Boekoorsig: Inspirerende leierskap

Inspirerende leierskap: riglyne vir sukses uit die sakewêreld en die Woord het pas by Lux Verbi verskyn. Ek was voorwaar hoog in my skik toe hierdie tydige boek op my lessenaar beland. Daar is lankal ‘n behoefte na etiese leierskap en Woordgefundeerde aanwysings.

Die uitgewersbrief lui:

“Ongekende uitdagings staar sakeleiers vandag in die gesig. In hierdie boek span die legendariese sakeman Brand Pretorius en die Johannesburgse predikant Jurie Schoeman kragte saam en deel advies op grond van jarelange ervaring in die sakewêreld en lesse uit die Bybel. Hulle wys dat wanneer ‘n kultuur van waardegedrewe en dienende leierskap in jou onderneming posvat, dit jou kanse op sakesukses beduidend kan verbeter.

‘n Etiese maatskappykultuur is nie net ‘n mooi ideaal nie, dit kan jou ook ‘n voorsprong bo jou mededingers gee. Die skrywers illustreer hul weldeurdagte raad met gevallestudies en stories uit eie ervaring. Hulle gee onder meer aandag aan hoe jy ‘n span ten beste kan lei en wat ware sukses is. Inspirerende leierskap is ‘n onmisbare gids vir leiers wat die komplekse uitdagings van ons era met onbesproke integriteit wil takel.”

Soos Stephan Joubert, buitengewone professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, tereg opmerk, stel Inspirerende leierskap ‘n tydlose standaard vir ons verstaan en beoefening van leierskap. Hy skryf dan ook in die voorwoord: “Leiers se morele integriteit is nooit onderhandelbaar nie; hulle tree altyd en oral deursigtig op. […] Leierskap is, uiteraard, allermins ‘n macho-man-vertoning. Daarom bou goeie leiers ‘n sterk span om hulle. Hulle begelei almal in hul organisasie, netwerk, instelling en onderneming om voortdurend nuut te kyk, nuut te dink, nuut te leef. Een van sulke leiers se bes bewaarde geheime is dat hulle leerbaar is. Hulle is lewenslange studente.”

Hy noem daarby dat die skrywers deurwinterde leiers in hulle onderskeie sfere is, wat die waardes en beginsels in hulle boek prakties uitleef. “Hul kennis, insig en wysheid is legendaries. Hul openbare en persoonlike integriteit is onkreukbaar. […] Jy sal aan die voete van dié twee leermeesters ontdek hoe om jou leierskapvermoëns en -vaardighede reg te takseer en verder op te skerp. Jy sal meer oor doeltreffende leierskap te wete kom. En jy sal leer hoe om ‘n span suksesvol te begelei, hoe om dienend op te tree, hoe om selfvervulling te vind in jou leierskapstyl.”

Dr. Brand Pretorius

Brand skryf dat hy sowat 60 leierskap-uitdagings geïdentifiseer en geanker het in sy praktiese leierskapervaring van 53 jaar. Daarvolgens het hy toe riglyne vir sukses voorgestel. Jurie het aan die hand van die Bybel en sy uitgebreide teologiese kennis Brand se voorgestelde oplossing aan Skriftuurlike beoordeling en belyning getoets. “Deurdat ons deur hierdie twee lense kyk, poog ons om op ‘n praktiese manier te illustreer hoe tydlose beginsels en waardes, soos dit in sowel die Ou Testament en die Nuwe Testament vervat is, steeds ter sake is in die hedendaagse ongenaakbare sakewêreld.” Hulle is daarvan oortuig dat indien blywende waardes “die onderbou van ‘n onderneming se kultuur verteenwoordig, die kanse op volhoubare sukses groter is” (16).

Inspirerend leierskap beslaan 222 bladsye en agt hoofstukke sowel as ‘n inleiding. Die hoofstuktitels is “Die leierskap van die self”, “Kenmerke van ‘n beginselvaste, doeltreffende leier”, “Leierskap van ‘n span”, “Die sleutelfunksie van leierskap”, “Dienende leierskap”, “Praktiese leierskapkwessies”, “Sukses en vervulling” en “Slotopmerkings oor doeltreffende leierskap”.

Ek het veral hierdie stukkie goud van waarde gevind: “Studies die wêreld oor het bevind dat dit bykans onmoontlik is om die perfekte leier te vind – om redes wat logies, empiries en sielkundig van aard is. Die oplossing is om ‘n geskikte leier te vind, een wat aan die vereistes rakende die organisasie se kultuur en sleutelbehoeftes voldoen. En om dan dié leier se tekortkominges aan te vul deur die span te versterk. Genoemde soort navorsing maak die gewilde gevolgtrekking dat leierskap as ”n spansport’ bestempel kan word. Volgens my [Brand] is dit egter steeds noodsaaklik dat ‘n mens met integriteit, waagmoed en bekwaamheid moet voor loop, rigting gee en inspireer” (195).

Dr Jurie Schoeman

Inspirerende leierskap hoort op elke sakeman en entrepreneur se lessenaar. Dit is by goeie boekwinkels beskikbaar, maar kan ook hier aanlyn bestel word.

Kompetisie:

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n eksemplaar van Inspirerende leierskap wen. Indien ‘n wenner nie binne 7 dae reageer op die nuus dat hy/sy gewen het en adres vir aflewering verskaf nie, sal hy/sy die prys verbeur en sal ‘n ander wenner aangewys word. Die boekprys kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die prys in aanmerking te kom, kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel waarom jy die boek graag wil wen. Sluitingsdatum 30 Januarie 2026.

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

7 Comments

  • Ek glo ware leierskap is die vermoë om ander te inspireer om hul beste self te wees. Ek wil graag Inspirerende Leierskap wen om my vaardighede te slyp, my span/besigheid op ‘n meer betekenisvolle manier te lei, en ‘n blywende, positiewe impak in my werksomgewing te maak.

  • Ek sal graag self dit wil lees maar ek sal baie meer eerder hierdie boek wil wen vir my manlief wat soms net n klein “nudge” nodig het om hom te laat onthou dat hy n amazing leier in ons huishouding is sowel as in sy werkkring.
    Hy sal hierdie boek van voor tot agter deurlees en baie daarvan toepas op sy daaglikse wese.

  • …enigeen wat al na ‘n gesprek met Dr Pretorius geluister het, sal weet, dat mens verslaaf kan raak, nie genoeg kan kry, van die begeerte om ‘n fakkeldraer te wees van etiese en eerlike leierskap, gekoppel aan diep gewortelde integriteit.., en by wie beter om te leer as die meester homself…

  • Ware leierskap begin nie by posisie of mag nie, maar by karakter. ’n Goeie leier is iemand wat met integriteit en vaste morele standaarde optree, omdat dit die fondament is waarop vertroue gebou word. Sonder integriteit verloor ’n leier sy geloofwaardigheid, en sonder geloofwaardigheid kan hy nooit mense inspireer of lei nie.

    Wanneer ’n leier die Woord van God integreer met kennis, insig, beginsels en ervaring, word sy leierskap nie net ’n rol nie, maar ’n roeping. Só ’n leier verstaan dat sy verantwoordelikheid verder strek as homself soos ook by die huis, die samelewing en die werkplek.

    ’n Inspirerende leier is dus nie net ’n bestuurder van mense nie, maar ’n bouer van karakters en ’n draer van waardes. Hy gebruik sy ervaring en wysheid om ander te bemagtig, en sy integriteit om ’n nalatenskap van vertroue en geloof te laat.

    Leierskap is ’n lewenswyse wat die Woord en beginsels in elke aspek van jou bestaan integreer. Dit is presies die soort insig wat jou ’n sterk kandidaat maak om die boek Inspirerende Leierskap te wen.

  • Ek sien baie daarna uit om hierdie boek te lees.

  • Ek is besig om te kwalifiseer vir ‘n bybelse berader, en ek glo die boek sal my tot beter insigte bring van hoe ek kan help

  • Hi, ek sal graag die boek wil wen, want ek bedryf ‘n vryskutbesigheid as vertaler, teksredakteur en kommunikasiepraktisyn. Ek doen oa. werk vir maatskappye en vertaalagentskappe en ek werk op ‘n daaglikse basis met mense in ‘n besigheidskonteks. Ek beoog ook aanlyn webinare vir ander vryskutte. Verder skryf ek artikels vir tydskrifte wat dikwels te doen het met die sielkundige en sosiologiese aspekte van loopbane en beroepe. Ek glo dat leierskap by jouself begin en dat ek sal kan baat by die boek. As Christen wil ek myself bemagtig vir die sakewêreld.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui