My kind is oorgewig. Wat nou?

Onlangs noem ’n vriendin raadop dat haar seuntjie baie oorgewig is, en sy weet eerlikwaar nie hoe om hom te help nie. Dit breek haar hart, maar sy vermoed dat hy oor sy gewig gespot word, al ontken hy dat sy maats met hom lelik is wanneer sy hom daaroor pols. Hoe sê sy “nee” wanneer hy kla hy is honger of is lus om aan iets te peusel – hy eet dan so lekker, en sy hou daarvan om hom te bederf. Sy besef haar kind moet gesonder eet en koop gesonde, voedsame kos aan, maar hy verkies om eerder pizza te eet vir middagete as ’n slaai. En sy neem hom nie kwalik nie, want wie wil nou vervelige slaaiblare eet as jy jou kan verlustig aan ’n warmbrak waarvan die sous so spuit as jy daaraan hap.

Dit laat my dink aan jare terug toe ek as die hoof van ’n privaatskool gereeld pouses tussen die leerders rondbeweeg het. En soos kinders maar is, sou hulle met hul oop kosblikke aangehol kom om vir Juffrou ’n versnappering aan te bied. My oë wou dikwels uitval oor die inhoud van die kosblikke. Dit was tóé al vir my duidelik dat min ouers besef hoe belangrik dit is om gesonde, voedsame eetgoed vir hulle kinders in te pak. Dikwels was hulle net só besig dat daar nie tyd was om nog die inhoud van die kinders se kosblikke óók te beplan nie. Baie ouers het verkies om vir hulle kinders ’n geldjie in die hand te stop om pouses by die snoepie te spandeer. Natuurlik kon Boeta of Sussa nie wág om pakkies aartappelskyfies of sjokoladestafies te koop nie. Die gevolg: oorgewig kinders.

My raad aan my vriendin was die volgende:

Maak ’n afspraak met jou huisdokter om enige mediese rede waarom jou kind dalk oorgewig is uit te skakel. Bel vooraf en bespreek jou bekommernis met die dokter sodat jy nie nodig het om voor jou kind te sê dat jy hom of haar bring sodat die dokter kan kyk waarom hy oorgewig is nie. Dis belangrik dat die dokter ook sensitief en taktvol sal wees en nie pertinent op die kind se gewig hamer voor die kind nie.

Gaan sien ’n dieetkundige en vra vir die persoon om vir julle as gesin ’n gesonde eetplan uit te werk na gelang van julle behoeftes en begroting. Moenie soseer die kind alleen uitsonder om gesonder te eet nie, maar maak dit ’n spanpoging.

Laat die dieetkundige vir jou verduidelik hoe groot jou kind (en ander gesinslede) se porsies behoort te wees.

Maak dit ’n gewoonte om weer as ’n gesin saam aan tafel te eet. Mens eet maklik meer wanneer jou aandag deur die TV afgetrek word. Leer jou kind goeie tafelmaniere. Eet stadig, bewustelik, en kou ordentlik.

Doen jou inkopies na gelang van die wenke en raad wat die dieetkundige jou gee. Sorg dat daar nie gemorskos in jou huis is nie. Moenie dinge soos gaskoeldranke, beskuitjies en lekkergoed aankoop nie. Sorg dat, as jy wel daarvan aankoop vir af en toe se spesiale bederf, jou kind nie vrylik toegang daartoe het nie.

Pak jou kind se kosblik oordeelkundig volgens die dieetkundige se raad. Gesonde eetgoed hoef nie noodwendig duur te wees nie. Wees kreatief.

Moenie vir jou kind snoepiegeld gee as jy weet hy gaan dit op lekkergoed uitgee nie. Gesels met die skoolhoof en vra dat die skool gesonder eetgoed aan kinders verkoop.

Moenie dat jou kind kies wat hy wil eet nie, behalwe as dit tussen twee gesonde opsies is.

Sorg dat jou kind genoeg water drink en voldoende slaap inkry.

Kry jou kind aan die beweeg. Dit beteken meestal dat jy skermtyd moet inkort. Swem, ry fiets, stap, werk in die tuin, dans op maat van musiek, speel krieket op die grasperk, maar beweeg, beweeg, beweeg.

Begin ’n groentetuin en leer jou kind waar kos vandaan kom. Dis mos lekker om ’n tamatie vars van die plant af te pluk en te eet. Plant ook vrugtebome en verskillende tipe bessies.

Betrek jou kind wanneer jy kosmaak. Hy kan dalk die slaaiblare vir jou was. Laat hom aan groente en vrugte raak en ruik. Wanneer jy opgewonde is oor voedsame kos, sal jy hom anders daarna laat kyk.

Wees bedag daarop dat jou kind moontlik sal huil en neul omdat hy “honger” is, maar eintlik is hy net lus vir trooskos of is hy verveeld. Leer jou kind hoe om te onderskei tussen regtig honger wees en sommer net lus wees vir peuselhappies. Dit sal ook help om die kind ’n glas water te laat drink en sy aandag af te trek met ’n aktiwiteit wat nie kosverwant is nie.

Help jou kind om gesonde keuses oor kos uit te oefen deur aan hom te verduidelik waarom ’n kraakvars appel gesonder is as ’n pakkie aartappelskyfies. So sal hy ook leer hoe om by maats die regte keuses te maak oor wat hy eet of nie.

Besin daaroor of jou kind professionele hulp nodig het omdat hy weens sy gewig gespot word. Kinders kan maklik angstig en depressief raak of verwerp voel en dan meer wil eet om hulle emosionele pyn te stil.

Jou kind se gesondheid is in jou hande. Sien raak as jou kind hulp nodig het en gee dit vir hom eerder vroeër of later.

*Die outeur het nie enige mediese agtergrond nie, en die artikel is nie veronderstel om as mediese raad te dien nie. Sien dus u geneesheer of dieetkundige vir mediese raad.

5.00 avg. rating (97% score) - 3 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Moenie goedkoop koolhidrate aanhou nie. Die mens is aangepas om koolhidrate op te soek, want ewolusioner was dit raar. He proteine en gesonde vette en vars produkte in elke maaltyd. lees die bestandele lyste en leer wat dit beteken. Die voedsel fabrieke is nie jou oppasser nie.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui