Hoe kies ek ‘n Internetdiensverskaffer?

Deel 1 – Internet-terminologie

Kommunikasie is ‘n integrale deel van ons lewe en as u hierdie lees, het u ook internet as ‘n kommunikasiemedium. Maar hoe het u besluit oor ‘n verskaffer en is u tevrede met u verskaffer? Het ‘n buurman sonder te veel klagtes oor die diens hulle aanbeveel of was hulle die verskaffer met die grootste  advertensieveldtog in die omgewing? Hoe goed het u die bemarkingstaal verstaan? En wat is die vangplekke?

Die doel is om u te bemagtig met kennis om die bes ingeligte keuse te kan doen wanneer u weer ‘n keuse moet maak of kontrak hersien. Ons begin met basiese terme want almal het nie dieselfde agtergrondkennis nie. Baie van die terminologie word in Engels toegepas en ek gaan dit so gebruik. Daarmee saam gaan ek  Afrikaanse verduidelikings of moontlik eie woordskeppings gebruik wat waarskynlik nie in die algemeen bekend gaan wees nie maar hopelik verstaanbaar sal wees.

Bandwydte – Ons gebruik die analogie van ‘n tuinslang wat aan ‘n watertenk gekoppel is. Die water  in die tenk verteenwoordig die hoeveelheid data wat jy tot jou beskikking het en dit word gemeet in gigabyte (GB). Gewoonlik word ‘n bedrag per maand gekoppel aan ‘n sekere hoeveelheid GB wat tot jou beskikking gemaak word, waarna die konneksie afgesny sal word tensy jy ‘n top-up (bykoop van data) kan doen – teen ekstra koste natuurlik. Indien die advertensie sê uncapped,  is die konneksie dus nie veronderstel om afgesny te word a.g.v. dataverbruik wat oorskry word nie. Die tenk water is dan teoreties onbeperk maar geen verskaffer kan dit prakties toepas sonder om homself te beskerm nie, want hy koop ook die data êrens aan. Daarom sal u waarskynlik die woord contended of contention ratio êrens sien. Dit beteken dat u nie die enigste gebruiker van data deur daardie pyp (konneksie) is nie en die aantal gebruikers word aangedui deur ‘n verhouding soos bv. 1:10 contention. Dit sou beteken dat u met nege ander gebruikers die konneksie deel en dit bring ons by die volgende begrip.

Die deursnit van die tuinslang bepaal die dikte van die stroom water en dit verteenwoordig tempo waarteen die data by u uitkom. Dit word uitgedruk in megabits/sek(Mbps) byvoorbeeld 10Mbps.  Die syfer in die advertensie stel gewoonlik die beste poging onder ideale omstandighede voor en dit kan aangedui word as best effort óf up to. Dit kan geld as u die enigste gebruiker van daardie konneksie is, en dan moet die woord uncontended (ongedeeld) in u kontrak voorkom. Indien tien gebruikers die stroom uit die pyp sou deel, gaan die stroom na elkeen dunner raak afhangend hoeveel van hulle op ‘n gegewe tydstip data verbruik, dus gaan dit definitief die spoed waarteen u kan data aflaai verminder. Op diè manier sal u dan nie in die praktyk werklik ‘n uncapped (onbeperkte) konneksie hê nie. Die verskaffer kan in die fyndruk of sg. Fair use policy maatreëls inbou wat homself beskerm om nie te lewer wat hy nie kan bekostig nie. Dit kan byvoorbeeld gespesifiseer word dat jou internetverkeer verstadig of selfs gestop kan word indien jou verbruik bv. 800GB bereik, selfs al sê die advertensie uncapped. Die term shaped to kan ook in die fyndruk onder fair usage voorkom. Dit beteken dat die spoed deur die verskaffer verstadig word wanneer die verbruik ‘n sekere perk oorskrei of tussen sekere grense val. M.a.w. hoe meer  GB mens gebruik hoe stadiger word die konneksie bv. 0-50GB teen 1Mbps en 50-100GB teen 0,5Mbps (500Kbps).

Unshaped  beteken dat geen prioritisering van dataverkeer gedoen word nie en dit is ‘n eienskap wat verkies word deur mense wat groot volumes data wil aflaai direk van ander rekenaars af (peer to peer file sharing)  soos musiek, films, boeke en die rekenaarspeletjies wat deur gamers gespeel word. Lg. is hoogs gevorderde spelers van uiters intensiewe ‘speletjies’ wat ook professioneel kan wees. ‘n Contended konneksie gaan ook nie vir hulle werk nie want dit gaan lei tot frustrasies vir homself en die ander mense wat deel in die konneksie. Ook algemene VoIP (Voice over Internet Protocol) doen beter oor ‘n unshaped (nie-prioritiserende) konneksie maar by spesiale gevalle soos ‘n oproepsentrum (call centre) is dit ideaal dat die konneksie spesifiek oproepe moet prioritiseer want dit is hulle besigheid. Daar is ook ander instansies waar dit voordelig vir die gebruiker is om die konneksie spesifiek vir sy behoeftes te laat prioritiseer. In sulke gevalle is shaping dan gewens. ‘n Ware unshaped, uncontended konneksie is natuurlik baie duur. Hou ook net in gedagte dat jou diensverskaffer dalk self nie prioritisering toepas nie, maar die instansie waar hy sy data aankoop wel. Ter Inligting: Peer to peer file sharing word ook gebruik tydens die opdatering (updating) van Windows 10 wat tans algemeen gebruik word.

Nog ‘n term waarin die gamers en VoIP-fooneienaars veral belang stel is latency. Dit beskryf hoe lank dit ‘n pakkie inligting neem om oor die lyn te beweeg van een punt na ‘n ander en ‘n goeie latency is 5-10 millisekondes. Die variasie in hierdie tydperke word jitter (variance in latency) genoem en as dit te veel is bv. as dit wissel tussen 15 – 200millisek, sal  VoIP – toerusting pakkies inligting weggooi en die klank-kwaliteit sal baie verswak.

 My inligtingsbron gebruik die term Unlimited, wat aandui dat daar geen fyndruk by sy diens betrokke is nie. Die term mag egter ‘n ander betekenis hê vir ‘n ander adverteerder, maak dus eers doodseker wat bedoel word.

Tot sover die terme wat gebruik word waarna u moet oplet in die kontrak en met u diensverskaffer bespreek om seker te maak dat u spesifieke behoeftes aangespreek word. In deel 2 wil ons kyk na die beskikbare tegnologieë.

Indien u enige vrae het voortspruitend uit hierdie artikel, is u welkom om dit as ‘n kommentaar by te voeg en ons sal dit deurgee vir beantwoording so gou moontlik.

Hierdie artikel is geborg deur die Alsatia Consulting

Webadres: www.alsatia.net

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.75 avg. rating (77% score) - 4 votes

2 Comments

  • Goeie dag. Net in terme van terminologie is die gebruik daarvan in die artikel misleidend.

    Bandwydte word in die industrie gebruik om die tempo aan te dui waarteen die data gelewer word (GB/s). Dit word veral in rekenaaringenieurswese gebruik om die tempo van lewering tussen interne komponente aan te dui.

    Die beskikbare data oor die hele maand of tydsinterval sal as kapaseit per maand aangedui kan word.

    • Beste Ig
      Baie dankie vir jou inset. Jy is heeltemal reg dat die tegnies korrekte gebruik van die woord bandwydte die tempo van datalewering beteken. Ons het dit ongelukkig nie duidelik gestel dat daar twee maniere is waarop bandwydte in die omgangstaal deur internetgebruikers en soms bemarkers gebruik word nie. Mens hoor dat ‘n persoon sê hy het soveel bandwydte gekoop, of ‘n bemarker dat jy ‘n bedrag betaal vir bandwydte, terwyl hulle eintlik verwys na die GB beskikbaar in die ‘tenk’ (kapasiteit) en nie na die internetspoed/dataleweringstempo (Mbps) nie. Die eenheid gee dan die deurslag om te verstaan waarvan gepraat word. Dit onderstreep dus die verwarring waarvan jy gepraat het. Die eenheid Mbps i.p.v. GB/s soos jy voorstel, dui dan die ordegrootte van die algemene internetgebruiker se dataleweringspoed aan. Baie dankie weereens vir die terugvoer. Dit is bemoedigend as ons lesers die artikels krities lees. Dit hou ons op ons tone!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui