Klim uit die kas uit! – Akwaponika…organies verby
Die groente in Kleinskuur se akwaponiese stelsel het nog nooit eers snuf in die neus gekry van enige gifstof wat naby hulle verby beweeg het, op hulle gespuit is of dalk in hulle groeimedia of water gegooi is nie. Vleisetende goggas eet die plantetende goggas.
Die bemesting wat die plante so lekker oemf gee is heeltemal natuurlik, dit kom van die visse se byprodukte wat omgeskakel word in nitrate en minerale – net soos in enige biologiese ekostelsel.
Die visse word nie groot getoor met hormone of gesond gehou met antibiotika nie. Hulle groei so lekker vinnig omdat hulle die hele tyd skoon, vloeiende water kry wat deur die plante gesuiwer is.
Ondanks dit alles moet ons ongelukkig bieg dat Kleinskuur Aqaponics se produkte nie die etiket van “organies” mag dra nie.
Volgens die reëls van die organiese gemeenskap, kan ons groente nie organies wees nie, want dit groei nie in die grond nie! Die hele stel reëls om te bepaal wat is organies en wat nie, wentel om dit wat in die grond geplaas word om die plante te laat groei. Aangesien ons plante op die water dryf, pas ons nie in die kas in nie!
Akwaponika het uit die kas uitgeklim!
Hier by Kleinskuur het ons die grootste respek vir die voorlopers, instandhouers en ondersteuners van organiese verbouingsmetodes as boumiddels van ‘n gesonder leefstyl. Dit is ‘n opdraande stryd in die hoofstoomwêreld van groter en vinniger produksie om al hoe meer monde te voed. Dit is soveel makliker om kunsmiskorrels te strooi en peste en plae met gifstowwe te verwoes as om seker te maak dat elke element in die proses van produksie suiwer organies is.
Maar is dit die naletenskap wat ons vir ons kinders en kleinkinders wil los?
Ons deel die organiese gemeenskap se ideale en ons vertrou dat ons saam ‘n oplossing sal vind vir die definisies wat ons tans uitsluit. Tot dan bly akwaponika uit die kas uit! Vandaar ons slagspreuk: Organies verby! Of in Engels: Beyond organic!
Eerskomende Saterdag bied ons weer ‘n kursus aan om kennis oor te dra oor die beginsels van akwaponika en baie praktiese wenke te gee, want ons glo hoe meer suksesvolle akwaponiese stelsels daar aan die gang kom en bly, hoe beter vir die bedryf en ons almal se gesondheid.
Volg die skakel om in te skryf.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.
Goeie dag, ek wil graag meer uitvind oor die aquaponics kursus. Waar word dit aangebied? Ook, hoe gereeld bied jul dit aan?
Kry mens ‘n boekie / brosjure met inligting op of moet ons self alle notas maak?
Sien uit om meer te leer.
Groete,
Karen
Goeie more Karen, stuur gerus vir my ‘n e-pos op info@kragdag.co.za, dan stuur ek vir u meer inligting deur –
Ek wil ook graag meer inligting ontvang oor die aquaponics asb