Eie Rigting
Naledi publiseer Willie Spies se boek getiteld Eie Rigting.
Spies dra hierdie publikasie op aan sy vrou, hulle sewe kinders, “en veral julle nageslag, want ons is bloot rentmeesters en elke geslag moet verantwoordelikheid neem vir sy eie tyd en roeping.” Hy skryf op Facebook: “Ek hoop werklik die boek word gekoop en gelees as my eie bydrae om rigting en hoop te vind te midde van die chaos en onsekerheid waarmee ons dikwels in ons mooi land en sub-kontinent gekonfronteer word.”
Eie Rigting beslaan 374 bladsye en is opgedeel in vyf afdelings, naamlik “Eie verhale”, “Eigeregtigheid”, “Eie idees”, “Eie instellings” en “’n Goeie toekoms”. Die rubrieke is nugter en weldeurdag geskryf en gee baie stof tot nadenke.
Die lokteks op die agterblad lui: “Eierigting is ’n regsterm wat beteken dat jy die reg in jou eie hande neem. In ’n grondwetlike bestel is die uitgangspunt dat die burgery kollektief hul reg om hulself te beskerm oordra aan
die staat. Wanneer die staat daarin faal en nie meer sy burgers beskerm nie, verander die situasie. Dan raak eierigting nodig.
“Willie Spies skryf sedert 2016 – die jaar van Fees Must Fall in Suid-Afrika en die verkiesing van Donald Trump in die VSA – rubrieke vir Beeld en Netwerk24.
“Die rubrieke ontgin die stand van die makro-omgewing van verval van die staat waarin Suid-Afrikaners hulle bevind gedurende die jare van staatskaping, die einde van die Zuma- bewind, die EFF, die einde van Afrikaans in die universiteitswese, die era van Rama-forie, die COVID-pandemie en gepaardgaande wêreldgebeure, in historiese konteks. “Dit ondersoek ’n nuwe vryheidsideaal, 30 jaar ná die verkiesing van 27 April 1994 en
beskryf hoe eierigting regmatig deur instellings van die burgerlike samelewing plaasvind wat
leemtes vul wat die staat ooplaat.
“Dit keer telkens terug na die mikro-weklikheid van eie menswees, geloof, hartseer, eensaamheid, verlies, ouer-word en vergifnis.”
Hier is die titels van sommige skrywes as ’n lusmaker: “Staatsversuim lei tot eierigting”, “Universiteite in gyselaarskap”, “Konseponteieningswet geen goeie nuus”, “Grond: Dankie, ANC-wegblyers”, “Gesoek: Nuwe vryheidsdroom”, “Grondbesit in SA het só begin”, “Beveg tirannie van staatsmag”, “Flukse patriotte ewig aan’t bou” en “Wees liewer ’n bitter-beginner”. Dis egter die titels van die laaste afdeling, “’n Goeie toekoms”, wat sorg vir hoop. Hier is enkele voorbeelde: “Kom ons bly hoop en werk”, “Ons voel tuis en kry erkenning in gemeenskappe”, “Toevlug na die Kaap op Orania”, “Só eis mense vryhede terug”, “Nuwe geslag regslui in Afrika gee hoop”, en “Howe was in ’23 baken van hoop”.
Uittreksel: “Soos dertig jaar gelede is ons weer onseker waarop alles gaan uitloop, maar die een standhoudende faktor in die geskiedenis van Suid-Afrika is die bestaan en toewyding van goeie mense wat ten spyte van onsekerheid en ten spyte van vyandigheid net aanhou om die goeie te doen en nie moeg te word nie” (334).
Skaf jou kopie van Willie Spies se Eie Rigting hier aan.
Meer oor die skrywer: “Willie Spies is ’n regspraktisyn, uitvoerende direkteur van ’n bekende Afrikaanse gemeenskapsradiostasie, oud-parlementslid en gesinsman. Hy het bekend geraak as prokureur wat gereeld in publieke belang regsaksies namens die burgerregtegroep, Afriforum, optree. Sedert 2011 lei hy ook deeltyds die gemeenskapsradiostasie Pretoria FM en in dié tyd het die stasie gegroei en ontwikkel tot ’n suksesvolle media-instelling wat meeding met kommersiële en openbare uitsaaiers. Hy skryf tweeweekliks rubrieke vir Beeld en Netwerk24 oor die dinge waaroor Suid-Afrikasners rondom braaivleisvure wonder.”
Kompetisie
Twee gelukkige lesers kan elk met die komplimente van Naledi ’n kopie wen van Wilie Spies se Eie Rigting. Al wat jy moet doen om in aanmerking vir die boekprys te kom, is om onder in die kommentaarveld te skryf waarom jy graag die boek sal wil wen. Die wenboek kan slegs na ’n adres in Suid-Afrika versend word. Sluitingsdatum 30 Augustus 2024.
Dit voel asof eierigting al is wat oorbly wanneer die regstelsel jou herhaaldelik vaal en jy nie meer weet watter kant toe nie. Die ekonomie is in sy kanon, mens kry nie werk nie, want daar is nie werk nie of jy word oorgesien gebasseer op jou ras. PLUS…Hoe beskerm jy jouself en jou kinders as jou landswette en howe dit nie doen nie.
Iewers soek mens net ‘n ligpunt en ‘n bietjie hoop dat alles “okay” sal wees en dat dinge beter sal gaan. Iewers wil mens ook net ‘n positiewe bydrae maak en ‘n positiewe nalatenskap aan jou kinders wil laat.
Ek sal graag hierdie boek wil lees, want ek glo dit sal ‘n ongelooflike ligpunt in my lewe wees in oomblikke van wanhoop.
Baie geluk, Nicole. Jy wen ‘n kopie van hierdie boek. Ons sal per e-pos in kontak wees.
“Eie verhale”, “Eigeregtigheid”, “Eie idees”, “Eie instellings” en “’n Goeie toekoms”. Asook “Dit keer telkens terug na die mikro-weklikheid van eie menswees, geloof, hartseer, eensaamheid, verlies, ouer-word en vergifnis.” is die werklikheids vrae van vandag: “eendragt maakt mag” was op die wapen van Transvaal, om in samehorigheid “Geregtigheid” te laat geskied is die enigste manier, maar wat word van die “EIE” en hoe deel jy met wat jy werklik as belangrik vind.
Baie geluk, Francis. Jy wen ‘n kopie van hierdie boek. Ons sal per e-pos in kontak wees.