Eiers: Die natuur se superkos

Dit is moeilik om ‘n mens ‘n lewe voor te stel sonder eiers. Natuurlik is daar diegene wat weens gesondheids-, dieetkundige- en/of smaakvoorkeure nie hulle monde daarin sit nie, maar ek en my mense is baie lief daarvoor en eet dit graag.

Ons hou ook ons eie hoenders op die werf aan wat na hartelus kan skrop en vryloop. Nie net is die pluimvee intelligent en het elkeen sowaar ‘n persoonlikheid van hulle eie nie, maar hulle is veeldoelig in die sin dat jy hulle kan slag vir hulle gesonde witvleis of net kan aanhou vir hulle eiers. Ek is mal oor my hoenders se sagte kloekgeluide en nuuskierige geaardhede. Hulle maak sowaar oulike troeteldiere. Dis nogal ‘n ding om gewoond te raak daaraan dat die hane soms al om halfdrie soggens kan begin kraai, maar as hulle die oggend stil is, verlang ‘n mens sommer na jou vroegoggend wekkers wat nie met batterye werk nie.

Van my gunsteling-kleintydherinneringe is hoe ek saam met my tannie Martha op hulle plasie naby Hoogte in die Vrystaat moes gaan eiers uithaal wanneer ek by hulle gekuier het. Sy het presies geweet waar elke hoenderhen haar eiers lê. Dit het soos ‘n skattejag gevoel wanneer ons hier agter ‘n boom en daar agter ‘n ou implement se wiel op eiers afgekom het. Tannie Martha het die kosbare eiers sagkens in haar voorskootsak laat sak, en ek het weer ‘n dosyn of wat in ‘n mandjie gedra. Daarna het sy vir ons die lekkerste eiers op die koolstoof vir ontbyt gebak. Soms het ons eiers gekook en met fyn kwassies waterverftekeninge daarop aangebring as versiering. My oupa het my weer geleer hoe om versigtig aan beide punte van die eiers gaatjies in die dop te boor en dan by die een gaatjie in te blaas sodat die inhoud by die ander gaatjie uitkom. Dan het ons die doppe ook versier. Dit was groot pret.

Eiers kan in hulle totaliteit gebruik word. Die doppe kan fyngemaal word en onder meer gebruik word as kunsmis, om plae te beheer en as komposversterker. Volgens ‘n artikel deur Charné van der Merwe op OFM se webtuiste, kan eierdoppe ook aangewend word as skropmiddel, om klere wit te maak en as kalsiumaanvulling vir mens en troeteldier. Dis ook ou nuus dat tamatieplante welig en gesond groei wanneer jy fyngemaakte eierdoppe rondom die stamme inwerk.

Dan word eiers deur voedingdeskundiges as ‘n superkos bestempel omdat dit so ‘n groot verskeidenheid voedingstowwe bevat. ‘n Eier spog bevoorbeeld met 13 noodsaaklike vitamiene, ses gram proteïen, al nege aminosure en ook mikrovoedingstowwe soos cholien en vitamiene A en D4. Die gesondheidsvoordele van eiers is voorwaar merkwaardig. Dié hoëgehalte proteïenhappies is ook baie veelsydig omdat dit op so baie maniere gaargemaak en gebruik kan word. ‘n Mens kan dit byvoorbeeld koud en warm verorber as ‘n bykos of as die hoofmaal.

Die bekende voedselkonsultant, Annelien Pienaar, skryf in ‘n artikel op Maroela Media dat eiergele en eierwitte apart van mekaar in lugdigte houers vir tot 12 maande lank bevries kan word.

Kom ons kyk in die vervolg met meer respek na die nederige eier.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui