Sonde met die Geiser

Dit het alles begin op een “normale” middag van die werk af, oppad terug huis toe… ons bly op ‘n plaas Brandbach, net buite Cullinan. 

Ons woon in die Sand-se-kantoor… Op die plaas is daar ‘n sand-gwarrie waarvan ons die kantoor in ‘n twee-slaapkamerhuisie omskep het.

Die karre parkeer onder en dan loop jy nou met trappe aan die kant van die huis op na die woonarea op die eerste vlak. Tralies en ‘n veiligheidshek met ‘n lang stoep…. jy kyk reguit in ons buitekamer in waar my wasmasjien staan, asook ons geiser.

OK, terug na die dood-“normale” middag oppad terug huis toe. Ek het rustig my kar geparkeer en opgestap met die trappe. Ek sluit die traliehek oop en daar aanskou ek die magdom water wat uit my waskamer oor ons stoep van die eerste verdieping af stroom!!!

Ons geiser het totsiens gesê…

Ek bel dadelik my man, en hy laat weet hy is oppad. Ek moet net die drukpomp afsit totdat hy kom. (O ja, ons huisie werk met ‘n drukpomp. So geen krag, geen water.) My man se eerste reaksie was dat hy gedink het dat die geiser se seël gegroet het…

Volgende dag koop ons ‘n nuwe seël, gom en nog alles wat mens benodig en ons vervang die seël met die hoop om ons geiser te red.

Later die middag nadat die seël vervang is, spuit die water nog steeds by die geiser uit en dit stroom soos ‘n rivier by ons stoep af.

“Nee” sê my man! Sy presiese woorde was: “Die gom was seker nog nat. Ek sal weer ‘n seël en gom kry. Dan moet ons langer wag vir die gom om ordentlik droog te word voordat ons die drukpomp aanskakel om water in te tap. DÍE GEISER SAL MY NIE WEN NIE!”

Nou gaaf… gemotiveerd doen ons alles weer oor. Ons is positief dat die nuwe seël die ding gaan doen.

Wat het hy gesê? Die geiser gaan hom nie wen nie? Sy woorde was skaars koud, maar ons badwater was!!

Die seël was toe nie die probleem nie, ons geiser was besig om sy einde te bereik. Ons kon nog warm water gebruik alhoewel dit ‘n proses en ook ‘n mors van water was. Ons het die geiser in die middae aangeskakel sodat dit warm kon word, die bietjie warm water tot ons beskikking benut en die geiser weer afgeskakel.

As ons badwater ingetap het, moes ons vinnig bad omdat daar daar nie warm water vir twee persone was nie. Meer as die helfte van die geiser se water stroom dan by die stoep af. Die water het net meer en meer by die geiser uitgespuit en by ons stoep afgestroom. Natuurlik het die krag ook aanhoudend uitgeskop omdat die geiser se bedrading nat geraak het.

Hier het ons besef ons moes ‘n ander plan maak. Ons het ondersoek begin instel… en het besluit op óf ‘n songeiser óf ‘n gasgeiser. Natuurlik kon dit nie op ‘n meer ongeleë tyd gebeur het nie – dit werk mos altyd so! Covid-19 se inperking het maar oor ons, soos oor baie ander huisgesinne, die oorhand gehad en het dit maar finansieel baie moeilik gegaan.

‘n Songeiser was natuurlik ‘n baie goeie opsie, maar onbekostigbaar vir ons as pasgetroudes. Ons het al baie gasgeiser-installasies gesien en selfs van ons familie gebruik gasgeisers. Ons was baie beïndruk daarmee. Aanlyn, by Makro, het ons toe vir ons ‘n 20 Liter ”Zero” Gasgeiser bestel teen die baie bekostigbare prys van R3 778.00.

Ons was werklik baie opgewonde oor ons nuwe geiser! Omtrent 10 dae nadat ons die bestelling geplaas het, het Makro die geiser kom aflewer. Die nodige installasiemateriaal is aangekoop, asook natuurlik, die belangrikste van alles, ‘n 9 kg gasbottel! Ons was baie nuuskierig oor hoe lank die gasbottel ons sou hou en wou graag toets en kyk of dit nodig sou wees om ‘n groter gasbottel aan te skaf.

Die volgende Maandagmiddag toe ek van die werk af terugkom sê my man dat daar ‘n verrassing by die huis vir my wag. Ons gasgeiser was reeds geïnstalleer! Baie opgewonde oor warm water en nie meer ‘n gesukkel met water wat van ons stoep afstroom nie. Uiteindelik… sukses!

Maar, ons was toe nie so suksesvol soos wat ons gehoop het nie. Die water wou nie warm bly nie. As ons die kraan oopdraai dan hoor jy hoe steek die gasvlammetjie van die geiser aan. Die water word egter net vir ‘n klein rukkie warm en dan is dit weer yskoud! Ons moes heeltyd die kraan oop maak, warm water tap, kort-kort voel en as dit koud word, die kraan toe maak en proses van voor af herhaal.

Die watertoevoer en die gastoevoer het nie lekker gewerk nie … Ons het ondersoek ingestel, maar het ongelukkig nie baie kennis oor gasgeisers nie. So het ons YouTube-video’s gekyk en die handleiding deurgelees! Ons het ook probeer om die gas- en watertoevoer te stel en het getoets of dit werk, maar nee, dit was steeds nie soos dit moet wees nie.

Op ‘n stadium het ons gedink dat dit miskien die drukpomp is wat drukking verloor en veroorsaak dat daar nie watertoevoer is nie. Ons het ook gedink dat ons drukpomp nie sterk genoeg vir die gasgeiser is nie. Toe ek gas op ons stoep geruik het, het ons die gasbottel begin toedraai. Die gasbottel het nie eers 3 weke gehou nie! Dit was klaar ‘n rooi vlag vir ons.

‘n Vriend van my skoonpa, wat vir ons gas voorsien, het ingewillig om na ons gasgeiser te kom kyk. Hy het onmiddelik geweet dat verstellings op die geiser nodig was om ‘n balans tussen die gas- en watertoevoer te handhaaf. Hy het ook die waterdrukking verstel. En nee, gelukkig was die drukpompie nie die probleem nie. Met ‘n nuwe gasbottel gekoppel, het ons eindelik warm water gehad!

Dit was toe ons eie onkunde oor gasgeisers wat ‘n groot rol gespeel het in al die probleme wat ons ondervind het. Mens dink as jy ‘n gasgeiser gekoop het, dat jy dit onafhanklik en maklik kan installeer sodat dit reg en ekonomies sal werk. Dis egter nie so maklik nie. ‘n Mens kort ‘n professionele persoon wat kennis en ervaring van gasgeisers het. Dis ongelukkig nie iets wat jou man alleen kan doen as hy dit nog nie voorheen gedoen het nie.

Ons is nou lekker bederf met ons nuwe werkende gasgeiser! Die water is ongelooflik warm, dis so lekker. Ons kan stort en bad en die water se temperatuur sal nie verander nie. Wat nog lekkerder is, is die feit dat ons nie meer die geiser elke dag moet aan en af skakel nie. Hoeveel kere het ons nie vergeet om die geiser aan te sit nie, en dan moet ons wag tot die water warm is! Dis nou so gerieflik, daar’s nou enige tyd warm water tot ons beskikking. Ons is nie vir ‘n oomblik spyt oor ons besluit nie.

Ons het nou ‘n gasstoof en -geiser en is trots daarop om stadig (maar seker) onafhanklik te lewe!

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui