Neem “netwerk-gelykheid” in ag wanneer jy ‘n sonkragstelsel aanskaf
Uiteindelik het energie, opgewek en gestoor deur sonkragstelsels, goedkoper geword as elektriese energie wat deur Eskom voorsien word. Ons kan nou in effek spaar deur ons eie elektriese kragbron te besit. In hierdie insiggewende artikel kan ons sien hoe die finansiële uitgawe van ‘n sonkragstelsel benader kan word.
Etlike duisende verbruikers het in die laaste paar jaar wegbeweeg van die Eskom-netwerk deur van alternatiewe energie gebruik te maak. In die huidige ekonomiese klimaat is dit noodsaaklik dat verbruikers seker sal maak dat die regte besluite, met betrekking tot hernubare energie-installasies gemaak sal word.
Om van Eskom weg te beweeg vereis ’n groot mate van selfstudie en -dissipline. Selfstudie … omdat ons moet verstaan hoe die stelsel werk en wat ‘n goeie besluit behels. Dissipline … omdat ons vir die regte geleentheid, stelsel, kontrakteur, toerusting, ens. moet wag. Soms moet ons leefstyl ietwat aangepas word, omdat ons nie gewoond is om elektrisiteitsverbruik in te perk nie. Dis alles goed en wel om van die Eskom-netwerk weg te beweeg, maar ons oorskakeling na ‘n onafhanklike kragbron moet egter met finansiële kundigheid gedoen word, ten einde te verhoed dat ons uiteindelik meer vir elektrisiteit sal betaal as wat dit sou gekos het deur net by Eskom te bly. Ek het ‘n vriend wat sê, “ek is nie suinig nie, ek is net beredeneerd”.
Die punt is dat ons besluite dikwels bepaal word deur dit wat sommige mense in ons direkte sosiale netwerk doen of dit wat ons in tydskrifte sien. In tydskrifte is daar altyd foto’s waar die trotse eienaar van ‘n nuwe sonkragstelsel pronk met ‘n groot glimlag omdat hy bly is dat hulle dié skuif gemaak het. In die meeste gevalle weet ons nie hoekom hulle sekere besluite geneem het en of dit wel ‘n goeie finansiële besluit was nie. Dit klink soms soos ‘n goeie besluit en dan volg ons in hulle voetspore … hulle het darem seker hulle huiswerk gedoen!
Jy sien jouself reeds met ‘n glimlag van genoegdoening as jy dink … “Man, dit is darem lekker om daardie skakelaar aan te sit, op te kyk na die gloeilamp wat brand en te weet … ek genereer dit sélf op my eie sonkragstelsel!”
Dit is egter baie maklik om ‘n vinnige besluit te neem, maar sodoende die verkeerde toerusting óf die verkeerde kontrakteur, óf selfs beide te kies. Met die hoë kapitaalkoste van sonkragstelsels is daar soms meriete daarin om iemand te betaal vir advies, of selfs te betaal vir die inligting om die risiko van die aankope te verminder. Selfs met die aankoop van goeie kwaliteit toerusting kan die elektriese energie wat gegenereer word dalk baie meer per kilowatt-uur kos as wat Eskom of munisipale energie jou sou gekos het. Dit is dan in so ‘n geval eintlik nie ‘n goeie finansiële besluit nie, ongeag daarvan dat dit lekker was om daardie skakelaar aan te sit. Nou moet ek ook by sê, in sommige gevalle is kragsekuriteit ‘n groter aanwins as ‘n besluit wat ekonomies sin gemaak het. Hier kan ons kyk na die besigheid wat geld verloor tydens beurtkrag of elektriese toerusting wat vir een of ander rede nie afgesit mag word nie.
Wanneer ons energie aankoop, word dit gedoen in kilowatt-uur of soos dit op die rekening verskyn as “kWh”. ‘n Belegging in ‘n sonkragstelsel is darem veronderstel om een of ander stadium vir homself te betaal. Wat residensiële sonkragstelsels aanbetref, is ons by daardie punt waar dit goedkoper is om ons eie elektrisiteit te genereer en te stoor as wat dit is om by die munisipaliteit aan te koop. Hierdie punt word “netwerkpariteit” of “grid parity” genoem. Vir my persoonlik is “pariteit” ‘n verskriklike lelike woord wat eintlik net “gelykheid” beteken.
‘n Paar jaar gelede is die konsep “free power” geskep. Dié konsep het op die gedagte gesinspeel dat ons een keer vir ‘n sonkragstelsel betaal en van daar af is die krag mos verniet. Hierdie gedagte is ‘n bietjie idealisties, maar ons kan dit gebruik om die beginsel van netwerk-gelykheid te verduidelik. Wanneer ons vir ‘n stelsel betaal, het ons in effek geld in sonkrag geïnvesteer. As ons nou die totale koste van die stelsel sou deel deur die energie wat die stelsel tydens sy leeftyd sou genereer, eindig ons met ‘n Randwaarde per kilowatt-uur. Ons noem dié waarde die LCOE of “Levelised cost of energy”. In Afrikaans sou ons dalk kon praat van die ge-ewenaarde koste van energie. Hierdie syfer hang hoofsaaklik af van waar die stelsel geïnstalleer word, die soort toerusting wat in die installasie gebruik is, en ‘n aantal ander faktore ook. Die gemiddelde koste van energie vir ‘n 100kW stelsel is in die omgewing van omtrent R1,10c/kWh. Dit is hier waar netwerk-gelykheid belangrik word. Sou ons kapitaal belê het in ‘n netwerk-gekoppelde stelsel, dan het die sonkragstelselbelegging net waarde indien die energie wat die sonkragstelsel lewer goedkoper is as die koste van Eskomkrag. Dit is wanneer ons kan sê dat deur die stelsel te gebruik, ons in effek besig is om geld te bespaar. Dit sou ons R2 per kWh gekos het met Eskomkrag, maar dit kos ons nou net R1,10/kWh deur dit self op te wek. Doen asseblief meer navorsing oor netwerk-gelykheid van sonstelsels alvorens jy kapitaal uitlê vir ‘n sonkragstelsel.
I live on the South Coast of Durban where we have sun almost throughout the year. I have installed a solar geyser about 30 years ago and it is very seldom that we need to switch on the geyser from lack of sun. I am interested in a solar system and would like to know which company or companies you would recommend that can provide me with quotes. Your kind assistance in this regard will be much appreciate.