
Verminderde risiko en ‘n versekerde opbrengs met sonkragstelsels
Die tempo waarteen die verkope van sonkrag-stelsels in Suid-Afrika groei word deur ‘n verskeidenheid faktore beïnvloed. Daar is onder andere, Eskom-tariefverhogings, die betroubaarheid van die elektriese infrastruktuur en dan ook die koste van sonstelsels self.
Jaarlikse Eskom-tariefverhogings bevorder die gebruik van netwerk-gekoppelde sonstelsels en motiveer eindverbruikers om hulle eie energie op te wek teen ‘n fraksie van die Eskomprys. Met elke Eskom-verhoging raak dit meer lonend om na sonkrag oor te skakel. Die impak van Beurtkrag op sonstelsels kan gemeet word aan die hoeveelheid batterye wat aan verbruikers verkoop word ten einde hulle leefstyl te handhaaf en om besigheidsvolhoubaarheid te verseker.
Die verhoogde tempo waarteen nuwe verbruikers in sonstelsels investeer beteken ongelukkig ook dat die risiko vir eindverbruikers teen dieselfde tempo groei. Die sonkragmark is egter nog nie volwasse genoeg om ‘n ingeligte werkers- en verkoopsmag te lewer nie. Om hierdie rede hou die toenemende belangstelling en groei van sonkragtegnologie inherente risiko’s vir die koperspubliek in. Innoverende entrepreneurs eien nuwe geleenthede en belê self in die mark ten einde ‘n opbrengs met goeie wins te realiseer. Sonstelsels en -toerusting word deur nuwe of bestaande ondernemings aan verbruikers te verkoop en geïnstalleer, ongeag of hierdie ondernemings die tegniese vaardighede en kennis het of nie.
In baie gevalle laat hierdie situasie verbruikers met toerusting wat nie aan hulle doel beantwoord nie en boonop dalk gevaarlike installasies is. Daarom is dit vir eienaars van sonkragstelsels nodig om risiko’s vir hulle belegging in hernubare energie te verseker deur hulle kennis op te skerp en betroubare kontrakteurs en verspreiders te ondersteun.
Risiko’s vir ‘n tipiese sonstelsel kan in ses klasse of groepe onderverdeel word deur telkens die volgende vrae te vra: Wie het dit voorsien? Wat is voorsien? Hoe is dit geïnstalleer? Hoe is dit gefinansier? Voldoen die stelsel aan die gespesifiseerde kragleweringsvereistes wat voor die aankoop beloof is? Wat gebeur as iets verkeerd sou gaan tydens die installasie, tydens die gebruik van die stelsel en ook oor die res van die leeftyd van die stelsel?
Vir enige vorm van belegging is daar dan natuurlik ook die versekeringsaspek wat in ag geneem moet word. Bogenoemde ses vrae word onderskeidelik gebruik om die volgende punte aan te spreek.
- Verskaffers-risiko (Wie het dit voorsien?)
- Is die verskaffer betroubaar?
- Het die verskaffer voldoende tegniese kennis ten einde die korrekte aanbeveling te doen?
- Is die verskaffer se tariewe markgerig?
- Sal die verskaffer ‘n na-verkope diens kan lewer?
- Komponent-risiko (Wat is voorsien?)
Is die fabrikaat of produk algemeen bekend?
- Is dit moontlik om plaaslike herstelwerk te laat doen indien ‘n faling voorkom?
- Kan tegniese advies bekom word indien nodig?
- Kan die uitset van die stelsel gemeet word sonder gespesialiseerde toerusting?
- Kontrakteurs-risiko (Hoe is die stelsel geïnstalleer?)
- Is die kontrakteur bevoeg?
- Het die kontrakteur voldoende kennis en ondervinding om ‘n veilige installasie te doen?
- Finansierings-risiko
- Hoe is die produk gefinansier?
- Is die belegging in die stelsel riskant?
- Risiko van lewering of produksie
- Is die produk op enige tydstip ‘n bate of ‘n las?
- Versekerings-risiko
- Word die produk verseker teen:
- enige vorm van skade?
- Onvermoë om energie te lewer?
- Is die kontrakteur verseker vir skade op terrein of tydens installasie?
- Word die produk verseker teen:
Naas die veiligheid van die stelsel, is die produkkwaliteit en -lewering seker die belangrikste aspekte om na op te let aangesien daar altyd ander verskaffers en kontrakteurs aangestel kan word. Indien die produk van goeie gehalte is, kan ‘n ander kontrakteur altyd aangestel word om die bestaande installasie te wysig. Goeie produkte het gewoonlik ook meer as een verspreider en onderdele, herstelwerk en tegniese advies behoort met gemak verkrygbaar te wees.
Sluit by ons aan met Kragdag om te leer hoe om jou risiko te bestuur en te verseker dat jy die meeste uit jou stelsel kry.