
Tussen verval en vryheid
Daar is wêreldwyd ’n tasbare spanning in die lug. Die wêreldorde wat dekades lank ‘n persepsie van sekerheid gebied het, begin kraak. ’n Nuwe koue oorlog ontvou tussen moondhede, maar soms ook, staatsgrens-agnosties, tussen mense wat sekere waardes deel, maar ten opsigte van spesifieke kwessies radikaal bots in beginsels en insigte. Dink bv. aan hoe daar, selfs binne ‘n voorheen meer-eensgesinde konserwatiewe beweging, nou ‘n dikwels onversoenbare verskil in beoordeling van die Israel en Gaza konflik is. Daar is talle ander soortgelyke voorbeelde. Ook Westerse demokrasieë toon toenemend trekke van die beheerstrukture wat hulle eens as onderdrukkend beskou het. Die boodskap is duidelik: daar is ’n verskuiwing aan die gang – weg van vrye selfstandige indiwidue, na groter en meer verantwoorbaarlose sentrale beheer.
In Suid-Afrika weerklink dieselfde tendens. Die eerste gevalle van onteiening sonder vergoeding het reeds plaasgevind – en dit is nie meer politieke retoriek nie, maar harde realiteit. Boere en grondeienaars kyk toe hoe dekades se arbeid, belegging en hoop onder ’n ideologiese vaandel afgebreek word, terwyl die staat sy greep oor privaatbesit verstewig. Wat eens voorgehou is as “regstelling”, het ontaard in ’n regverdiging van oortreding teen die reg self.
Intussen val die strukture vir orde en geregtigheid uitmekaar. Wat lank vermoed is, word met elke ondersoek oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevestig: ’n kultuur van korrupsie, magsvergrype ter wille van eie belange en onbekwaamheid vier hoogty. Misdaadnetwerke funksioneer nie net met groter samehorigheid en professionaliteit as dié wat veronderstel is om burgers te beskerm nie, maar laasgenoemde vorm dikwels ‘n integrale deel van eersgenoemde. Vir gewone mense beteken dit eenvoudig: jy is op jouself aangewese.
Asof dit nie genoeg is nie, word daar nou gepoog om nog ‘n pilaar van persoonlike vryheid – gesondheidsorg – te nasionaliseer. Die zogenaamde Nasionale Gesondheidsversekering sal in effek beteken dat elke burger van Suid-Afrika se toegang tot mediese sorg, en elke dokter se reg om te werk volgens eie oordeel, onder staatsbeheer kom. Onder die voorwendsel van “omgee”, en beklee in sosialistiese gelykheid, word gesondheidsorg gesentraliseer – die werklikheid is egter dat dit eerder sorg verswak as toegang daartoe verbeter. Wanneer politieke beheer die plek van professionele inisiatief en verantwoordelikheid inneem, is dit nie hervorming nie – dit is die ontmagtiging van die mens se reg om oor sy eie liggaam te besluit.
En dan is daar die stadig verstikkende greep van BEE en indiensnemingswetgewing, wat onder die vaandel van transformasie (wat dit ook al mag beteken) die vrye mark versmoor. Ondernemings word gedwing om te voldoen eerder as om te innoveer; om aan te stel volgens ras eerder as vermoë. Die gevolg is ’n ekonomie wat nie groei nie, maar krimp – en ’n jeug wat nie hoop vind nie, maar padgee … of genoodsaak word om hulle tot misdaad te wend ter wille van oorlewing. Hierdie beleid is ’n nuwe vorm van ekonomiese kolonialisme: ’n stelsel waarin die staat “alomteenwoordig” en “almagtig” beheer; waar die vryheid om te werk, te bou en te besit afhanklik raak van politieke goedkeuring. Dit is nie bemagtiging nie – dit is ’n moderne weergawe van onderwerping en slawerny.
Maar te midde van hierdie verval ontstaan daar ’n ander geluid – die stem van dié wat weier om slagoffers te wees. Mense wat kies om selfstandig te leef, om hul eie energie op te wek, hul eie voedsel te kweek, self verantwoordelikheid te neem vir hulle kinders se opvoeding, hul eie besighede te bou, ‘n alternatiewe ekonomie te ontwikkel. Dít is die filosofie wat KragDag uitdra: staatsbestandheid deur selfstandigheid.
Wanneer die staat die samelewing laat wankel, staan die gemeenskap op.
Wanneer beleid verlam, kies ons om te doen.
Wanneer mag korrup raak, bou ons vryheid van onder af.
KragDag is nie net ’n ekspo nie – dit is deel van ’n beweging. ’n Jaarlikse herinnering dat die ware bouers van ’n samelewing nie in parlemente sit nie, maar in werkswinkels, op plase en in gemeenskappe wat glo dat oplossings nie van bo kom nie, maar van mense wat bereid is om self te doen.
Die wêreld wankel tussen beheer en vryheid. KragDag kies sy kant: selfstandigheid, rentmeesterskap en hoop … en wanneer dit nodig is en eties vereis word, selfs ook nie-voldoening aan skadelike beheer.
Selfstandigheid vereis om op te staan, vas te staan en jou man te staan.
Dit is tyd om te herbedink en om nuut te dink. Maar daar kan nie net gedink word nie, daar moet ook gepraat word, idees gedeel word en met wysheid oortuig word. Om ook net oor oplossings te praat, bring ons nêrens nie … dit moet probeer en uitgevoer word.
Om te rebelleer teen onreg is lofwaardig, om met ruggraat te ywer vir vryheid en reg, is edel. Om saam te werk, saam te leer en saam te bou kan ons die gang van die geskiedenis in gehoorsaamheid aan die Ewige Koning ten goede verander.
Dis waarvoor KragDag staan.
Dis waarvoor jy nodig is!
Ek het sonkrag en plant groente. Dankie vir die artikel. Ons moet vir seker vorentoe beweeg. Sterkte