Wie gaan pa staan vir die koronakatastrofe?
In 2020 het owerhede grootskaalse geweld gemobiliseer om burgers te dwing om, wat vir hulle die kosbaarste is, op te offer. Sosiale omgang met familie, vriende en geloofsgenote moes opgeoffer word. Baie moes hulle werk en hulle besighede opoffer. Diegene wat nie daartoe bereid was om die offers te bring nie, moes tronkstraf, koeëls, traangas en waterkanonne trotseer.
Hierdie offers moes gebring word om ‘n gesiglose koronaraad se vrees vir oorvol hospitale aan te spreek. Dis egter vir almal sigbaar dat baie lewens vernietig is deur sowel die virus en die offers wat gebring moes word. Of die offers aan die hospitaalgod egter mense se lewens gered het, bly ‘n ope vraag.
Hoe meer dit duidelik word dat platgemaakte kurwes nie bestaan het nie, hoe minder het die begrip vir die gesiglose koronaraad geword. Hoe meer mense verloor, hoe minder het hulle om te verloor. Hoe meer mense in hulle huise ingeperk word, hoe minder is hulle bang om in tronke ingeperk te word. Hoe meer owerhede se inkomste in duie stort, hoe minder geld is daar vir waterkanon- en traangasoperateurs. Op díe manier het die grendelstaat se grendels afgeval!
Noudat dit lyk asof owerheidsgeweld nie meer genoeg offers aan die hospitaalgod kan voorsien nie, word inenting bemark as die énigste oplossing. Plakkate, webwerwe, radio, ensomeer… paradeer ‘n eindelose ry van wetenskaplikes, leiers, mediese personeel en gewone mense wat getuig daarvan dat die inenting veilig is en dat elkeen dit moet neem ter wille van ander mense. Hierdie parade laat baie egter wonder of daar nie ‘n slang in die gras is nie…
- Waar produkte normaalweg geld kos, is hierdie produk verniet. Volgens die wet van ekonomie behoort die vraag na ‘n gratis produk oneindig te wees. Redelike mense wonder waarom dit dan nodig is om ‘n gratis produk te bemark!
- Waar produkte ‘n voordeel vir die koper inhou, word hierdie produk dikwels bemark as iets wat ‘n voordeel vir almal behalwe die koper inhou.
- Waar produkte normaalweg ‘n waarborg het, het hierdie produk geen waarborg nie. As jy iets oorkom as gevolg van die inenting of as die inenting nie verhoed dat jy doodgaan aan COVID nie, staan niemand daarvoor pa nie.
Dit lyk egter nie of die bemarking van ‘n produk sonder prys, sonder voordeel vir die koper en sonder ‘n waarborg genoeg offers produseer nie en dus heroorweeg owerhede weer ‘n grendelstaat. Hierdie keer egter moet dit ‘n slim grendel wees wat slegs oopmaak vir mense met ‘n pasboek. Dit skep egter ‘n netelige situasie.
Die Nasionale Party het pasboeke in 1986 afgeskaf. Gaan owerhede die moed hê om weer nuwe lewe te blaas in een van die fondamente van apartheid? Het owerhede geld vir waterkanon- en traangasoperateurs om pasboeke af te dwing? As die polisie die plunderaars in KZN laat begaan het, waar gaan hulle nou nuwe ywer kry om die pasboekloses te vervolg?
Owerhede het gepoog om hierdie warm patat aan besigheid te oorhandig. Met entoesiasme het sommige besighede ‘n inentingmandaat ingevoer. Spoedig is hulle egter daarmee gekonfronteer dat hulle hierdie mandaat in die arbeidshof sal moet verdedig terwyl die media met groot ore luister. Dit het besigheid se aptyt vir die mandaat soos mis voor die son laat verdwyn.
Intussen gaan radiostasies voort met hierdie bemarking totdat… mense hulle radios afsit en oorskakel na iTunes. Konsertsale probeer pasboekbeheer invoer in die hoop dat hulle só weer aan die gang gaan kom. Of hulle dit sal regkry deur toegang te beperk tot die pasboekelite sal net die tyd leer. Dit lyk of die warm pasboekpatat van die een na die ander oorgegee word.
Uiteindelik gaan die pasboekpatat ook op die grond val, saam met die besighede wat moes sluit en honger burgers wat hulle werk verloor het. Uiteindelik gaan die gesiglose koronaraad ook soos mis voor die son verdwyn. Dan lê ons samelewing in skerwe, terwyl die identiteit van diegene wat hiervoor verantwoordelik is steeds geheim bly. Vir die holocaust was daar ‘n Neurenberg, vir apartheid ‘n waarheids-en-versoeningskommisie, maar daar is niks vir die koronakatastrofe nie. Vir altyd gaan geskiedkundiges worstel met die vraag wie sal pa moet staan vir die koronakatastrofe.
Dis tog so maklik om ‘n eensydige sienswyse voor te staan wanneer die ‘koronakatastrofe’ jou nie persoonlik aangeraak het nie. Na drie verlengde episodes in die intensiewe sorg en maande-lange versorging in die hospitaal en tuis, het ek steeds net 50% van die energie wat ek voorheen (as uiters gesonde persoon) gehad het. Te danke aan Covid 19 en PASC. Vir my (en duisende ander soos ek) was elke regulasie ‘n verligting.
Dis tog normaal dat nie elke reël 100% in die kol sou wees nie. Maar ‘foute’ sou eers heelwat later bepaal kon word. (Onthou altyd: ‘hindsight is 20/20’ en laat jou nie werklik slim lyk nie). In die geval van ‘n dreigende pandemie en ‘n situasie waarvan geen ondervinding bestaan nie, is konserwatiewe reaksie na my siening altyd die veiliger roete. Ek kan ook nie help om te wonder wat die ‘slim’ ouens (eerlikwaar) sou besluit het indien hulle aan die stuur van sake was nie…
En dan daarby: vele van die aannames in die artikel kan slegs gestaaf word met sinnelose internet-navorsing. Indien ‘n persoon die nodige tyd en energie spandeer om hersiende mediese navorsing te volg wat in internasionale joernale gepubliseer word, sal jy baie duidelik insien dat meeste van die ‘geraas’ wat daarbuite gemaak word rondom bv. inentings, met uiterste skeptisisme bejeën moet word.
Dit sou tog van baie meer waarde wees om ‘n goed-gebalanseerde, deeglik-nagevorsde artikel te kon lees wat die werklike dilemmas van die ‘koronakatastrofe’ sou weerspieël. Dis tog nie nodig om alles in die lewe te wil verpolitiseer nie?
Francois, ek is jammer om van jou ervaring te hoor, maar dit verhoed ons nie om objektief na die pandemie te kyk nie.
Ek het as afgetredene met baie tyd ‘n studie gemaak van die Coronavirus en sy variante, die pandemie en maatreëls ingestel, en die entstowwe en inentingsprogramme.
Glo my, Bouwe het nie eens die oppervlakte afgeskraap nie. Ek sal nie probeer om jou van die waarheid in te lig nie, want jy sal dit nie glo nie en dit soos sovele dwase summier verwerp as fopnuus. Die globale elite, oligargie, het goed daarin geslaag om ‘n “pandemie” te skep (waar mense letterlik siek word en doodgaan, dis waar) en mense met leuens, selektiewe en vals inligting via die wêreld se hoofstroommedia wat onder hul beheer is, te voer. Die waarheid wat d.m.v. die alternatiewe media na mense gebring moet word, word met alle middele tot hul beskikking doodgedruk en fluitjieblasers as gekke en valsnuusverspreiders voorgestel.
Ja, en nou begin hulle ‘n nuwe een, Ingewandskoors.
Al wat hulle kan doen is mense bevrees te maak om te leef. Pleks dat hulle die geld wat hulle so mors om hulle vrese te versprei, gebruik om water aanlegte reg te maak en skoon water na die vevolking te gee. Maar hulle wil eerder geld van almal afneem deur “suiwer” water te laat bottel en ten duurste te laat verkoop. So hulle maak steeds meer om te kan verduister.
Theo, samesweringsteorieë is so oud soos die berge en het in omtrent alle gevalle presies daar gebly: teorieë. Ek vertou baie eerder harde, wetenskaplike bewyse as die sg. ‘waarheid’ van jou alternatiewe media. Verder spandeer ek my aftrede aan metodes om hierdie stukkende wereld van ons te probeer verbeter, eerder as om te sit en sanik ook water water wat onder die brug deur is. ‘n Positiewe ingesteldheid is op die ou end die enigste verweer. Wat is jou nalatenskap?