
Bemiddeling – bevorder selfstandigheid in regspleging!
Bemiddeling = Mediasie = die beter alternatief!
Jy weet mos van prosedeer. Hof toe vat.
- Daardie kliënt, wat eintlik jou vriend is maar wat nie sy rekening betaal nie. Jy wil hom hof toe vat maar jy weet dan is die vriendskap ook daarmee heen.
- Of die huurder wat nie die huurkontrak nakom nie. Dit is altans jou siening van die saak.
- Jou twis met die beheerliggaam oor die rekening wat volgens jou nie reg is nie.
- Jou geveg met die buurman. Eintlik wil jy hom dagvaar maar jy weet as jy dit doen dan gaan jy vir altyd in onenigheid lewe. Dit wil jy ook nie hê nie.
- Jou egskeiding en twis oor die kinders se sakgeld wat maak dat die egskeiding net nie klaarkom nie. Dit sleep nou al voort vir jare…
Klink dit bekend?
Vir die wat al “in die hof” was sal weet dat hofsake op die beste van tye maar onaangenaam is. Om verskeie redes.

- Die maande, en dikwels jare, se gesloer om die saak afgehandel te kry. Getuies wat vergeet. Die landdros is siek. Weer ʼn uitstel. Intussen sloer die saak voort.
- Die regskoste wat van die begin af maar duur was, styg steeds. Jy betaal dit met die gevoel van “dit is nou geld in die water gooi”. Jy weet nie waar dit gaan eindig nie. Jy hoop jy gaan iets terugkry en hoop jy verloor nie die saak nie want dan moet jy dalk nog die teenkant se koste ook betaal!
- Jy is nie lus om te getuig nie. Die spanning van “wat as ek iets verkeerd sê?” En gaan die landdros verstaan wat ek sê?
- Ek wil nie my persoonlike sake in die openbaar tentoonstel nie.
Wat jy eintlik wil hê is om hierdie probleem net so gou as moontlik met die mins moontlike koste agter die rug te kry. Jy wil aangaan met jou lewe. Jy wil graag goeie verhoudinge hê.
Maar hoe gemaak as ek nie die regkoste meer kan bekostig nie. En ek vertrou nie meer die howe nie. Wat is my alternatief tot ʼn hofsaak?
Bemiddeling kan ‘n oplossing bied!
Wat is bemiddeling?

- Bemiddeling is onderhandelings waar ‘n onafhanklike gekwalifiseerde bemiddelaar (mediator) die partye d.m.v. ʼn proses en sekere tegnieke help om te skik.
- Bemiddeling is vertroulik. Dit vind in ‘n privaatlokaal plaas en nie in die ope hof soos met ‘n hofsaak nie. Niemand hoef van jou vuil wasgoed te weet nie.
- Bemiddeling is geprivilegeerd. Dit wat tydens skikking gesê word mag nie later teen ‘n party gebruik word nie. Partye kan dus vrylik onderhandel sonder vrees dat hul iets gaan sê wat hul saak later kan benadeel.
- Enige party kan te enige tyd van die bemiddeling wegstap sonder om sy/haar saak te benadeel.
- Die partye word gehelp in hierdie onderhandelingsproses deur ‘n onafhanklike en gekwalifiseerde bemiddelaar (mediator).
- Die bemiddelaar maak gebruik van ‘n proses en seker tegnieke om die partye te help om tot skikking te kom.
- Die bemiddelaar maak geen bevinding nie, lewer nie ‘n uitspraak nie en maak nie enige bevel nie.
- As skikking bereik word, word ʼn skriftelike skikkingsooreenkoms geteken. Die skikkingsooreenkoms is afdwingbaar in ‘n hof indien dit nie nagekom word nie. Dit is gewoonlik nie nodig om dit in die hof af te dwing nie want die partye kom vrywillig ooreen.
- As skikking nie bereik word nie, reik die bemiddelaar ʼn sertifikaat van “Geen skikking uit”, met of sonder verduideliking. Enige party kan dan verdere stappe neem om die geskil op te los.
BEMIDDELING? … MEDIASIE? … ARBITRASIE? Wat is die verskil?
“Bemiddeling” en “mediasie” is dieselfde ding. “Bemiddeling is die beter Afrikaanse woord maar dit sal nie verkeerd wees om van “mediasie “ te praat nie.
“Bemiddeling” en “arbitrasie” is egter twee verskillende prosesse.
Word bemiddeling net by geskille gebruik?
Bemiddeling kan ook gebruik word om dooiepunte in onderhandelings op te los. Bv. onderhandelings om ‘n kontrak te sluit, of tussen besigheidsvennote wat vashaak met ʼn besigheidsbesluit, ens.
Die voordele van bemiddeling teenoor ‘n hofsaak (litigasie)?
- As jy die geskil (dispuut) kan skik spaar jy jouself waarskynlik baie onnodige litigasiekoste
Wetgewing wat gedurende Maart 2020 in werking getree het, het dit verpligtend gemaak vir partye wat wil litigeer om eers bemiddeling te probeer. Die hof gaan nie vir jou ‘n verhoordatum gee voordat jy nie bemiddeling probeer het nie, of goeie redes aanvoer hoekom jy nie wil of kan bemiddel nie.
- Bemiddeling kan in ‘n kort tyd gereël en afgehandel word.
Bemiddeling kan in dae, selfs ure indien nodig, gereël en afgehandel word.
Hofsake, behalwe in baie dringende gevalle, kan gewoonlik nie vinnig gereël of afgehandel word nie.
- Bemiddeling is ‘n effektiewe, maar eenvoudige en informele proses met min reëls en regulasies.
Hofsake, en selfs arbitrasie, moet aan baie wette, reëls en regulasies voldoen. Dit maak ʼn hofsaak omslagting, duur en dikwels ook riskant.
By bemiddeling hoef jy hoef nie te getuig nie. By ʼn hofsaak gaan jy waarskynlik moet getuig.
- Bemiddeling is baie meer bekostigbaar as ‘n hofsaak.
Bemiddeling is meer bekostigbaar omdat dit ‘n eenvoudige proses is wat nie aan baie reëls of regulasies moet voldoen nie.
Meeste van die tyd word bemiddeling ook sonder ‘n regsverteenwoordiger gedoen. Jy spaar daardie koste.
- Jy hoef nie te getuig nie.
Minder traumaties. Jy kan sê wat jy wil (binne perke) sonder om jou saak te benadeel.
- ‘n Bevel word nie op jou afgedwing nie.
Jy kom ooreen waarmee jy kan saamleef. Dit is ‘n ooreenkoms en nie ‘n bevel nie.
- Meeste soort sake kan bemiddel word.
Hoewel die reg verbied dat sekere soorte sake bemiddel mag word, kan meeste soort sake wel bemiddel word.
Vir verdere inligting of indien jy belangstel om ‘n bemiddelaar te word, kontak: BemiddelingSA (BSA) www.bemiddelingsa.com versoek@bemiddelingsa.com Tiaan: 082 825 8876 |