
Kom kyk vir die voëls van Diamantvallei
Op 12 April 2025 het jy die geleentheid om die kuns te leer om ‘n amateur voëlkyker te word. Kom kuier by die Komma Koffiewinkel op Diamantvallei (by die KragDag Terrein). Kliek HIER vir meer besonderhede en om jou GRATIS kaartjie te bespreek.
Kom leer die voëls van Diamantvallei ken en neem deel aan ’n omvangryke opname.
Elke gebied het sy unieke plantegroei, klimaatsomstandighede en voëlverskeidendheid. Voëlkykery het in die afgelope paar dekades gegroei tot een van die heel grootste vertakkings van buitelugaktiwiteite en dit is ’n baie groot bydraer tot die eko-ekonomie. Mense reis rond om voëls te gaan kyk.
Het jy jou al afgevra waarom mense dit doen? Baie mense word groot met ’n jaarlikse bosveld- see- of wildtuinvakansie en neem meer of minder intens kennis van die omgewing wat hulle besoek. Baie verkykers en voëlboeke word afgestof vir die vakansietyd, want dit is wanneer dié tipe toerusting mos gebruik word. Dit is ’n jammerlike toedrag van sake, want in werklikheid is voëls permanent deel van ons lewens – hulle vlieg oor ons, bewoon die bome in ons tuine en benut enige stukkie natuur wat ons hulle gun, selfs in die stad.
Ornitiologie, die wetenskap oor voëls, is een van die wetenskaplike terreine waar amateurs ’n baie groot rol speel. Die insameling van inligting, die aanteken van verspreiding, die aanteken van aankoms- en vertrektye van trekvoëls, die beringing en monitering van voëls is alles aktiwiteite wat baie maklik deur voëlkykers gedoen kan word. Die rede hiervoor is dat voëls baie opvallend en uitkenbaar is en dat die maklik is om na hulle te kyk.
Talle amateurvoëlkykers wat groot bydraes op die gebied lewer, is in die gewone lewe besigheidsmense, huisvroue, studente, dokters, ingenieurs, makelaars, veeartse, predikante, werktuigkundiges, pensioenarisse, skoolkinders, onderwysers en elke ander professie waaraan jy kan dink. Hulle passie is die voëls en hoe meer jy van voëls weet, hoe meer wil jy jou kennis uitbrei.
Daar is deesdae uitstekende voëlgidse in boekvorm én in die vorm van telefoontoepassings. Baie goeie verkykers is beskikbaar teen redelike pryse en voëlkyk hoef glad nie ’n elite- of snob-aktiwiteit te wees nie. Gesinne kan die saamdoen, nie slegs wanneer hulle met vakansie in die Wildtuin is nie, maar elke dag of naweek by die huis of in parkies naby die huis. Dié wat op ’n plaas of buite die stad woon, het ’n voorsprong. Hulle kan langer paaie loop om te gaan voëlskyk en heel gou sal jy agterkom dat jou werf, “jou” parkie en jou plaas of hoewe se voëls bekend raak. Jy kom gou agter wie is die vroeë opstaners en wie is die nagvoëls. Jy leer die verskillende duiwe ken wat dwarsdeur die dag roep en kan reiers, ibisse en roofvoëls in vlug raaksien en herken.
Baie gou sal jy agterkom dat dat voëlkyk ook “voëlhoor” behels. Talle voëls word gehoor lank voordat jy hulle sien. ’n Piet-my-vrou kan ’n seisoen lank in die omgewing wees, sonder dat jy hom ooit sien, terwyl jy hom byna daagliks hoor roep. Voor sonop kan jy lysters, janfrederikke en hadedas hoor en weet die dag sal stellig breek.
Neem deel aan die groeiende belangstelling in voëls en leer die voëls van jou nabye omgewing ken. Dit is groot pret en deur die SA Voëlatlasprojek kan jy ’n groot bydrae lewer deur noukeurig aan te teken wat jy in jou omgewing sien. Daar is tans 225 voëlspesies aangeteken in die atlasvierkant waarin Diamantvallei geleë is, maar daar is nog net 78 lyste ingedien. Ek is seker ons kan beter doen as dit!
Willem Boshoff, ‘n kranige voëlkykentoesias, bied op 12 April 2025 by die Komma Koffiewinkel op Diamantvallei Landgoed (by die KragDag Terrein) ‘n gratis voëlkyk touwysmaak geleentheid aan. Kliek HIER vir meer besonderhede en om jou kaartjie te bespreek.