
Hoe toets ek my batterybank?

Met die herinstelling van beurtkrag einde 2018, het talle verbruikers die besluit geneem om met behulp van batterye hulle besighede en huishoudings se kragsekuriteit te verseker. Aangesien die koste van batterye steeds ‘n duur insetkoste en groot uitgawe is, is dit belangrik om te verstaan wat ons koop en hoe om die uitgawe te evalueer en verstaan.
Verskeie eienskappe kan getoets word om die toestand van die batterye te evalueer sonder die gebruik van gespesialiseerde toerusting.
As ‘n voorbeeld weet ons dat die spanning van ‘n battery aandui hoe vol die battery gelaai is.

Deur bloot ‘n multi-meter te gebruik wat gelykstroom spanning kan meet is dit moontlik om die batteryspanning te meet en te vergelyk met die spanningsvlakke wat aangedui word op ons battery se datavel. Dit sal ons natuurlik net kan doen as die battery wel ‘n datavel het. Sommige lood-suurbatterye is heeltemal pap op 10,8Volt en ander op 11,6Volt. Dit is daarom nodig om die verskille te verstaan in hoe die batteryverskaffers die waardes van die data beskikbaar maak op datavelle. Die moontlike wisseling in spanning tussen verskillende lood-suurbatterye noodsaak dat elke battery se spesifieke datavel gebruik moet word ten einde die laai- en ontlaaivoorkeure vir ‘n spesifieke battery te bepaal.
Spanning
C-koers van batterye
Die C-koers verwys na die kapasiteit en uithouvermoë van ‘n lood-suurbattery wanneer die battery teen ‘n spesifieke tempo gebruik word. “C” verwys na die kapasiteit van die grootte van ‘n battery (soos bv 200Ah) onderhewig aan die tempo waarteen die battery ontlaai word. As voorbeeld word ‘n 200Ah battery aangekoop teen C10, C20 of C100. Die C20 waarde dui op die ure waarteen die battery ontlaai kan word en die berekening word soos volg gelees of verstaan: 200Ah teen C20 is gelyk aan 200Ah / 20h = 10Ampere. Wat die datavel verduidelik is dat wanneer ‘n las van 10 Ampere op die battery gesit word, dat die battery vir ‘n periode van 20 uur behoort te hou.
Die leeftyd van die battery word beïnvloed wanneer die C-koers nie reg aangewend word nie.


Grafiek nr 1 wys dat indien ons die battery ontlaai teen ‘n tempo van 0.1C dat die battery sy spanning behoort te handhaaf vir ‘n periode van 100 minute waarna die spanning drasties sal begin val. (Sien die geel lyn in die grafiek) 0.1C = 0.1 x Kapasiteit van die battery = 0.1 x 200 = 20A.
20A x 12V = 240 Watt.
‘n Maklike manier om dus die lewering van die battery te monitor is om dit fisies te meet, noteer en plot. Die waardes wat gemeet is kan dan vergelyk word met die waardes wat voorsien word op die datavel van die spesifieke battery.
Stroom
Die stroom van ‘n battery kan op ‘n soortgelyke manier getoets en monitor word. Sien die grafiek onder.


Grafiek nr 2 is voorsien deur die battery-verskaffer en gee vir ons ‘n aanduiding van die tydperk (aangedui in uur) wat die battery laste sal kan dryf teen ‘n spesifieke tempo (aangedui in ampere.) Volgens grafiek nr 2, sal ons die battery kan ontlaai teen ‘n tempo van 8,5 ampere, wat min of meer is wat ons laste is, en dit sal gedoen kan word vir ‘n periode van 20 uur. Dit is belangrik om daarop te let dat die tydperk en die laste in grafiek 2, ‘n aanduiding is van wanneer die battery heeltemal vol is totdat die battery heeltemal leeg is. Dit is dus nie gewens dat die battery vir 20 ure ontlaai word teen n tempo van 8,5 ampere nie, maar wel vir ‘n periode van 8-10 ure om sodoende die battery nie te diep te ontlaai nie. Indien ons dan wel nie meer as 50% van die beskikbare kapasiteit van die battery ontlaai nie, kan ons ‘n ander grafiek gebruik om die leeftyd van die battery te bepaal. Dit is hier waar grafiek nr 3 vir ons baie insiggewend is omdat dit dui op die hoeveelheid siklusse wat bereik kan word met ‘n battery wanneer die hoeveelheid stroom wat ontlaai word, bekend is. Volgens grafiek nr 3 kan ons sien dat die leeftyd van die battery min of meer 1800 siklusse behoort te wees teen ‘n 50% verbruik van die battery se kapasiteit.
Opsomming:
Ons kan die datavelle gebruik om te bepaal of ons battery na wense funksioneer. Dit is dus moontlik om sonder gespesialiseerde toerusting vinnig en effektief ‘n battery te toets, mits ons toegang tot die nodige inligting kan verkry deur die datavelle van die onderskeie batterye.


Carel Ballack, die outeur van hierdie artikel, is ook die aanbieder van KragDag se sonkraginstallasie- en batterykursusse.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.