‘n Munisipale rekening is onvoldoende om jou sonkragstelsel te definieer

Hierdie artikel gee ‘n inleidende oorsig waarom dit nie aanbeveel word om die grootte van ‘n sonkragstelsel te bepaal deur slegs n munisipale rekening te gebruik nie. So ‘n besluit behoort ook ondersteun te word deur ander inligting in ag te neem en om verskeie faktore tydens die berekeningsproses te oorweeg.

In dié artikel kyk ons na wat ‘n lasprofiel is en hoe dit aangewend kan word om te bepaal of die installasie van ‘n sonkragstelsel lewensvatbaar sal wees.

Inleiding

Die tempo waarteen sonstelsels in Suid-Afrika geïnstalleer word, word toenemend groter. Alhoewel daar verskeie faktore is wat die koste van stelsels beïnvloed, word sonkragstelsels goedkoper namate die tegnologie ontwikkel. Laer aanskaffingskostes, tesame met die huidige hoër koste van munisipale elektrisiteit, het dit ekonomies vatbaar gemaak om na hernubare energie oor te skakel.

Sommige verbruikers benodig alleenlik ‘n sonstelsel om toerusting tydens beurtkrag van elektriese krag te voorsien. Daarteenoor is daar ander verbruikers wat stelsels benodig wat hulle heeltemal onafhanklik sal maak van die munisipaliteit of Eskom as kragvoorsieners.

Alhoewel daar toenemend baie stelsels verkoop en geïnstalleer word, is daar slegs ‘n klein persentasie van hierdie verkoopspersoneel wat weet hoe om die grootte van ‘n sonkragstelsel te bepaal. Meestal vra hulle slegs die kliënt se munisipale rekening, waarop hulle dan hul berekeninge grond.

Munisipale rekenings is egter dikwels baie misleidend omdat dit slegs die totale verbruik vir ‘n periode van ‘n maand gee. Dit gee nie vir die kliënt ‘n aanduiding van die spesifieke tye wanneer die energie inderdaad verbruik word nie. Waarna mens eintlik op soek is, ten einde die grootte van ‘n stelsel akkuraat te bereken, is ‘n lasprofiel.

Wat is ‘n lasprofiel?

‘n Lasprofiel is bloot ‘n grafiese aanduiding oor tyd van ‘n verbuiker se elektriese energieverbruik. Lasprofiele vir huishoudings, plase en besighede verskil en dit is ideaal om ‘n toestel aan te skaf om so ‘n profiel te monitor. Die data wat deur só ‘n toestel verkry word, word vervolgens gebruik om ‘n grafiek te plot wat ‘n grafiese aanduiding gee van die elektriese energieverbruik.

Die grafiek hieronder wys die elektiesiteitsverbruik van ‘n besigheid oor ‘n 7 dae periode. Alhoewel die grafiek verbruik vanaf die begin van die jaar toon, sal dit ons wel help om te verstaan wat die tekortkominge is wanneer ons slegs ‘n munisipale rekening gebruik om die grootte van ‘n sonkragstelsel bepaal.

Wat duidelik sigbaar is, is dat daar byna geen elektrisiteitsverbruik tydens die eerste 5 dae is nie, terwyl ons op die 6de en 7de dag ‘n skielike toename in aktiwiteit waarneem.

Die totale verbruik in kWh gedurende die 7-dae periode is 3 400 kWh. Meeste sonstelselverskaffers sal bloot die totale energieverbruik vir die tydperk neem en dit deur die aantal dae in die periode deel. In die spesifieke geval is dit 3 400kWh ÷ 7 dae = 485 kWh per dag. Die waarde sal dan aangewend word om te bepaal hoe groot die stelsel moet wees deur te kyk na die hoeveelheid son-ure. Die waarde van die hoeveelheid son-ure wat gebruik word, is gewoonlik 5 ure. Dit laat die berekening dan as volg; 485 kWh ÷ 5 ure = 97 kW. (Loer gerus na die kort video Introduction to Sun-hours wat die konsep van son-ure weer verduidelik.)

Alhoewel die munisipale lesing die totale verbruik oor die periode aantoon, is dit duidelik dat ons in hierdie geval nie die gemiddeld moet gebruik om die grootte van die sonstelsel te spesifiseer nie. Die benodigde stelselgrootte sou ontoepaslik en dus verkeerd wees! Die motivering vir ‘n netwerkgekoppelde stelsel is juis die besparing wat gerealiseer kan word gedurende die dag aangesien die koste van energie wat deur ‘n sonkragstelsel opgewek word goedkoper is as die munisipale koste vir energie. In die grafiek hieronder het ons die “berekende” sonkragstelsel aangetoon wat vir ons die volgende aandui:

  1. Punt nr 1

Dag 1 tot 7 sien ons die groen kurwe wat die daaglikse opwekking deur die sonkragstelsel aandui.

  1. Punt nr.2

Die ingekleurde groen kurwe wys die periode van die dag waar die verbruiker potensieel geen voordeel kry nie. Die voordeel van die addisionele energie tydens die groen periode word bepaal deur die verbruiker se munisipale energietarief sowel as die ooreenkoms met die kragvoorsiener, naamlik die munisipaliteit of Eskom. In sommige streke kan verbruikers deur die munisipaliteit vergoed word vir energie wat in die netwerk teruggesit word. In meeste gevalle is daar egter nie werklik ‘n voordeel om krag op te wek en in die netwerk terug te sit nie. Die sonkragstelsel-eienaar stel meestal nie belang om deur die gevolglike administratiewe las te gaan om met die kragvoorsiener te onderhandel of om hulle selfs te probeer kontak nie. In baie gevalle is die munisipaliteit ook nie bevoeg om sulke tipe onderhandelings te doen nie.

  1. Punt nr.3

Die eerste keer wat die verbruiker vir die week werklik voordeel trek uit die sonstelsel is op dag 6 en dag 7 en dit word aangedui deur die blou area onder die donkerblou lyn.

Slotsom

Die lewensvatbaarheid van die sonkragstelsel, in terme van grootte, word bepaal deur ‘n kombinasie van inligting wat gebruik word om energieverbruik te evalueer. Dit is gevolglik sinvol om laste aan te pas deur die aanwendingstye van laste te probeer skuif om sodoende meer voordeel uit die sonkragstelsel te put.

Persone wat sonkragstelsels verkoop kan so ook ‘n addisionele konsultasiediens teen vergoeding aan kliënte lewer, deur hulle met advies rakende hulle algehele en oorhoofse energiebehoeftes te bedien.

Skakel in en leer nog meer oor sonkragstelselontwerp, batterystelselberekeninge en ander toepaslike onderwerpe in KragDag se volgende 1-dag Sonkragstelselontwerps- en installasiekursus. Alhoewel hierdie kursus meer fokus op residensiële stelsels, is die beginsels wat tydens die kursus aangespreek word ook van toepassing op kommersiële stelsels.

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Carel Ballack
  • Carel Ballack
  • Carel Ballack is al meer as 17 jaar betrokke in die Energie en Hernubare Energie sektor. Oorspronklik as entrepreneur en kleinsake-eienaar wat as vakman gekwalifiseer het vir die elektriese-, loodgieter- en gasdissiplines. Sedert 2010 is Carel betrokke by data-insameling, opleiding, verslagskrywing en verskeie programme wat gesentreer is rondom die ontwikkeling van die fotovoltaïese- en hernubare energie sektore, hoofsaaklik vir Suid-Afrika. Suksesse sluit in kontraktering vir sommige van die grootste wêreldwye hernubare energie organisasies om behulpsaam te wees met strategiese besigheidsontwikkeling in Afrika en die byhou van die mees omvattende databasis van sonkrag-installasies in Afrika deur 'n deurlopende navorsingsplatform as stigter van PQRS. Carel is tans 'n konsultant en verskaf inligting en data wat hulpverleningsorganisasies, Ondernemings Sonder Winsmotief, kommersiële entiteite en belanghebbendes help om strategieë oor besigheidsgroei vir die Hernubare Energie-sektor in SA en Afrika te ontwikkel met behulp van geverifieerde data. Carel was persoonlik betrokke by opleiding van meer as 2 000 kandidate in sonkrag verwante tegnologieë oor die afgelope sewe jaar en het 'n reputasie opgebou vir standaarde en kwaliteit vir beide die installering en ontwerp van verskeie sonkragtegnologieë. Deur hierdie inisiatiewe het hy 'n gehalteversekeringsprogram ontwikkel vir finansiële instellings, wat die risiko verbonde aan Hernubare Energie projekte vir die sonkragbedryf verminder, Enel, Energy Partners. Hy was in permanente of op kontrakbasis ook onder andere betrokke by die volgende instansies: Tesla, CDAA (Copper Development Association of Africa), SESSA (Sustainable Energy Accosiation of South Africa), ABB, die Departement van Energie, Energy Partners, Solareff, Wes-Kaap regering in samewerking met GreenCape en SABS (die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde).

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui