Boekresensie: Erfgeld is swerfgeld
Titel: Erfgeld is swerfgeld
Outeur: C. Johan Bakkes
ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1122-5
Erfgeld is swerfgeld
deur C. Johan Bakkes
As jy graag outobiografieë of reisverhale lees, hoort C. Johan Bakkes (ook Johannes C. Bakkes) se Erfgeld is swerfgeld beslis op jou boekrak. Die subtitel van hierdie sagtebandboek van 304 bladsye is heel gepas Reis na binne, die ste-ste plek. Ek het skoon ongeduldig geraak wanneer iets met my kosbare leestyd ingemeng het, want ek kon nie wag om aan te hou lees nie.
Dit was nog altyd by my ’n passie dat mense hulle verhale moet neerskryf. Hoe anders behou ons die geskiedenis lewend vir ons nageslagte? “As die storie nie opgeteken word nie, gaan hy verlore. Die onthou verdwyn in die niet” (Cas Bakkes, geskiedskrywer en die outeur se vader). Die titel van Bakkes se outobiografie was ook sy pa se laaste woorde aan hom voordat dié op negentigjarige ouderdom oorlede is. Kommandant doktor Cas Bakkes se presiese woorde was: “Johannes, onthou, erfgeld is swerfgeld” (13).
Bakkes was as sewejarige hondsiek aan meningitis. Hy vertel: “Vir vier maande en met vier lumbaalpunksies het ek as klein seuntjie vir die eerste keer die seer van die lewe geproe. En al wat my aan die lewe gehou het, was nie die wetenskap nie, maar stories. Stories wat my pa en ma aan my vertel het” (16). Hy skryf ook: “Maar ek self kon nog nooit stories uitdink nie. Ek kan ook nie ’n ander se ervaring oorvertel nie. Ek kan net skryf en vertel oor wat persoonlik ervaar is. Daarom moes ek die lewe aanhou beleef het – oor stories”, en “Daarom skryf ek weer. Vir die onthou, vir my kinders se onthou, vir lesers se herken, want stories mag nie verlore gaan nie” (23).
Hy skryf oor sy behoefte vir avontuur en ontdekking. “Daai behoefte om iets te sien en te beleef waaraan die normale siel nie eens dink nie” (37). Hy en Kalie Kirsten, sy reismaker, het gereeld bymekaar gekom “en bisarre avonture die woeste in bedink” (38). Dan waarsku hy ook dat die karakters in sy stories “regte-egte mense van vlees en bloed” is, en dat hy “hofsake, naamskending en crimen-injuria-aanklagte” hokslaan deur bloot te sê: “Alles wat ek hier kwytraak, is my persepsie. Ek mag dalk verkeerd wees en dan is ek jammer” (58). “Nog nooit in my omswerwinge het ek ooit te koop geloop met wat ek gaan doen nie. Ek het wel wanneer ek teruggekom het, die storie vertel en hoe dit afgespeel het, soos beplan of nie (62).
Hierin lê die heerlikheid van Bakkes se vertellinge. Hy gaan haal sy stories ver, en al klink sommige dalk bisar, te dik vir die spreekwoordelike daalder of pleinweg onbesonne, besef die leser dat Bakkes homself nie spaar nie. Die uitgewersbrief som dit só op: “Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ’n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.” Sy liefde vir sy mense en sy geskiedenis is byna voelbaar en getuig van dié reisiger se groot hart en gees.
Daar is ’n verrassing vir die leser op elke bladsy – hetsy ’n gepaste anekdote, ’n swart-en-wit foto, ’n geskiedkundige staaltjie of oorlewering, ’n interessante feit, ’n wolhaarstorie van sy pa of ’n lewenswaarheid wat jou onverhoeds tussen die oë tref. Deurentyd is daar Bakkes se eiesoortige humor, dikwels ten koste van homself. Of hy nou op ’n seevaart is, in ’n tent in die Nepalese Himalayas of op ‘n sneeumobiel iewers in die Russiese gopse, die leser is midde in die ervaring danksy die storieverteller se lewendige vertelstyl. Gerrit Rautenbach skryf op die agterplat: “Hierdie outobiografiese boek is onverbloemd en onverdund Bakkes in sy unieke vertelstyl. Eerlikheid, dis Bakkes. Sy uitkyk op die lewe word blootgestel, gebalanseer met sy groothartigheid en mensliewendheid.”
Meer oor die skrywer:
Casparus Johannes Bakkes is op 21 Oktober 1956 in Stellenbosch gebore. Hy is ‘n rekenmeester en professor in toegepaste rekenmeesterskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is ook ‘n wêreldreisiger en toergids en skryf graag reissketse. Die volgende het uit sy pen verskyn: Moer toe die vreemde in (2001), Nou’s ons in ons donner in (2006), Norrevǿk (2008), To Hell and Gone (Engelse vertaling van sy eerste twee boeke; 2008), samoe(r)sa reis (2010), Oepse Daisy (2011) en Openbaring (2016).
Ek het heerlik aan Erfgeld is swerfgeld gelees. Skaf dit gerus hier aan.