Teen die jaar 2030 is dit dalk alles verby …
In hierdie klankgreep uit Marianne Breytenbach se Uit die Hoed program op Pretoria FM bespreek Hannes van Heerden hoe jou motor oor tien jaar gaan lyk:
Die motorindustrie staan op die punt om ontwrig te word en daarmee saam vervoer in die algemeen* – net soos in die begin van die vorige eeu. In 1900 was perdekarre nog die mees algemene vorm van vervoer – vir meer as ’n duisend jaar was dit so.
En toe, in die jaar 1913, is daar feitlik geen perdekarre meer in die strate van New York te sien nie. In ‘n bestek van dertien jaar is die perdekar as vervoermiddel volledig deur die motorkar vervang. Min mense kon dit voorsien en talle besighede is hierdeur onkant gevang.
Sedertdien het dit telkens gebeur dat gevestigde industrieë op dieselfde wyse op hulle kop gekeer is. Telkens kon selfs strategiese kenners in daardie industrieë nie ‘n nuwe ontwrigtende tegnologie en/of die gevolge daarvan voorsien nie. Die mens dink nou maar eenmaal nie in terme van eksponensiële veranderinge nie. Ons dink gewoonlik reglynig en verwag stadige of geleidelike veranderinge.
Ontwrigting gebeur egter altyd in ‘n sogenaamde S-kurwe. Aanvanklik sien baie die potensiaal van ’n nuwe eksponensiële ontwikkeling raak. Aan die begin egter is dit nog baie duur en neem dit ook ’n hele ruk voor dit aan gebruikers se verwagtinge voldoen. En dan, op ’n dag, is dit nie net beter nie, maar boonop ook nog goedkoper as die bestaande tegnologie. Dit is dan wanneer die S-kurwe se regop been inskop en dit net nie meer sin maak om vas te hou aan die ou gevestigde manier van doen nie!
Ons kan maar net ons gedagtes laat gaan en terugdink aan produkte soos vinielplate, filmkameras, bandopnemers, tiekiebokse en nog vele meer …
En nou is dit weer vervoer se beurt. Elektriese motorvoertuie, selfbestuur-programmatuur en nuwe besigheidsmodelle, soos byvoorbeeld Uber en Taxify, is reeds besig om die grondslag te lê vir tegnologie-ontwrigting ten aansien van ons “moderne” vervoer. As die huidige tendens van eksponensiële groei op al drie hierdie gebiede in ag geneem word, gaan die vervoer-industrie teen die jaar 2030 beslis heelwat anders lyk:
- ’n Elektriese motorkar het 20 werkende dele. Die binnebrandenjin kar het 2 000. Daar is geen olie om te vervang, tyd om in te stel of ratkas wat onklaar kan raak nie. Met die voertuig se rem-aksie word krag opgewek en die energie word teruggeplaas in die batterye en die remskoene is daar net vir noodgeval. Hoe klink 500 000 km met ’n kar, feitlik onderhoudsvry? Of dalk binnekort ’’n 1 000 000 km.
- Ja, batterye is nog duur. Maar volgens die kostekurwe van die ontwikkeling van batterye, is dit nog net ’n paar jaar, dan is die motorkar met sy energiestoorvermoë goedkoper as die gesofistikeerde binnebrandenjin voertuie van vandag. En dan is die loopkoste van die kar minder as ’n tiende van die voertuie van vandag …
- Selfbestuur-programmatuur en die sensors wat dit moontlik maak, was ’n paar jaar terug nog rykmanspeelgoed. Hierdie tegnologie word egter al hoe meer kompak, goedkoper en meer betroubaar en gaan binnekort min verskil maak aan die koste van motorvoertuie.
- Die gerief van dienste soos wat deur Uber gebied word, maak die besit van ’n eie voertuig al hoe minder belangrik. Die vraag wat gevra kan word is: Indien jy ‘n elektriese voertuig kan huur wat homself outomaties bestuur, wat op aanvraag beskikbaar is (waar en wanneer jy dit benodig), wat nie parkering by jou werk of huis benodig nie, teen ’n fraksie van die huidige koste; sal ons dan noodwendig nog ons eie voertuie wil hê?
Ons leef in opwindende tye. Vervoer van goedere en mense vorm deel van die hart van enige ekonomie. As dit ontwrig word, gaan die wêreld van 2030 heel anders lyk as vandag. Net die tyd sal leer …
* Clean disruption of Energy and Transportation
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.