
So betaal ek net een maal vir die vloeibare petroleumgas in my gasbottel!
Dit maak my nogal verleë om te erken hoe onnadenkend ek self soms my eie aankope doen. Die naweek is die gasoond gebruik en na etlike kere se gebruik voel die gasbottel vir my aan die leë kant. Veral met die onvoorspelbare beurtkrag wil jy nie graag onkant gevang word met ‘n leë gasbottel nie – mens moet darem paraat wees! Ek onthou van my ander gasbottels en dink, terwyl mens een keer ry, kom ons maak somaar al die gasbottels vol. So sit ek af na die gashandelaar. Daar aangekom groet ek die verkoopsman en vra: “Maak asseblief die gasbottels vir my vol” Hy antwoord: “Meneer jou nommer 3, nommer 7, nommer 10 en nommer 15 gasbottel sal respektiewelik gevul word met 1,3 kg, 3 kg, 4,5 kg en 7kg gas. Dit word gedoen deur elke gasbottel op ‘n skaal te plaas en en met gas te vul totdat ‘n sekere gewig vir ‘n bepaalde gasbottel bereik is. Terwyl die persoon wat die bottels vul besig is met die opvulling betaal ek vir 15,8 kg LPG oftewel vloeibare petroleumgas. Iets verkeerd met hierdie prentjie? Natuurlik! Ek het bloot aangeneem al die bottels is leeg. Die bottels word tot op die regte gewig aangevul terwyl daar aanvanklik nog gas in die bottels oor was! Ek het weer betaal vir gas waarvoor ek tog alreeds betaal het!
Deesdae doen ek my gasaankope anders. Weereens wil ek my vier gasbottels met LPG gaan vul. Dit is egter nodig om drie begrippe naamlik, die brutogewig, die tarragewig en die nettogewig te verstaan. Brutogewig is die gewig van ‘n item wat die gewig van die inhoud sowel as die houer of verpakking insluit. Tarragewig is die gewig van die verpakking of die houer sonder die gewig van die inhoud – dit wil sê die gewig van die leë houer. Nettogewig is die gewig van die inhoud sonder die gewig van die verpakking. Die algemene vergelyking wat geld is dus:
Brutogewig = Tarragewig + Nettogewig.
My vier gasbottels, van ‘n baie bekende fabrikaat, se nettogewigte is onderskeidelik 1,3 kg vir die nommer 3 bottel, 3 kg vir die nommer 7 bottel, 4,5 kg vir die nommer 10 en 7 kg vir nommer 15 bottel. Hierdie inligting is standaard vir elke nommer grootte bottel en word net soms op die gasbottel se voetstuk gepons. Hou in gedagte dat daar deesdae ander vervaardigers is wat hulle eie standaarde gebruik. Die doel van hierdie artikel is egter om ‘n werkswyse te illustreer en vir ander vervaardigers kan inhoude en gewigte anders lyk.
Die ander belangrike inligting op die gasbottel is die tarragewig van die gasbottel. Die tarragewig vir ‘n spesifieke nommer bottel, 3, 7, 10 of 15 wissel van bottel tot bottel omdat bottels wat tarragewig aanbetref klein verskille met mekaar het. Nadat die bottel vervaardig is word die bottel leeg geweeg en die gewig word dan met ‘n pons op die voetstuk aangebring. As die bottel baie gebruik word, veral buite, gebeur dit dat die bottel se verf op die voetstuk afgaan en dat ‘n roeserigheid ontstaan wat dit moeilik maak om die tarragewig te lees. Dit het dus sin om jou bottel se tarragewig en nettogewig met ‘n duursame permanente merkpen onder op die bottel te skryf. Deur dit met ‘n vernis te sproei word dit nog meer permanent gemaak. So kan jy met ‘n oogopslag die tarra- en nettogewig van jou bottel bepaal.
Vandag was dit vir my nodig om twee gassilinders te gaan vul – ‘n nommer 15 bottel sowel as die nommer 7 bottel. Met ‘n badkamerskaal kon ek bepaal dat die brutogewig van die nommer 15 gasbottel 7,8 kg was. Die bottel was dus dolleeg en ek moes die bottel met 7 kg LPG aanvul om ‘n volbottelgas se brutogewig te verkry. Die nommer 7 bottel is ook geweeg en die brutogewig was 4,9 kg. Daar was dus ongeveer nog 0,6 kg gas in die bottel oor. Ek het dit so aan Lubeforce in Rayton se vriendelike verkoopsman oorgedra en hy het opdrag gegee dat die bottel op hulle skaal geweeg moes word. Die nommer 7 bottel se gas is aangevul tot die volbottelbrutogewig. Dit het vir my ‘n besparing van R15,00 te weeg gebring – nie ‘n reuse besparing nie, maar oor baie bottels of oor ‘n lang tyd kan die besparing aansienlik wees.
Omdat my gasbottels oud is, is ek altyd bekommerd dat daar ‘n klein gaslek kan wees wat oor tyd ‘n vrugtelose uitgawe en ‘n vermorsing kan meebring en wat sekerlik ook ‘n veiligheidsrisiko inhou. ‘n Verdere positiewe ervaring wat ek by die onderneming gehad het is nadat ek gevra het of hulle die gasbottels vir gaslekke kan toets, het Cassie, wat die gasbottels vul, onmiddellik die gevulde gasbottels met ‘n seepwateroplossing getoets wat weer gemoedsrus oor my gasbottels verseker het. Dit is in teenstelling met ‘n ander gashandelaar wat my hieroor ‘n koue skouer gegee het.
Dankie Nic van Rensburg en Cassie van Lubeforce in Rayton vir ‘n positiewe gasaankoopervaring.
Lang storie ontrent niks. Hulle weeg die bottel wat jy daar aan bring om te weet hoeveel gas daar nog in jou “leë” bottel oor is.
Brutogewig leeg = Inhoud leeg + Tarragewig. Dan is Brutogewig Vol = Inhoud Vol + Tarragewig. Die enigste faktor wat iets aan die Brutogewig kan verander, is die hoeveelheid gas. Dit al baie gesien en so ook pro rata daarvoor betaal. Gekyk hoe daar met die skaalmassas gewerk word ensovoorts. Nee, jy het net nie opgelet na die ding nie. Jy het ook nie dubbel betaal vir gas nie.
Die hele aangeleentheid verval eenvoudig tot die verskil tussen die Bruto vol en leë massas van die bottel.
Eenvoudige oplossing is om ‘n gasbottel te gebruik tot die vlam self doodgaan – dan is die bottel leeg. Nie wanneer jy dink hy is leeg nie. Jy het geskrik en toe agterdogtig geraak. Los dit en gaan dink weer.
Gaan lees ookdie wetboek oor die saak. Ek dink jy sal sien hierdie industrie word deur uiters streng voorskrifte beheer.
Kragdag.
Maak asseblief julle font in hierdie kommentaar blok donkerder en ‘n bietjie groter. Bitter moeilik om te lees of te korrigeer.
Dankie.
Waar val jy uit…….die artikel is 100% korrek en uiters insiggewend , en kry vir jou n beter bril en eno’s vir die suurgeit.
Dis goedkoper om gasbottels om te ruil as om jou gasbottel te vul.
Dankie Deon, ek waardeer jou uiteensetting. Dit is waar: party handelaars weeg wel jou silider, maar jy betaal n standaard prys – inhoud word dus nie in ag geneem nie. Elkeen moet maar n eellike handelaars in sy omgewing soek.
Theuns, die ruil geld net vir groter siliders en moet mens ook seker maak of die bestaan inhoud van jou silider in berekening gebring word. Die 3 en 5 kg kan jy (en wil ek) nie ruil nie.