Nie alles in die lewe is ’n vrye keuse nie. En dit is goed so.

Baie van die mees basiese en dierbare dinge het ons as geskenke ontvang: die gesin en familie waarbinne ons gebore is, die gemeenskappe waardeur ons die openbare lewe betree, die kerk wat ons in ’n ewige verband bring, en meer. Van hierdie institusies – en die aansprake wat hulle op ons maak – kan ons elkeen mettertyd met reg of ten onregte ’n sekere afstand neem, maar ons begin in afhanklikheid daarvan.

Nie alles is egter so fundamenteel soos hierdie ewige institusies nie. Oor meer vlietende verskynsels het ons ’n keuse. Byvoorbeeld, die 2024 nasionale verkiesing in Suid-Afrika. Hieraan kon ons deelneem en op plaaslike, provinsiale, of nasionale vlak ’n invloed uitoefen op wie uit die spyskaart van politieke partye watter van die staat se strukture beheer. Dat die ANC nou onder 50% op nasionale vlak gekry het, beteken die mag binne in die staat is hierdie keer so ’n bietjie meer versprei. Ons sal moet sien hoeveel dit in praktyk werd is.

Staatlike verkiesings het ’n belangrike tekortkoming. Hoewel daar vryheid is in die keuse tussen politieke partye, is alles gerig op herverdeling van mag BINNE die staat.

Nêrens op die stembrief is daar die opsie van oplossings BUITE die staat nie. Wanneer staatsverval so omvattend is soos in Suid-Afrika, is alternatiewe van groot belang. Behalwe die keuse om te stem in nasionale verkiesings, moet ons ook keuses uitoefen om die verval teen te gaan ongeag verkiesings.

Die Sakeliga KragDag Ekspo is so ’n alternatiewe keuse.

Die Ekspo is ’n byeenkoms van mense wat mekaar wil help om meer selfstandig en meer staatsbestand te word, sodat hulle tesame – met of sonder toestemming van die staat – hul gesinne, gemeenskappe, kerke en ander instellings kan laat floreer. Dit is ’n byeenkoms van mense wat hul besighede suksesvol wil maak ongeag staatsverval soos kragonderbrekings en ongeag staatsinmenging oor wat die ras van jou sakevennote en werknemers moet wees. Ter wille van wie? Ter wille van hulself, hul gemeenskappe, en alle gemeenskappe waar hulle besigheid doen en met wie hulle saamleef.

Nie alles in die lewe is ’n vrye keuse nie. Maar sommige dinge is. En dit is wonderlik.

Soos die keuse om anderkant die beperkende keuses van ’n vervallende staat te tree, deur die een hand in eie boesem te steek en die ander hand te reik na jou naaste. Om selfstandig op te tree vir ’n toekoms in die plek wat jy liefhet.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Piet le Roux
  • Piet le Roux
  • Piet le Roux is sedert 2017 die Uitvoerende Hoof van Sakeliga. Hy is ‘n alumnus van die Universiteit Stellenbosch, en beskik ook oor ‘n meestersgraad (Unisa) in Ekonomie oor die impak van Swart Ekonomiese Bemagtiging op ekonomiese groei.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui