Reik uit na mekaar

Voel dit vir jou ook of die tyd deesdae vinniger as gewoonlik verbysnel? Ek kan byna nie glo dat die jaar oor net drie maande op ’n einde sal wees nie. En voor dan moet daar letterlik ’n duisend-en-tien dinge gebeur en in plek val. Vir so baie van ons is die druk op bykans elke gebied van ons lewe eenvoudig enorm, en daar is net nie kans vir slaplê of asemskep nie. Ons lewens is gejaagd, want daar is spertye om te haal, doelwitte om te bereik, projekte om af te handel, prestasies om te behaal en verpligtinge om na te kom.

Te midde van hierdie gedrewendheid om ’n bestaan te maak en vir ons gesinne te voorsien, vergeet ons so dikwels om bewustelik te lewe. Dis asof ons soos outomate oorskakel in outomatiese rat en dan net voortbeur en bloot doen wat gedoen moet word om net deur die dag te kom. En môre doen ons presies weer dieselfde. Die mallemeulerit wil net nie einde kry nie, en ons moet vasklou vir al wat ons werd is. En voor ons ons kom kry, is ons kinders groot of ons besef op ’n dag dat ons en ons lewensmaats vreemdelinge vir mekaar geword het. Al wat ons het om te wys is ’n nog ’n huis of motor indien ons van die gelukkiges is wat nie net van salaristjek tot salaristjek oorleef nie. Maar iewers in die proses het ons dalk onsself en ons geliefdes verloor. Ons het vergeet om met oop oë en ontvanklike harte te lewe, herinneringe te maak en die lewe in al sy volheid te smaak.

Miskien moet ons twee maal dink alvorens ons die res van die jaar soos zombies aanpak. Dalk is dit tyd om bestekopname te doen van die nege maande van die jaar wat verby is – nie van wat ons bereik het in ons loopbane of studievelde nie, maar wel van ons en ons hartsmense se gemoedstoestande. Hoe gaan dit werklik met jou? En hoe gaan dit regtig met jou lewensmaat en kinders? En met jou ander familielede of vriende? Maak tyd om mekaar raak te sien. Werklik raak te sien. Kyk verby die oppervlak, want mense kry swaar – emosioneel, geestelik asook liggaamlik. Kom by jou eie en ander se harte uit. Stel belang en gee om. Bied hulp aan en verleen dit ook.

 

Die afgelope ruk het die een gruverhaal ná die ander van mense wat hulle eie lewens neem of selfs gesinsmoord pleeg die nuus gehaal. So baie mense is lewensmoeg en depressief. So baie sien geen uitkoms meer nie. Die nood is net té groot. Die moedeloosheid net té erg. Die wanhoop en honger net té oorweldigend. Die swak ekonomiese en maatskaplike en toestande in ons land en die mistroostige vooruitsigte raak vir baie net té veel. Sommige is dalk finansieel welaf en hoef hulle nie soos miljoene ander te bekommer oor waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom nie, maar hulle voer weer ’n stryd teen siekte, alleenheid of verslawing.

Kom ons onderneem om die orige drie maande van die jaar te gebruik om vir onsself en vir ander goed te wees. Kom ons kyk met sagte oë na mekaar en reik uit na ander. Iemand het eendag gesê dat die beste manier om jouself te help, is om ander te help. Kom ons gee van onsself vir ander, een glimlag, een handdruk, een kospakkie op ’n slag.

Saai positiwiteit en jy sal positiwiteit maai met ’n goeie skeppie hoop daarby. Wees gerus goed vir en doen goed aan ’n ander, en jy sal verbaas wees hoeveel vreugde dit jou sal verskaf.

Onthou – natuurlik is jou plaaslike kerk ook daar om jou by te staan.  Wanneer jy inskakel by `n gemeente, is daar gewoonlik een of ander struktuur waarbinne mense saam die pad stap.  Dalk is daar ‘n wykstelsel, dalk is dit klein groepies of omgee groepe of belange groepe.  Wat ook al in jou gemeente beskikbaar is, wees aktief deel daarvan.  Alhoewel die meeste mense in hierdie groepe nie volledig opgelei is in berading nie, het hulle een kwaliteit wat bo almal uitstaan – hulle gee om.

En as jy verdere hulp nodig het, maak `n afspraak met jou gemeente se dominee, pastoor of berader.  Hulle is wel opgelei om jou verder te kan help.

So skakel in, raak betrokke.  Steek jou hand uit om te help en aanvaar die hand wat jou vorentoe wil aanmoedig.

 

SADAG Selfmoord-hulplyn 0800 567 567 / SMS 31393
Lifeline Suid-Afrika 0861 322 322

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui