
Coronavirus (Covid-19) opgedateer
Sedert ons vorige artikel oor die nuwe coronavirus het dit ‘n ander naam gekry en het die prentjie drasties verander. Die siekte het na elke vasteland versprei, behalwe Antarktika en is op 11 Maart deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as ‘n pandemie verklaar. Verskillende lande het allerhande maatreëls ingestel om die siekte se verspreiding te probeer hokslaan, aandelemarkte reageer negatief, mense is paniekerig met stormlope na winkels vir toiletpapier en handontsmettingsmiddels en sosiale media versprei werklike en fopnuus, sowel as humoristiese kwinkslae. Maar wat is die feitelike situasie?
Ten tye van hierdie skrywe is daar meer as 217 000 bevestigde gevalle wêreldwyd, waarvan amper 84 000 reeds herstel het. Van die meer as 124 000 wat nog aktief is, is 94% nie baie siek nie. Die wêreldwye sterftesyfer volgens Worldometer is ongeveer 9 000.
Die res van die wêreld het China verbygesteek in terme van aangemelde gevalle en die episentrum van die siekte het verskuif van die Ooste na die Weste, meer spesifiek na Europa. Italië is die land met die meeste gevalle (amper 36 000) en het ook die hoogste sterftesyfer (ongeveer 3 000). Dit moet net gemeld word dat 23% van Italië se bevolking ouer as 65 jaar is en dat die gemiddelde ouderdom van mense wat hier aan Covid-19 gesterf het is 81 jaar. Italië, tesame met Spanje, Frankryk en Duitsland, vertoon tans meer as die helfte van die aangemelde Covid-19 gevalle buite China. Die Verenigde State van Amerika is nog taamlik ver agter met net meer as 8 000 gevalle.
Op die Afrika-vasteland het ongeveer 30 lande 620 Covid-19-gevalle aangemeld. Net 2 van ons buurlande het al onderskeidelik 2 en 1 gevalle gehad: Namibië en Swaziland.
In Suid-Afrika is die eerste geval aangemeld op 5 Maart en tans is hier 116 bevestigde gevalle. Nog geen sterftes of kritieke gevalle is aangemeld nie en daar word gepoog om alle gevalle se kontakte aktief op te spoor en te toets. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD), staats- sowel as privaat patologielaboratoriums het reeds 3 070 toetse gedoen waarvan 2 954 negatief was.
Pres. Ramaphosa het verlede Sondag ‘n nasionale ramptoestand afgekondig en sekere maatreëls om die situasie te bestuur, wat ons nie alles hier gaan herhaal nie, maar wat ons almal van moet kennis neem.
Om op hoogte te bly van die feite soos die situasie ontwikkel en sodoende onsself te bemagtig om die regte besluite te neem, wil ek ‘n paar bronne voorstel. Die Departement van Gesondheid en NICD het ‘n paar inisiatiewe in werking gestel om die Suid-Afrikaanse publiek in te lig. Gebruik dit as u enige vrae het of onseker is.
- Hulplyn: 0800 029 999
- Whatsapp: Stuur die woord ‘HI’ na 0600 123 456
- https://sacoronavirus.co.za/
- http://www.nicd.ac.za/
Dan is daar ook’n ander tipe waarskuwing. Misdadige opportuniste is blykbaar besig om die situasie uit te buit en doen hulself voor as gesondheidswerkers wat by die slagoffer se hek opdaag om sogenaamd van deur-tot-deur COVID-19 toetse te doen. Daar bestaan nie so ‘n inisiatief nie! Moenie die deur of hek oopmaak nie, maar bel die polisie as so iets met u gebeur.
Ander persepsies
‘n Interessante visuele voorstelling van pandemies (klik op illustrasie langsaan) in die geskiedenis illustreer die volgende: Die dodelikste pandemie, die ‘Swart Dood’ van 1347 – 1351 het blykbaar 200 miljoen mense uitgewis en in 1520 het pokke 56 miljoen lewens ge-eis. Omtrent ‘n eeu gelede het die Spaanse griep die dood van tussen 40 en 50 miljoen mense veroorsaak. Hoe vergelyk SARS se 770 en MERS se 850 daarmee? Maar COVID-19 is nog aan die gang en is reeds oppad na 7 000 sterftes, sê u. Daar is tans nóg ‘n pandemie aan die gang, al vir amper 30 jaar! HIV/VIGS het reeds al tussen 25 en 35 miljoen lewens ge-eis en Suid-Afrika is ‘n voorloper daarmee!
‘n Laaste gedagte: COVID-19 se infeksiesyfer het na ongeveer 2 maande in China begin afplat. Met die nodige maatreëls in werking mag dieselfde patroon dalk wêreldwyd gevolg word, maar almal is nie ewe gemotiveerd of ingelig nie. Selfs al sou so ‘n afplatting gou in Suid-Afrika gebeur, lê ons griepseisoen óók nog voor. Persoonlike voorsorgmaatreëls behoort ook net so ter voorkoming van seisoenale griep toegepas te word. Dan word daar ook elke dag meer as 800 nuwe tuberkulose(TB)-gevalle in Suid-Afrika gediagnoseer, die grootste natuurlike oorsaak van dood in ons land! Dit presenteer óók meestal met hoes en kontakte kan óók reeds aangesteek wees, lank voordat die diagnose gemaak word! Tref ons dieselfde streng voorsorgmaatreëls daarvoor? TB-sterftes in SA het 63,000 in 2018 beloop, en daar word geskat dat daar meer as 320 000 TB-lyers in Suid-Afrika is. Goed, as behandeling getrou gevolg word, is long-TB na 2 weke nie meer aansteeklik nie, maar 40% van die pasiënte raak ‘vermis’ voordat die behandeling voltooi is. Wanneer so ‘n pasiënt wel weer opgespoor word, het die infeksie moontlik in weerstandige tuberkulose verander.
Hierdie lang relaas is ‘n oproep om nie voorsorgmaatreëls te verslap wanneer hierdie pandemie oorgewaai en ‘n sug van verligting geslaak is nie!