Sy woeker deur te hekel

Annatjie Lottering is ’n merkwaardige vrou. Sy is getroud met Harry, en hulle het vier volwasse kinders en vier kleinkinders. Sy ly aan ’n seldsame neuro-endokriene kanker (karsinoïed), maar is in haar eie woorde “te besig om siek te wees”. Ná verskeie operasies, chemoterapie en bestraling om die groei van die kanker te vertraag, moes die Lotterings onlangs noodgedwonge hulle mediese fonds opsê. Die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie grendelstaat het dié gesin, soos baie ander, swaar getref.

Die egpaar kén van opstaan en wéér probeer. Hierdie raakvatvrou met die sonnige geaardheid laat haar deur niks onderkry nie. Sy is baie lief daarvoor om op bestelling vir mense te hekel en ’n inkomste te genereer. Sy hekel die lieflikste skootkomberse in die kliënt se gunstelingkleure. Dan hekel sy ook graag randjies om vadoeke, waslappe en handdoeke. Hierdie items is baie gewild by kombuistees, want dit skep ’n eg huislike atmosfeer. Die ontvanger van só ’n nostalgiese geskenk wat outydse waardes onderskryf, is gewoonlik aangenaam verras om ’n keurige geskenk te kry wat met vernuf en liefde spesiaal vir haar gemaak is.

Annatjie het ook onlangs begin om die mooiste bababedjies te hekel met ’n dik tipe t-hemp materiaal. Dit is nogal swaar op die polse om te maak, maar sy stel haar die gelukkige dogtertjie wat so ’n besondere handgemaakte bedjie vir haar pop kry, voor. Die drabedjies kan glo ook gebruik word om babatjies in neer te lê. Die bedjies is stewig, snoesig en sag. Dit kan in die kliënt se gunstelingkleur gemaak word en sal ’n baie spesiale geskenk maak by ooievaarstees. Dit kan selfs ’n kosbare familie-erfstuk word.

Dan is Annatjie ook baie lief daarvoor om sagte speelgoed te hekel. Kliënte kan uit verskeie dierekarakters kies en sê hoe groot of klein hulle dit verkies. Sy hekel ook van hierdie oulike dierekarakters bo-op waslappe en noem dit “dudu-bersies”. Mense kontak haar ook om gehekelde babapakkies te bestel vir babas se eerste fotografie-sessies.

Annatjie hou daarvan om met wol van verskeie kleure en teksture te eksperimenteer. Dit is vir haar ’n terapeutiese tydverdryf en hou haar hande besig. Sy kan nie net stilsit nie. Boonop is sy baie dankbaar vir elke sent wat sy verdien deur haar liefde vir hekel uit te leef. Sy hou van die kreatiewe uitdaging, en dis vir haar lekker om die vreugde op ’n kliënt se gesig te sien wanneer dié haar werk sien.

“Hekel hou my gedagtes besig. Ek hou daarvan om kreatief te wees en te sien hoe my skepping vorm aanneem,” sê sy. “Ek maak elke item met die grootste liefde en sorg.” Sy is baie dankbaar teenoor die Here wat haar die liggaamskrag gee om, al voel sy soms geweldig moeg en uitgeput, steeds vreugde uit haar hekelwerk te put.

Belangstellendes is welkom om vir Annatjie te skakel by 083 496 5278. Sy hekel graag op bestelling. Ondersteun hierdie dapper vrou gerus.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui