Boekresensie: 50 Tydlose hekelpatrone

Outeur: Christa Swanepoel

ISBN: 978-0-6396-0254-7

Uitgewer: LAPA

Hoewel ek self eerder graag lees as om handwerk te doen, probeer ek op hoogte bly van boeke wat waarde vir geld bied vir diegene wat wel daarvan hou om kreatief met hulle hande om te gaan en hoop om moontlik ’n inkomste uit hulle skeppings te genereer. Ek is dus baie opgewonde om Christa Swanepoel se hekelboek, 50 Tydlose hekelpatrone, aan naaldwerkers voor te hou.

Kleurryke watersak – laai hekelpatroon in pdf af (4,09MB)

Hekel is ’n bevredigende stokperdjie wat ook as ’n uitstekende terapeutiese uitlaatklep dien. Dit herhalende beweging het ’n kalmerende invloed op die hekelaar, en natuurlik is min dinge so lekker soos om ’n pragtige en praktiese artikel uit net ’n bol wol en ’n hekelpenne te skep. Die lekkerte daarvan om jou konstruktief besig te hou met hekel is dat jy die stokperdjie letterlik énige plek kan beoefen – langs die atletiekveld, terwyl jy in die motor wag vir die skoolklok om te lui, of wanneer jy in die dokter se spreekkamer jou beurt afwag.

50 Tydlose hekelpatrone is pas op die boekwinkels se rakke uitgepak en lok reeds baie belangstelling. Hierdie kreatiewe hekelboek van 112 bladsye bied ’n wonderlike versameling van 50 hekelpatrone. Dié patrone is spesiaal saamgestel uit die gewilde Hekel saam met Vrouekeur-reeks. Hekelentoesiaste kan kies uit ’n wye verskeidenheid patrone wat maklik genoeg is dat selfs beginners dit kan hekel, alhoewel daar aangeneem word dat gebruikers darem die basiese hekeltegnieke ken. Elmarie Knapton se mooi volkleurfoto’s vertoon elke artikel ten beste.

Swanepoel gee op bladsy 4 baie oulike wenke wat hekelaars in gedagte moet hou en wat hulle moet weet voordat hulle in alleryl begin hekel. Sy gee onder andere die volgende wenke: “Lê voltooide hekelwerk plat neer, bedek met ’n klam lap en laat om droog te word. Lees die verpakkingsmateriaal vir versorgingsinstruksies.” en “Eksperimenteer met verskillende hekelsteke. Ruil die projekte se patroonsteke om vir ’n groter en interessante verskeidenheid. Só kan jy byvoorbeeld van die dekens se vierkante vir die truie gebruik of andersom – hou net by jou mates.” Sy gee ook die verskillende soorte hekelpenne waaruit mens kan kies, byvoorbeeld dié uit staal, aluminium, plastiek en bamboes.

Fyn en Fraai kussing – laai hekelpatroon in pdf af (3,18MB)

Die inhoudsopgawe laat jou sommer lus voel om dadelik te begin hekel. Ek noem die hoofstuktitels en plaas dan in hakies twee voorbeelde van die projekte: Huis en dekor (veeldoelige bêresak en tydlose tafeldoek); Bykomstighede (maklike pantoffels en stylvolle sak); Vir meisies (oorvoutruitjie en maklike bolero); Komberse (seshoekdeken en sigsagkombersie); Vir vroue (nuttige truitjie en rêrige T-hemp); Vir babas (alte fraai rokkie en oorvoubaadjie); Serpe en sjaals (maklike poncho en 3-in-1-serp); Musse en hoede (Klaasvakie-mussie en uniseksmus); Speelgoed (prettige vingerpoppies en ’n leeu vir ’n laaitie), en Allerlei (drasak vir die winkels en badmaats). Agter in die boek is ’n nuttige afkortingslys.

My gunstelingpatrone is beslis die spoggerige, bloedrooi kappiejassie vir meisies op bladsy 26 en die lieflike lappop vir ’n dogtertjie op bladsy 100. Miskien is dit tyd dat ek die boeke vir ’n wyle neersit en my hande besig hou met breidraad.

Meer oor die outeur: Christa Swanepoel brei en hekel van kindsbeen af. Sy het vir jare lank as deel van die Vrouekeur-span hul patrone versorg. Ná die sluiting van dié tydskrif deel sy steeds haar liefde en passie met ander.

50 Tydlose hekelpatrone bied iets vir elke hekelentoesias. Kry jou kopie hier.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui