Mediese Noodgevalle (Beserings) – Deel 3
In ‘n eerste deel van hierdie reeks van artikels is inleidend gekyk na die algemene voorbereiding wat nodig is vir ‘n noodsituasie, asook watter noodmiddele voorsiening voor gemaak moet word. Riglyne is ook gegee oor die belangrikste eerste stap in ‘n noodgeval, naamlik om uitwendige bloeding te stop. In die tweede deel van die reeks is na lewensreddende aksies in ‘n noodsituasie gekyk om inwendige bloedings te hanteer. Vervolgens word na die noodhantering van frakture of beenbreuke gekyk.
FRAKTURE (BEENBREUKE)
Frakture het gewoonlik ‘n geskiedenis van besering. Veral in bejaarde persone hoef die besering nie noodwendig ernstig te lyk nie. Hulle kan verswakking van die been hê weens ontkalking of soms kwaadaardige uitsaaings.
BELANGRIK: INDIEN ‘N OUER PERSOON GEVAL HET, MOET AANGENEEM WORD DAT DAAR WEL, TOTDAT DIE TEENDEEL BEWYS IS, ’N BEDUIDENDE ONDERLIGGENDE BESERING KAN WEES.
TEKENS VAN ‘N MOONTLIKE FRAKTUUR
- Pyn, swelling, misvorming, soms kneusing, onvermoë om ledemaat normaal en sonder pyn te beweeg.
- Moenie probeer om benige geknars uit te lok nie- dit is erg pynlik en bewys niks.
- As die indruk ontstaan dat daar dalk ‘n fraktuur kan wees, laat dit nagaan!
- Alle frakture gaan gepaard met ‘n mate van inwendige bloeding in die omgewende spiere, byvoorbeeld ‘n bobeenbreuk kan soveel as 1.5 liter bloed verloor en ‘n enkele gebreekte rib 150ml.
NOODHANTERING
- Hou persoon en jouself kalm.
- Wend spalke aan om fraktuur te immobiliseer.
BO-ARM
- Laat die arm reguit teen die persoon se sy afhang en buig die elmboog 90°.
- Neem die hemp se ooreenstemmende pant, klap dit opwaarts na die teenoorgestelse skouer en fikseer dit daar teen die hempmateriaal met ‘n groot haakspeld.
- Die voorarm is 90° gebuig by die elmboog en die opgevoude hemppant vorm ‘n natuurlike driehoekverband, wat gemaklik is en die gewig eweredig oor die skouergordel versprei.
- Wend nou ‘n 150mm crepeverband om die bolyf wat die beseerde arm teen die borskaswand vashou – ferm, maar nie styf nie.
VOORARM
- Improviseer ‘n spalk met ‘n opgerolde koerant wat platgedruk word.
- Plaas dit onder die pinkiekant van die voorarm van die elmboog tot polsgewrig
- Draai ‘n 100mm crepeverband bo-oor en implementeer die hempdriehoek soos hiebo beskryf.
BEEN
- Die pasiënt het ‘n onvermoë om te kan staan of te kan loop. Daar is erge pyn en soms tekens van skok soos ‘n vinnige pols en ‘n sweterige, klam vel.
- Probeer om persoon plat op die rug te kry, met behulp van twee helpers wat die beseerde been saam met die romp as ‘n eenheid draai, terwyl ‘n derde helper die romp help draai.
- Indien daar ‘n duidelike vervorming van die been is kan iemand die been agter die moontlike breuk met beide hande stut terwyl stadig maar stewig deur ‘n tweede persoon aan die enkel getrek word om die been min of meer reguit te kry. Dit is wel pynlik, maar ‘n been behoort nie windskeef geknak gelaat word nie.
- Let wel, as die been egter nie redelik maklik wil saamkom nie en dit voel of dit in ‘n abnormale posisie vas is, moet dan nie geweld gebruik nie! Dit is dan baie moontlik ‘n ontwrigte heup. Die heup is dan gewoonlik so 45° gebuig en die bobeen of na binne, of na buite gekantel.
- As daar vermoed word dat die heup ontwrig is, ondersteun dit in die halfgebuigde en gekantelde posisie met kussings.
- Andersinds, plaas die been teen die gesonde ledemaat, met ‘n klein handdoek wat 4 lae dik is, tussen knieë en enkels.
- Draai ‘n 150mm crepeverband rondom beide bene vas – een bokant die knie en een of twee onder die knieë.
BEKKENBREUKE
- Hierdie is ‘n baie ernstige besering wat kan gepaard gaan met aansienlike inwendige bloeding en selfs ook blaasbesering.
- Dit word gewoonlik veroorsaak deur taamlike geweldsaksie soos ‘n motorvoertuigongeluk of ‘n val van ‘n hoogte af.
- Loop is erg pynlik of onmoontlik.
- As die pasient op sy rug lê, kan daar soms gesien word dat die een been korter is as die ander en as daar op die borand van die bekken na agter gedruk word, is dit erg pynlik. Doen laasgenoemde NET EEN KEER!
- Laat pasient op die rug lê, stoot ‘n laken wat in die middel deurgeskeur is onder en agter die pasient se kruis deur. Wikkel dit onder die boude in en knoop dit styf en stewig aan die voorkant van die onderbuik vas. Dit trek die bekkenhelftes weer teenmekaar, verlig pyn en belangrikste – dit help om die inwendige bloeding te beheer.
- Hou sulke beseerdes warm onder ‘n kombers.
- Moet niks per mond gee nie. (vir geval van moontlike noodoperasie)
- Reël ambulansafvoer vir been-, heup- en bekkenprobleme.
Hierdie artikel het oorspronklik in TLU-SA se VEILIGHEIDSBULLETIN 10/18 verskyn. TLU-SA het goedgunstiglik toestemming gegee vir plasing.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.