
Boekresensie: Dit proe soos huis
Titel: Dit proe soos huis
Outeur: Herman Lensing
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-7991-1
Dit proe soos huis
deur Herman Lensing
Herman Lensing was maar 22 jaar oud en vars uit die sjefskool toe hy in 2009 aangestel is as kosredakteur van die glanstydskrif SARIE. Die afgelope dekade het hy ook naam gemaak as “redakteur van SARIE KOS, op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv 147), en in verskeie kookprogramme”. Hy word gereken as een van ons land se gewildste en mees toonaangewende kosskrywers. Hy wen harte met sy innemende persoonlikheid en aansteeklike entoesiasme. Nie net is sy koskennis indrukwekkend nie, maar hy het “begrip vir die alledaagse uitdagings en flaters in ’n doodgewone kombuis”. Dit proe soos huis sluit resepte in uit die gelyknamige TV-reeks wat op VIA te sien is en beslaan 192 bladsye. Dit is Herman se vierde trefferboek en beloof om ’n uitsonderlike kook-en bakervaring te bied aan enigeen wat graag in die kombuis iets lekkers optower.
Dit proe soos huis is ’n ode aan Herman se ma Susan wat onverwags in Januarie 2019 oorlede is. “Met dié boek eer ek nie net my ma se nalatenskap nie, maar ook dié van alle ma’s wat elke dag ’n verskil aan mense se lewe maak. Dis eenvoudige kos uit my ma se kombuis – wel met een of twee nuwe kinkels, maar in al sy DNS pure huiskos. Nou kan jy ook vreesloos kook, nes Susan Lensing elke dag gedoen het.” Hy dra dan die kookboek op aan “my ma en pa wat my met soveel sorg groot gemaak het” en beloof dat hy “sal aanhou kook en die wêreld mooier maak – een bord op ’n slag”. Hy dis dan ook Susan se heerlikste resepte op en vertel in nege interessant hoofstukke propvol pragfoto’s deur Donna Lewis “die storie van sy grootwordjare en verhouding met sy ma – alles gewortel in egte kos wat almal kook”. Volgens Herman het sy ma “almal gevoer wat kom kuier het of net aan die deur geklop het” en het ook aan hulle “padkos vir die siel gebied”.
Sam Woulidge skryf in die Voorwoord die volgende: “Met hierdie boek eer Herman sy ma met sy formidabele talent”. Hy noem die uitsonderlike kosverhaal “’n liefdesbrief tussen ma en seun”. Hy vra tereg hoe ’n mens die lewe sonder ’n ma aandurf en merk op dat Susan vir Herman “kon troos soos net ’n ma kan: met Ma-se-kos”. “Want ’n ma se liefde hou nooit op nie”. Herman sê oor sy ma in die Inleiding: “Sy het my geleer wat dit beteken om eerlik te kook. Wat dit verg om mense om jou tafel bymekaar te bring en binne sekondes te laat versoen. My ma het my gewys dat as jy oor die mag van kos beskik, jy baie kan regkry.”
Ek noem graag hier onder die titels van die verskillende hoofstukke en gee ook drie voorbeelde van die nostalgiese koesterkos-resepte by elk:
Bykos op ’n feestafel: Warm aartappelslaai; Gestoofde groenbone met witpeper; Pampoenkoekies in stroop
“Sondag ná Sondag is daar vroeg opgestaan en het my ma begin kook. Ek weet steeds nie hoe sy dit reggekry het nie, maar sy kon kook, krullers in haar hare draai, ons aanjaag, my pa se kerkklere uithang … en 10-uur was ons in die kerk.”
Die vleispotte van Egipte: Wildspastei met ’n slap kors; Lamskerrie & rys; Beesstert met kapokaartappels
“Tot vandag toe wanneer ek kook, probeer ek haar formule toepas: min bestanddele, maar groot smake.”
’n Karavaan, ’n tent & ’n braaivleisvuur: Hartenbos: Staanrib; Snoek & patats; Hoender oor die kole
“Die vakansies het só verloop: My ma het weke voor die groot optog see toe gekook en gebak om die vrieskas vol kos te kry sodat ons elke dag ’n feesmaal kan geniet.”
Soel en koel: Kerriefrikkadelle; Ingelegde beet; Peppermint Crisp-tert
“Wat my ma my nooit vertel het nie: So lekker soos die saamstel van die spyskaart, die bereiding van die kos en al die mooimaak is, net so belangrik is dit om ook die skottelgoed te was …”
Koue winters, warm poedings: Kastrol-gemmerpoeding; Karringmelkpoeding; Sondagaand-appeltert
“Wanneer my ma poeding gemaak het, het jy geweet alles sal weer reg wees.”
Koekieblikke vol liefde (& troos): Sjokoladedriehoeke; Koffiekoekies, Semelbeskuit
“Maar tipies Ma was sy lankal reeds aan die bak vir die volgende stash – sy het geweet ek is haar kind en ons deel met die mense om ons.”
Dis teetyd – kom in vir iets soets! Ouma Bettie se melktert; Grenadellatert; Koeksisters
“Die yskas in my ma se huis was ’n fabelagtige plek. Jy kon dag en nag daardie yskas oopmaak en jou verlustig in hemelse, soet bederwe, hetsy tert of koek.”
Jou huiskombuis, haar tuisbedryf: Pynappel-wortelkoek; Ystervarkies; Melktertkoek
“Maar die ware treffer waarvoor hierdie tuisbedryf onthou sal word, is Ma se miljoenêrskoek – ’n donker sjokoladekoek gebak in ’n ringpan met ’n weelderige stroop en versier met haselneutsjokolade.”
My kombuis, haar verleiding: Macaroni-en-kaas; Agt-uur-varklies, Magnums vir Ma
“Hierdie hoofstuk is gevul met my kos. Kos wat ek weet haar hart altyd warm gemaak het.”
Heel agter in die Laaste Proe skryf die koskenner- en skrywer Marinda Engelbrecht: “Susan Lensing, jy laat ’n stukkie van jouself agter – Herman Lensing. Want in die hele wêreld was jy net nog ’n ma, maar vir Herman was jy die hele wêreld. En jy sal bly voortleef solank as wat Herman hierdie wêreld een bord kos op ’n slag mooier maak.”
Ek het die feestelike Kersfees-trifle op bladsye 92 en 93 gemaak in voorbereiding van die kersmaal wat ek hierdie jaar vir vriende en familie beplan. Die trifle smaak hemels en is beslis ’n wenner. My gesin het omtrent vuisgeslaan oor wie die laaste happie mag verorber. Ek dink dis die karamelkondensmelk wat die trifle so ekstra lekker maak. Ek gaan dit beslis nie net oor Kerstyd maak nie maar sommer vir verjaarsdae en ander geleenthede ook.

Ek is baie in my skik met my kopie van Dit proe soos huis. Dis voorwaar ’n pronkstuk uit die hart uit en hoort beslis op die rak waar ek my staatmaker resepteboeke maklik kan raakvat om ’n smaaklike ete voor te berei.
Geresenseer deur Louise Viljoen
Skaf gerus Herman Lensing se Dit proe soos huis HIER aan.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————-
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.