Hoe hanteer ek verlies en smart?

Covid-19 het die wêreld in rou gedompel. Miljoene mense het reeds beswyk aan die wrede siekte wat onder oud én jonk maai. Hierdie “miljoene” is nie bloot statistiek nie. Elkeen was ’n regte egte lewendige persoon met hoop en ideale vir die toekoms, en elkeen het sekerlik gesinslede, familie of vriende gehad wat bedroef is oor hulle ontydige heengaan. Hoe hanteer ’n afgestorwene se geliefdes die onmeetbare verlies en kruppelende smart om iemand vir wie hulle lief was en wat deel van hulle lewe was te begrawe of veras? Veral nog as die persoon in afsondering in ’n hospitaal of ouetehuis gesterf het en nie die voorreg gehad het om ’n geliefde langs hulle bed te hê gedurende hulle sterwensoomblikke nie.

Praat oor jou verlies

Dr. Eugene Brink wys in ’n artikel getiteld “Die hantering van smart ná die dood van ’n geliefde”, op die volgende: “Die Amerikaanse Sielkundevereniging (APA) sê die eerste stap as jy rou, is om daaroor te praat. Die eksternalisering van jou pyn is ʼn deurslaggewende deel van jou genesing.”

Die ondersteuning van vriende en familie speel dikwels ’n deurslaggewende rol in ons hantering van verlies en smart. Die feit dat iemand met opregte belangstelling en sonder oordeel luister wanneer ons ons skok, verlange, hartseer, woede en selfs vrese uitspreek, help onmeetlik baie om aan opgekropte (en potensieel gevaarlike) gevoelens uiting te gee.

Maar nie almal van ons verwoord hartseer verbaal nie. Sommige sal veel eerder hulle gevoelens neerskryf of dit selfs in een of ander kunsvorm vergestalt. Of jy nou ’n joernaal byhou om aan jou gevoelens en belewenisse gedurende die routydperk uitdrukking te gee, en of jy selfs net foto’s en plasings op Facebook deel – aanvaar en omarm dít wat vir jou verligting in jou gemoed bring. Maak ’n plakboek, komponeer ’n wysie of verf ’n skildery.

Huil oor jou verlies

Gee jouself toestemming om te ween en huil. Rou is immers deel van die lewe. Vergeet vir ’n oomblik daarvan om te probeer sterk wees en op jou tande te byt. Laat jou trane vrylik vloei. Prediker 3:4 herinner ons daaraan dat daar ’n tyd is om te ween. Ons lees ook in 2 Samuel van verskeie kere dat koning Dawid geween het oor hulle wat hy aan die dood afgestaan het.

Carina Stander, bekende skrywer van onder meer Die Bergengel-reeks, het onlangs albei haar ouers, Sarel en Truiki, kort ná mekaar aan Covid-19 verloor. Sy skryf die volgende op Facebook oor hulle hartseer, en ek deel dit hier net so met haar toestemming:

Die hartseer is ’n brander – soms nader, soms verder, maar soos die see is dit altyd op die horison. Ek en my sibbe huil wanneer die hartseer-gety ons  bekruip, want so eer ons ons ouers se legacy. Ons Pa was immers ’n talentvolle huiler. Hy kon hartstogtelik huil wanneer ’n kind gebore word; wanneer die reën die droogte breek; wanneer die plaaswerkers hom elke jaar op sy verjaarsdag voor sy kamervenster wakker sing; wanneer iemand vir hom bid. Ons lag ook gereeld, want ons ouers was begaafde laggers – selfs tragedie en trauma kon onse Ma tot ’n ironiese woordspeletjie inspireer en Pa het dikwels gelag tot hy uitasem is. Ons is gaaf met ons gesinne/vriende/kollegas wat ons so wonderlik ondersteun in hierdie tyd, want ons blymoedige ouers sou nooit blasé raak oor mense wat omgee en troos nie. Ons is allereerlik oor wat ons voel, want voorgee maak mens net moeg. Ons werk en woeker voort, want ons ouers het ons gewys hoe om dankbaar te wees vir geleenthede. Ons huise is netjies, want Ma sou te midde van natuurrampe en krankhede nie haar standaarde laat gly nie – die hael kan ’n jaar se oes wegslaan, daar kan egskeidings en kanker in die familie wees, maar jy skink die melk in ’n mooi melkbeker en skep botter in ’n botterbakkie, jy pluk ’n blom in die tuin vir die blompot, dek ’n tafel en sit aan saam met jou mense vir ’n eenvoudige, hartlike ete. “Want al wat jy in jou hande kan vashou, is hierdie oomblik,” het ons ma ons graag geleer. “Gister is waas, more is ’n waas. Jy het nie beheer oor wat met jou gaan gebeur nie, net oor hoe jy daarop reageer.”

Gaan loer gerus hier na Stander se webblad.

Volkome genesing ís moontlik

Ek het ook gesels met Susann Moolman. Haar jongste het ’n paar jaar gelede op twintig sy lewe beëindig, en sy het op sy liggaam afgekom. Hierdie gebeurtenis het haar lewe vir altyd onherroeplik verander. Sy moes leer hoe om groot verlies en diep rousmart te verwerk in ’n wêreld wat nie maklik oor dood en verlies praat nie. Sy het geweier om vir altyd met hartseer saam te leef en het begin met ’n soektog na volkome emosionele en geestelike genesing. Dit is iets wat ongelukkig nie pasella in jou skoot val nie, maar waarvoor gewerk moet word, aldus Moolman.

Die onverwagte dood van haar kind en die uiteindelike volkome verwerking van haar rousmart het daartoe gelei dat sy die boek, Op vlerke van hoop, geskryf het. Die boodskap is een van emosionele genesing – ongeag wie gesterf het of selfs in watter omstandighede of wanneer dit gebeur het. Moolman skryf: “Dit is nooit te vroeg om te hoop dat jy nie vir altyd sal voel soos jy nóú voel nie, en nooit te laat om rousmart finaal te verwerk nie.”

Moolman gee die volgende wenke om rousmart te hanteer:

  • Moenie jou verlies met iemand anders s’n vergelyk nie. Voel wat jý voel en hanteer jou emosies met groot deernis en begrip. Hierdie is jóú verlies en net jý kan dit op ‘n sinvolle manier beleef en deurleef. Sluit ook jou ore vir al die goed bedoelde, maar ongevraagde raad wat te dikwels deur onkundiges aangebied word. Sluit jou oë vir hoe lank ander mense dink jy hartseer behoort te wees.
  • Sien jou verlies raak en vertel jouself dat dit werklik gebeur het. Jou brein weet dat die persoon dood is en nie weer sal terugkom nie, maar dit neem heelwat langer vir die hart om dit te glo. Dit kan maande (soms jare) neem voordat dit nie soos ’n nimmereindigende nagmerrie voel, of waar hierdie wete jou nie konstant soos ’n uitklophou vol in die gesig tref nie.
  • Moenie wegskram van die emosionele pyn nie. Genesing gebeur alleenlik deur dit te voel en geleidelik te verwerk en nie deur dit te vermy nie. Dit mag dalk soos ’n teenstrydigheid klink, maar genesing lê reeds ín die pyn. Deur saam met die pyn en hartseer te werk, vind jy ’n pad daardeur.
  • Soek doelbewus na nuwe betekenis in jou bestaan. Jou lewe is nie verby omdat jy verlies beleef nie. Jou geliefde het gesterf, nie jý nie. Wanneer jy gereed voel, doen iets tasbaars vir jou medemens. Brei ’n paar musse vir die armes, vertroetel ’n baba in die kinderhuis of spandeer tyd by die DBV. Enige aksie waar jy waarde tot ’n ander se lewe toevoeg, verryk ook jou eie.
  • Jy gaan nie aan met jou lewe asof niks gebeur het nie. Ons kom nie óór verlies nie, maar ons kom beslis daardéúr. Dit is gewoonlik nie ’n kort of maklike pad nie, tog is niks onmoontlik nie. Die hartseer en verlange sal waarskynlik baie langer deel van jou daaglikse lewe wees as waarop jy voorbereid is, en daarom stap jy hierdie pad net een dag op ’n slag.

Moolman beklemtoon ook die volgende: Ons omstandighede sedert die koronavirus sy verskyning gemaak het, het ook rousmart en die verwerking daarvan gekompliseer. Broodnodige fisieke kontak is skielik taboe en digitale ondersteuning het vir seker beperkinge. Wanneer jou hartseer jou heeltemal oorweldig of jy begin wegsink in ’n put van depressie, soek asseblief dadelik professionele hulp. Alhoewel dit nie raadsaam is om ’n natuurlike verskynsel soos rousmart met medikasie te behandel nie, moet kliniese depressie wel aangespreek word. Daar is egter talle alternatiewe maniere om rousmart te verwerk eerder as om dit met medikasie te probeer onderdruk. Spandeer tyd in die natuur, gebruik ’n joernaal as uitlaatklep of skep iets deur te bak/verf/of tuin te maak.

Praat ook met iemand wat jou behoeftes en hartseer sonder veroordeling of ongevraagde raad kan aanhoor en huil jou hart leeg vir so lank as wat dit nodig is. Dit is gewoonlik eers wanneer mens kan stilstaan en terugkyk dat jy groei en genesing kan waarneem. Die belangrikste aspek van professionele hulp is om by die regte persoon uit te kom. “Don’t buy bread at the hardware store.

Op vlerke van hoop beslaan 372 bladsye en is tans in Afrikaans beskikbaar teen R230. Kontak Moolman by floksie@telkomsa.net of 082-486-3961 om die boek te bekom.

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui