Lees meer oor geldsake
Die afgelope tyd het daar ’n paar boeke verskyn wat oor geldsake en die raaksien van sakegeleenthede handel. Ek vertel meer oor drie van die boeke hier onder.
Welvaartskeppers (Riaan Botha)
Dr. Riaan Botha, stigter van Bovest, deel in Welvaartskeppers strategieë oor hoe om welvaart te skep en enige welvaart waaroor ’n mens dalk reeds beskik suksesvol te bedryf. Hy wys hoe om ’n familiebesigheid in moeilike ekonomiese tye te vestig en te bestuur. Volgens hom kan ’n mens die beginsels in selfgemaakte miljoenêrs se strategieë identifiseer en op jou eie situasie toepas. Hy reken ook dat die pandemie ’n werkomgewing geskep het wat geleenthede bied aan gemotiveerde en toegeruste individue. Die boek bevat praktiese raad en wenke oor hoe om jou eie geldsake te verbeter en daarby ook ’n inkomste vir ander te skep.
Dr. Botha noem hoe belangrik deeglike beplanning en ’n sakeplan is om potensiële beleggers te lok. Hy wys die volgende ses-stap-werkswyse uit: Stap 1: Ontleed jou finansiële situasie; Stap 2: Stel vas waar jy in die toekoms finansieel wil wees; Stap 3: Ontleed en verbeter jou kontantvloei; Stap 4: Beskerm jou bestaande welvaart; Stap 5: Skep nuwe welvaart, en Stap 6: Konsolideer die proses.
Welvaartskeppers bevat ook talle suksesstories deur mense wat suksesvol hulle eie welvaart skep en deel advies wat die toets van tyd deurstaan het.
LAPA Uitgewers gee Welvaartskeppers uit. Kry jou kopie hier.
Dink soos ’n miljardêr (Daniel Strauss)
Daniel Strauss van die beleggingsgroep Stocks & Strauss is ’n waagkapitaal-entrepreneur. In sy boek, Dink soos ’n miljardêr, noem hy dat hy die denkwyse van genoeg mense wil skuif om ’n herlewing in die sakewêreld teweeg te bring om sodoende groei te bewerkstellig sodat ’n nuwe generasie sakeleiers die wêreld doelgerig en volhoubaar vooruit sal neem. Hy deel raad wat hy van mentors ontvang het en ook uit eie ervaring opgedoen het.
Strauss is oortuig daarvan dat as jy nie duidelikheid het oor jou ambisie nie, dit moeiliker is om te bepaal wie vir jou deure kan oopmaak om te kry wat jy wil hê. “Om eerlik te wees: die inkomste wat jy vandag verdien, is ’n direkte gevolg van jou besluite in die verlede” (46). Volgens hom kan jy dus, deur die regte dinge te doen, die inkomste wat jy vorentoe gaan verdien fundamenteel verhoog. Hy moedig entrepreneurs aan om bo die lyn te dink om langtermynwaarde te skep, die regte belegger(s) aan boord te kry, en hulle teikenmark én kompetisie te ken. Jy het ’n gesonde sakemodel met waardes nodig om die op-en-af ekonomie te klop. Hy gesels oor die verhouding wat jy met beleggers behoort te hê en bespreek die toekoms van finansiering. Ek het veral die afdeling oor intellektuele eiendom as bateklas interessant gevind.
Dink soos ’n miljardêr bied aan die leser metodes, konsepte en denkwyse as kragtige gereedskap om van die wêreld ’n beter plek te maak.
Tafelberg Uitgewers gee Dink soos ’n miljardêr uit. Kry jou kopie hier.
How to start a side hustle (Nic Haralambous)
Entrepreneur Nic Haralambous het twintig jaar ondervinding in die opbou van besighede. In How to start a side hustle moedig hy entrepreneurs aan om met besigheidsidees te eksperimenteer om ekstra inkomste te genereer. Hy verduidelik wat dit nou eintlik beteken om geld op die kantlyn te verdien met jou idees. Een van sy geliefkoosde gesegdes is dat mislukking nie die teenoorgestelde is van sukses nie. Om nie te probeer nie is die teenoorgestelde van sukses.
Die boek is opgedeel in vier afdelings, nl. Mindset, Lifestyle, Idea en Hustle. Jou ingesteldheid en leefstyl moet van so ’n aard wees dat jy wel ’n sukses sal kan maak daarvan om ’n inkomste van die kantlyn af te verdien. Juis daarom spandeer Haralambous die helfte van die boek op voorbereiding: “You have to get your mind right, you absolutely must set up your life for a side hustle and you need to refine the idea and get ready to build it” (12). Ek is veral baie beïndruk met die tweede helfte van die boek wat oor die idee en die uitvoering daarvan gaan. Die raad en wenke is prakties, op die man af en heetemal uitvoerbaar – van hoe om ’n besigheid te registreer tot hoe om dit te bemark op verskillende platforms. Daar is ook welkome advies oor hoe om jou produkte of dienste te prys en verskillende betaalmetodes te bied.
How to start a side hustle bied nie net waardevolle insigte nie, maar Haralambous nooi ook die leser om sy webtuiste hier te besoek waar ’n mens selfs méér kan leer oor hoe om op die kantlyn geld te maak. Sluit ook aan by die Slow-Hustle Facebookgroep.
Tafelberg Uitgewers publiseer How to start a side hustle. Kry jou kopie hier.