Werk soos ’n miljardêr
Tafelberg Uitgewers publiseer Daniel Strauss se splinternuwe boek getiteld Werk soos ’n miljardêr. Strauss is ook die skrywer van die topverkoperboek Dink soos ’n miljardêr. (Lees hier op KragDag se webtuiste meer oor laasgenoemde boek.)
Die uitgewersbrief stel Werk soos ’n miljardêr só bekend: “Daniel Strauss … deel in sy nuutste boek nuttige, praktiese raad waarby alle entrepreneurs sal baar vind. Die storie is propvol waardevolle wenke oor hoe om rykdom te skep, hoe om jouself beter te leer ken, terug te gee en volhoubare besigheidstelsels te bou.” Storie? Ja, Strauss vertel die verhaal van ene Dan, ’n werknemer in sy middeldertigs wat van salaristjek na salaristjek probeer oorleef. Hy wil graag eendag sy eie besigheid begin en vir homself werk, maar hoe doen hy dit sonder enige aanvangskapitaal en verskeie ander uitdagings wat in sy pad staan?
Die boek se subtitel, Van Werknemer tot Entrepreneur: ’n storie van sakesukses, som die inhoud mooi op, want Dan leer hoe om vry te kom van ’n onbevredigende werk en meer persoonlike en finansiële vryheid te hê. Finansiële- en sakebegrippe en beginsels word slim vervleg en in ’n maklik verteerbare en vermaaklike vorm aan die leser gebied sonder om hom of haar te oorweldig met materiaal wat aan ’n droë studiehandleiding herinner. Nogal ’n interessante konsep – byna soos om speel-speel te leer of in dié geval lees-lees. Ek vermoed lesers gaan hierdie vriendelike benadering verwelkom en meer inneem, want mens beleef saam met Dan hoe sy besluite en keuses prakties ontvou. Alles verander nie oornag vir Dan nie, maar hy doen baie navorsing, vra raad by kenners wie se insig hy vertrou en woon ’n leersame sakeseminaar by. Sy pad na uiteindelike sakesukses is nie sonder duwweltjies nie; hy leer harde klippe kou, moet moeilike besluite maak, en dinge gaan nie altyd volgens plan nie. Stadig maar seker leer hy egter by kenners en deur eie ervaring hoe om sy oë oop te hou vir geleenthede en homself te posisioneer vir groei.
Uittreksels:
“Jy wil jou besigheid so struktureer dat dit sonder jou kan oorleef. Hoe meer dinge vir jou duidelik word, en hoe meer strukture jy in plek kry, hoe makliker is dit om stelsels in te stel en spanne in plek te kry. Dis hoe jy meer kliënte in plek gaan kry, asook beleggings om jou onderneming vinniger te laat groei” (173).
“Kyk Dan, jou bate is die stelsel wat jy opgebou het. Die hele stelsel. Dit bestaan uit die produksie en bedryfstelsel, die navorsing- en ontwikkelingstelsel. Al hierdie dele van jou besigheid vorm saam ’n stelsel en wanneer dit baie goed saamwerk, skep dit kontantvloei deur mense se probleme op te los Dít is waarin ek wil belê. Dit gaan om veel meer as bloot net die produk. My direksie sal wil weet hoe jou stelsels aandeelhouerswaarde skep” (224).
Meer oor die skrywer:
Daniel Strauss, ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur en waagkapitalis, het ’n ingenieursgraad sowel as ’n MBA agter sy naam. Op 29 woon hy ’n drie dae lange seminaar in Suidoos-Asië by waar hy leer oor lewensveranderende persoonlike groei en ook sakegeheime ontdek. Saam met sakevennote belê hy in 70 privaat maarskappye. Een van hierdie maatskappy se waarde groei binne twee jaar van R26 miljoen tot meer as R1,2 miljard. Hy is die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss. Dis sy passie om as mentor sy sake-ingesteldheid te deel.
KragDag-lesers kan gerus hierdie boek aanskaf. Dit is aanlyn en by boekwinkels beskikbaar maar kan ook hier bestel word. ISBN-13: 9780624092742
Kompetisie
Een gelukkige KragDag-leser kan ’n kopie van Daniel Strauss se Werk soos ’n miljardêr wen met die komplimente van Tafelberg Uitgewers. Laat weet hier onder in die kommentaarveld waarom jy graag die boek sal wil wen, en dalk word jy as ons gelukkige wenner getrek. Sluitingsdatum 2 Julie 2023
Ek is ook ‘n ingenieur, soos Daniël, maar ongelukkig nie ‘n sakepersoon nie. Ek wil graag een word, en glo dat ek materiaal soos hierdie boek kan gebruik om my te help met my idees en die implementeering daarvan. Welgedaan Daniël, en dankie vir die kennis wat jy met ons deel in hierdie boeke!
Baie geluk, Frit. Jy wen ‘n kopie van Werk soos ’n miljardêr. Ons sal met jou in aanraking kom om te reël waarnatoe jou boekprys gestuur moet word.
Dit sal interresant wees om te hoor van Daniel hoe n mens n kopskuif kan maak om aan ‘n besigheid te werk en nie in ‘n besigheid nie. Ek hoop Daniel se boek sal my kan help om op die regte aspekte te fokus om soos ‘n Miljarder te kan dink en op tree.