Die werklike koste van sonkrag
Sonkrag word deur talle verbruikers gesien as ‘n uitweg om Eskom se stygende kostes te vermy en as ‘n manier om beurtkrag te ontduik. Nie almal wat sonkragstelsels installeer is egter ekonomies beter daaraan toe nie. Dit kan moontlik wees om, nadat ‘n sonkragstelsel geïnstalleer is, selfs ‘n duurder algehele elektrisiteitsrekening te hê! Alvorens die groot besluit geneem word om na sonkrag as ‘n kragalternatief oor te beweeg, is dit dus nodig om die voordele en nadele van hierdie twee moontlikhede, Eskomkrag of sonkrag, aandagtig te oorweeg.
Wanneer koop ek sonkrag
Die ekonomiese berekening wat bepaal of ‘n sonkragstelsel se energie goedkoper sal wees as die munisipale koste van energie word “Levelised Cost Of Energy” (LCOE) genoem. Vir die doeleindes van die artikel vertaal ons dit as Gelykmatigde Koste van Energie of GKE. Die GKE van ‘n sonstelsel is ‘n wiskundige formule waar die totale leeftydskoste van ‘n kragstelsel gedeel word deur die algehele energie wat die stelsel oor die stelsel se lewensduur sal opwek. Beide waardes word bereken oor die leeftyd van die stelsel, byvoorbeeld vir 25 jaar.
Om te verstaan waar hierdie syfers vandaan kom, gaan ons ‘n simulasieprogram gebruik. Kom ons veronderstel dat ‘n 100kW-sonkragstelsel net noord van Pretoria geïnstalleer moet word. Let asseblief daarop dat, omdat die stelsel nog nie fisies geïnstalleer is nie, kan ons nog net van gesimuleerde syfers praat. Die doel van die simulasie is juis om die lewensvatbaarheid van die stelsel te bepaal. Vir die doeleindes van die oefening het ons bepaal dat die stelsel op die dak van ‘n stoor geïnstalleer sal word soos aangetoon in Beeld 1 hiernaas.
Die oranje dele op Beeld 1 dui op areas hoër as die sonpanele wat potensieel skaduwees oor die sonpanele kan veroorsaak.
Die volgende grafiek toon die maandelikse energieproduksie van die sonkragstelsel. Dit is interessant om te sien hoe die somer- en wintermaande se kragproduksie van mekaar verskil. Aangesien die program ongeveer 10 jaar se weer-data in die simulasie gebruik, is die werklike energie wat deur so ‘n stelsel opgewek word, baie na aan die lesings wat gesimuleer word.
Ons kan gevolglik sê dat deur die maandelikse syfers bymekaar te tel kry ons ‘n aanduiding van wat daardie sonkragstelsel oor ‘n periode van ‘n jaar sal opwek. Die totale waarde, soos deur die simulasieprogram bepaal, word in Beeld 2 aangetoon en met rooi omkring.
Die energie wat oor die 1 jaar periode van die stelsel, met ‘n lewensverwagting van 25 jaar geproduseer sal word, is 178MWh. Dit is die produksie in jaar 1; maar wat gebeur in jaar 2 en opvolgende jare?
Sonpanele degradeer elke jaar. Hierdie degradering word aangedui op meeste van die sonpanele se datavelle en daar moet van die detail of fynskrif kennis geneem word soos beskryf in die paneelvervaardiger se waarborgdokument. ‘n Voorbeeld van só ‘n dokument kan gesien word in Beeld 3 en 4 hieronder:
Beeld 3 en 4 toon vir ons aan dat die degradasie gespesifiseer is as 2,5% in jaar 1. Ons stelsel se produksie in jaar 1 gaan dus 178MWh wees en vir jaar 2 gaan dit 178MWh minus 2,5% van jaar 1 se kragproduksie. Die degradering vind dan vir elke jaar daarna plaas teen teen ‘n tempo van 0,5% per jaar. Die gedeeltelike berekening word in die tabel hieronder aangedui:
Volgens berekening in die spreiblad is die totale produksie van elektriese energie vir die 25 jaar-periode 4112 MWh. Die waarde word gebruik om die GKE te bereken volgens die volgende formule:
Om die sonkragstelsel se leeftydskoste te bepaal moet die verwagte koste van onderhoud, moontlike versekering, vervanging van omsetters in die 12de jaar, sowel as die installasiekoste van die stelsel in berekening gebring word.
Die uiteensetting van kostes word in ‘n volgende artikel bespreek.