Geleentheid vir Jongmense, Entrepreneurs en Makers by KragDag ekspo

KragDag se inspirasie om “jou eie ding te doen” is nie net beperk tot die huidige volwasse generasie nie, maar met ‘n toekomsgerigtheid word die lewenslustigheid van ‘n opkomende geslag gekoester. Dit is nie net omdat hulle die langste met die tendense en ingrypende tegnologiese en sosiale veranderinge, wat ons op die horison sien, gaan moet saamleef en hulle daarin moet in- en uitleef nie, maar dit is ook op  hulle wat ons staatmaak om met ‘n fokus op ‘n selfstandigheidslewenstyl kreatief om te gaan om ‘n vlam van welvarende vryheid aan te blaas. Dit is by hulle wat ons ‘n gees van standpuntinname, uitnemendheid, uitstaan en groei wil aanmoedig, onderskeidend van en in kontras met die huidige wêreldgees van middelmatigheid, gelykheid van sosiale geregtigheidsaktiviste.

Van filosofies na prakties word daar tydens KragDag ‘n entrepreneur- asook ‘n makerkompetisie aangebied en wat verdere toerusting vir die dag van môre betref is daar die Opvoedkunde sub-ekspo.

Entrepreneurskompetisie

As jy tussen 0 en 21 is kan jy inskryf vir die KragDag Junior-entrepreneur kompetisie in een van die volgende afdelings:

  • Doelgerig – Vir bestaande of voornemende entrepreneurs wat ernstig is om ‘n sukses van hulle entrepreneuriese loopbaan te maak en gretig en by vermoë is om met die nodige mentorskapleiding hulle hiervoor voor te berei.
  • Voete natmaak – ‘n Ligter weergawe van die Doelgerigte pakket wat hoofsaaklik gerig is op jonger (ongeveer tot 13 jaar) junior entrepreneurs.
  • Vir die pret – Vir die jongeling wat sy produkte op KragDag wil verkoop, maar nie aan die beoordeling of kompetisie beplanningsaspekte wil deelneem nie.

Die inskrywingsfooi is R100 (of R1 600 vir ‘n normale kosstalletjie indien beskikbaar) en jy kry die geleentheid om van 9-11 Augustus by die AfriSake KragDag uit te stal ten einde jou besigheidsvernuf te toets.

Pryse bestaan uit kontant (vir die eerste prys in die Doelgerig afdeling is dit bv. R5 000), sowel as bywoning van ‘n mentorskap program wat gelei word deur die besigheidsafrigter Fergus Fergusson.

Inskrywings sluit op 7 Julie 2018 en jy kan HIER inskryf of ‘n e-pos stuur na info@kragdag.co.za vir meer besonderhede.

Maker kompetisie

Vir diegene wat meer in die tegniese kant van dinge belangstel, is daar ‘n maker kompetisie wat in samewerking met BotShop aangebied word. Jy (en jou vriende) kan enige innoverende ding/dingetjie bou. Die belangrikste vereistes is dat jou ontwerp herwinde materiaal, asook ‘n mate van elektronika moet bevat. Stuur ‘n e-pos na info@kragdag.co.za vir inskrywingsbesonderhede.

——————————————

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui