Die krag van boeke!
Die skrywer en resensent, Louise Viljoen, sal voortaan via KragDag se nuusbrief informele boekresensies en lesersindrukke deel van interessante boeke wat deur verskeie uitgewers uitgegee word. Sy beskryf haarself as ’n boekwurm wat graag wyd lees. Behalwe honderde lesersindrukke en resensies het daar al verskeie kortverhale uit haar pen verskyn, ook ’n geestelike roman en ’n wetenskapsfiksieverhaal. Haar debuutkinderboek, Bibi Babbelbek praat tot sy blou word, is pas deur Naledi Uitgewers gepubliseer. Sy redigeer, proeflees en spookskryf teks en help ook met manuskripontwikkeling op ’n vryskutbasis. Haar kop is dus vol stories – haar eie en dié van ander. Sy geniet dit veral om skrywers en hulle boeke aan lesers bekend te stel en ’n leeskultuur te vestig. Louise is van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.
Daar is ’n lewendige boekkultuur in Suid-Afrika, maar daar kan beslis baie meer gedoen word om skrywers te ondersteun en boeke in soveel moontlik lesers se hande te plaas. Boeke bevorder geletterdheid. ’n Kind wat van vroeg af blootgestel word aan boeke en stories en wat dan ook later sélf lees, het beslis ’n voorsprong op skool en spog met ’n groter woordeskat. Boeke verbreed die leser se kennis, prikkel die verbeelding en sluit nuwe wêrelde oop. Boeke en stories skep hoop vir ’n andersins donker toekoms, want dit lig moontlikhede uit en skep verwagtinge wat wel bereik kan word as almal saamwerk. Diegene wat lees, dink vir hulself en word minder geredelik aan die neus rondgelei.
Suid-Afrikaanse skrywers se werk word toenemend internasionaal raakgesien en bevorder. Fanie Viljoen se opspraakwekkende kinderboek, Die dag as die draak kom, gaan eersdaags in Mandaryns uitgegee word deur ’n uitgewer in China wat die regte vir die boek opgeraap het. Skrywers soos Chanette Paul, Jaco Jacobs, Deon Meyer en Martin Steyn (om slegs maar ’n paar name te noem) se boeke word ook suksesvol internasionaal uitgegee en bemark. Ons skrywers word ook vir internasionale pryse benoem. Die veelbekroonde kinderboekskrywers, Jaco Jacobs en Niky Daly, is onlangs vir die Hans Anderson-prys benoem vir hulle bydrae tot kinderlektuur – Jacobs as skrywer en Daly as illustreerder. Skrywers kry ook aan die tuisfront erkenning vir hulle werk met skryftoekennings soos onder meer die SALA-toekennings, die ATKV-kinderboektoekennings en Woordveertjies, die kykNET-Rapport-boekprys, ens. Daar word ook jaarliks verskeie skryfkompetisies aangebied – ook deur bekende uitgewers wat graag nuwe skrywers wil ontdek.
Boekskoue en -feeste soos Boekbedonnerd, die US Woordfees en die Open Book Festival (om ook net enkeles te noem) word goed ondersteun en boekbekendstellings en -ondertekeninge kry heelwat aftrek. Daar is verskeie groepe op Facebook wat spesifiek oor boeke en skrywers handel. Lekkerleesboekrak, ’n virtuele kuiergroep vir boekliefhebbers en skrywers, het al byna 10 000 lede. Slegs tien van ons groot uitgewers in Suid-Afrika het in 2017 gesamentlik ’n allemintinge R181m tot die staatskas bygedra.
Doen vandag jou deel om skrywers, boeke en geletterdheid te bevorder. Koop en lees boeke. Gee boeke as geskenke. Sluit aan by die biblioteek en/of ’n boekklub. Begin ’n leeskring. Lees ’n storieboek of twee aan kinders wat nie noodwendig dié voorreg in hulle ouerhuise ken nie. Loop met ’n boek onder die arm. Ervaar die krag van boeke.
Gesels saam:
Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.
——————————————-
Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.