Wen!-reeks vir kinders

Fantasi Uitgewers publiseer Elisenda Roca se uitmuntende Wen!-reeks wat op sewejariges gemik is en sosiale vaardighede op ’n deernisvolle en kindervriendelike manier oordra. Die bekroonde outeur en professionele vertaler, Sophia Kapp, het die teks uit Katalaans in prettige versvorm in Afrikaans verwerk. Christina Losantos het vir die kleurvolle illustrasies gesorg.

Die vier titels is: Skoert, nagmerries!, Haai! Dankie! Baai!, Waar of Vals? en Aan – Af. Die lokteks op elkeen se agterblad lui: “Is jy alleen, verveeld, kwaad of bang? Woon daar ’n monster in jou gang? Lees in hierdie stories hoe kinders nes jy dieselfde dinge kon leer vermy.”

In Skoert, nagmerries! leer kinders hoe om hulle nagmerries op hulle maermerries te skop. Hulle ontmoet vir Jaco, “’n vriendelike maat wat lekker speel en lekker lag”, maar saans neem sy verbeelding oor en word elke skaduwee en geluid iets om voor skrikkerig te wees. Mamma en Pappa troos so al wat hul kan, maar Jaco bly bang. Gelukkig is Ouma daar, en sy het net die regte raad om Jaco te oortuig dat hy saans veilig in sy huis kan bly.

In Haai! Dankie! Baai! leer kinders hoe om hulle giere vir goeie maniere te ruil. Hulle ontmoet vir Hanlie en Ricus wat beste maats is. Die twee hou van gewone kindergoed soos teken, grappies vertel en om buite te wees. Maar o wee, wanneer ander hulle groet, lyk die twee verveeld en is hulle stug en suur. Maar dan gebeur daar iets wat hulle oortuig om ander meer hoflik te behandel en nie weer hulle maniere te vergeet nie.

In Waar of Vals? leer kinders dat leuens van vriende vreemdelinge maak. Hulle ontmoet vir Karien en haar maats wat graag eerlik met mekaar is. Maar op ’n dag kom Karien weg met ’n leuen en net daar begin die probleem, want wit leuentjies raak gou grotes. Dan gebeur daar iets vreesliks en sy het hulp nodig, maar niemand wil haar meer glo nie. Ná dese sal sy nie sommer meer jok nie.

In Aan – Af leer kinders dat vriende voor fone kom. Hulle leer vir Henry ken wat amper ’n groot fout begaan omdat hy heeltyd op sy foon is. Hy speel graag saam met sy maats, Mia en Liam. Maar dan verjaar hy en alles verander wanneer hy ’n selfoon present kry, want van tóé af kan hy die ding nie los nie. Gelukkig tog sien sy pa dat hy die foonreëls verbreek en gryp in.

KragDag-lesers streef daarna om hulle kinders weerbaar groot te maak sodat hulle hul plek in die samelewing met vertroue kan volstaan. Hierdie boeke is waardevolle hulpmiddels. Die stories met die baie mooi illustrasies hou tonele en gebeure aan kinders voor wat hulle in hulle eie leefwêreld sal herken en mee kan identifiseer. Ouers, onderwysers en terapeute behoort die boeke suksesvol in te span om nie net sosiale vaardighede aan kinders oor te dra nie, maar ook om hulle te leer dat mense mekaar nodig het en moet waardeer en respekteer. Daar is ’n plekkie in die son vir ons almal.

Die sagtebandboeke beslaan 48 bladsye elk en kos R99,00 per kopie. Dit is in ’n gerieflike kleiner formaat (170 x 220 mm), wat dit makliker maak vir kinderhande om vas te hou. Kyk uit vir hulle by toonaangewende boekwinkels.

Kompetisie

Drie gelukkige Kragdag-lesers kan elk ’n stel van die Wen!-reeks met die komplimente van die uitgewers wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die weggeeboeke, is om hier onder in die kommentaar te vertel waarom jy dit graag sal wil wen. Sluitingsdatum 30 November 2023.

 

1.00 avg. rating (54% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

13 Comments

  • Ons kleinseun is 5 weke te vroeg gebore in September 2023. Hy is ons eerste kleinkind. Ons sal graag die boeke wou wen om aan hom te skenk as deel van sy opvoeding vir sy toekoms vorentoe.

    Dit is baie belangrik dat jong kinders leer hoe om sosiaal te verkeer.

    En om te leer om te onderskei tuusen reg & verkeerd.

    Kinders is die toekoms en die basis van ons samelewing.

  • Ek sal dit baie graag vir my seuntjie wil wen. Dit sal hom die nodige lewensvaardighede, wyshede en insig leer wat hy daagliks sal nodig kry.

  • Goeiedag,

    Hierdie Wen-reeks kinderboeke lyk vir hierdie ouma na die regte doepa om haar 5 & 7 jarige kleinkinders ‘n paar belangrike lesse te leer. Ons het met hierdie twee kabouters al elkeen van hierdie probleme, wat die boekies so oulik aanspreek, teëgekom. Dit is natuurlik ‘n bonus wanneer die hulp vanuit ‘n ander interessante oord kom. Dit maak die hele proses baie makliker.

    Tegnologie is so gewild onder hierdie ouderdomsgroep en ons is boon-op so beindruk wanneer kinders so mooi regkom met dit, maar ongelukkig leer hulle daar allerlei streke wat ons weer met moeite moet afleer. Elke bietjie hulp help.

    Intussen wil ons ook graag vir hulle ‘n liefde vir boeke aankweek.

    • Geluk, Daleen. Jy wen een van die Wen!-reeks-stelle. Ons sal met jou in kontak kom om jou afleweringsbesonderhede te bevestig.

  • Ek en my vrou het tans 9 kleinkinders.
    Hulle gryp gereeld ons boeke en blaai daardeur of vra dat daaruit gelees word.
    Nuwe leesstof is altyd welkom.
    Van hulle is tans op die lees (en skryf) stadium.
    Hierdie reeks blyk ideaal te wees daarvoor.
    Verder sal dit ook nuwe kennis en aspirasies aan hulle oordra.

    • Geluk, Johannes. Jy wen een van die Wen!-reeks-stelle. Ons sal met jou in kontak kom om jou afleweringsbesonderhede te bevestig.

  • Op 70 het ek vir eerste keer my eerste 3 kleindogters ryker geword. Wat ‘n seën en wat ‘n fees. Oupa se stories raak nou op en hierdie Wen-reeks lyk na net die die ding om wonderlike saamlees tyd saam met die 3 muise deur te bring

    • Geluk, Pieter. Jy wen een van die Wen!-reeks-stelle. Ons sal met jou in kontak kom om jou afleweringsbesonderhede te bevestig.

  • Wil klein kinders help

    • Dit sal die ideale geskenk maak vir my kleinkinders om deur te werk,lees ,en bou aan hul mense verhoudinge en veral die 2de een se bang wees om alleen te slaap in sy eie kamer .en al tot op geëindig het om voor mamma en pappa se deur in die gang te gaan lê met sy kussing .

  • Ek het n kido wat sukkel met n selfbeeld probleem en wat disleksie is. Sal graag wil wen om dit vir haar te gee. Sy love stories en leefhaar in dit in. Sy se as sy eendag groot is wil sy ook mooi stories skryf.

  • Ek sal dit graag wil wen, want die stories verskaf ‘n goeie geleentheid om met kinders oor sosiale vaardighede te begin praat. Baie oulik!

  • My kleindogter van 8 se pappa is vroeer vanjaar aan kanker oorlede en sy is tans ‘n bietjie traag om te lees en leer. Hierdie is dalk ‘n goeie inspuiting om haar weer te motiveer, want die boekies lyk baie oulik!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui