lyf is wit en bedek met rooi, rooi-bruin of swart spikkels, met ‘n donker streep bo-op die rug en aan die voorkant van die nek. Die meeste het kort, blink hare en produseer kasjmier in koue winters.
Kunene-bokke (Sien hooffoto)
Hierdie bokras kom meestal in die Noord-Weste van Namibië voor en is baie skaars in Suid-Afrika. Die gebied bekend as Kunene is baie droog en onherbergsaam en die bok word normaalweg by die Ovahimbas, nomadiese mense in Namibië, aangetref.
Die Kunene-bok is ‘n slanke ras met ‘n groot liggaamsbou en met dun bene. Hierdie ras is ongelooflik aanpasbaar en kan baie vêr afstande aflê om by water uit te kom.
Hulle het lang smal gesigte met groot lang ore. Ramme sowel as ooie het horings, hoewel ramme se horings meer prominent is. Die Kunene-bok is ‘n veelkleurige ras (eenkleurig en gespikkeld) met kort, reguit tot lang gekrulde hare.
Daar is ‘n handjievol telers in Suid-Afrika wat hulle passie vir hierdie veldbokke deel en hard werk om die ras suiwer te hou volgens spesifieke standaarde.
Weens natuurlike hulpbronne wat voortdurend onder druk is, word voorsien dat Inheemse Veldbokke in die toekoms moontlik ‘n groter rol in die onderhoud van gesinne sal speel. Vir meer inligting besoek die Inheemse Veldboktelersgenootskap.