Kos in bokse

Nie almal van ons is so bevoorreg om ‘n plaas se spasie rondom ons te hê nie, maar die meeste van ons het so bietjie van ‘n boer in ons. Dink net hoe lekker sal dit wees om jou eie groente vars te kan pluk, minute voor aand ete.

Hierdie artikel gee jou so ‘n paar wenke hoe om jou eie kos te kweek, selfs al bly jy in `n plekkie wat ‘n klein, selfs geen tuin het nie.  Plant vir jou groete in houers.

Om jou eie groente te kweek, is taamlike eenvoudig. En ek onthou hoe my eie vaardighede met die loop van tyd verbeter het, om al hoe beter oeste te kry.

Benodigdhede:

  • Houers
  • Potplant grond
  • Saad of saailinge
  • ‘n Gieter of iets soortgelyks.
  • Leergierigheid

Sit dit alles bymekaar:

Die houers wat jy gebruik, kan uiteenlopende goed wees. Sjoe, dit kan ou roomys bakke wees of peperduur potte wees wat die boetiek kwekerye verkoop. Dit kan `n ou sinkbad wees, of selfs ‘n paar bakstene wat in `n vierkant gepak is.

Hier is praktiese dinge om in gedagte te hou wanneer jy die houers kies.

  1. Die grote van die plant. Plante soos tamaties is groot plante, en het `n groterige bak nodig. Ek reken ‘n bak wat kleiner is as 20 liter is, sal nie so goed werk vir tamaties of eiervrugte of pampoene nie. Dan het plante soos blaarslaai weer taamlike vlak wortels. Diep bakke mors net spasie vir hierdie tipe plante. Soos lees bietjie op (en gebruik gesonde verstand) om te besluit watter tipe bakke gebruik jy vir watse tipe groente.
  2. Alle houers moet gate onder in hê. Die water moet `n plek hê om uit te loop, sodat die plant nie versuip nie.
  3. Donker kleurige en metaal potte, veral swart, word vinnig warm wanneer dit in die son staan. Dit laat die grond vinniger uitdroog en die hitte kan selfs die wortels beskadig.

Kies die area waar jy die potte sit, goed.

  1. Genoeg direkte sonlig. Die meeste groente het ten minste 6 ure se vol son nodig. ‘n Noordelike vensterbank of balkon behoort genoeg sonlig te gee. Let net op vir bome naby die venster of balkon. Voor ons huis staan `n massiewe bloekom boom, wat in die winter tot omtrent 13h00 skaduwee op die huis gooi. En dan, omtrent van 16h00 af, gooi die kareeboom weer skaduwee oor die venters.
  2. Genoeg spasie om te groei. Selfs al word tamaties lekker groot plante, kan jy dit met `n snoeiskêr in toom hou op jou kombuis toonbank. Maar ‘n pampoen plant, wat vreeslik rank, sal dalk nie baie goed in die huis werk nie. (Ek het nog nooit probeer om praktiese planne uit te dink om so ‘n aggressiewe ranker in die huis te hou nie.) ‘n Pampoen op `n groterige balkon mag dalk werk. Jou bure wat onder jou bly, mag dalk te dankbaar wees vir die pampoen wat bokant hulle stoep hang.
  3. Vir een of ander rede is dit tog maar meer stowwerig rondom potte. So maak seker dat jy gereeld afstof of uitvee rondom die potte. Dis nou natuurlik as die potte in die huis of op `n balkon staan.
  4. As die potte nie direk op die grond staan nie, is dit goed om `n vlak bakkie onder die pot te sit. Hierdie bakkie vang die water op wat deur die grond syfer. Dan verdamp dit. Sonder hierdie bakkie is hierdie syfer water geneig om vlekke te los.

Net genoeg water.

Daar is twee tekens wat jy voor moet uitkyk om te sien of jou plante die regte hoeveelheid water kry. Wanneer die blare verlep, is een van twee, somtyds al twee dinge, fout: Die plante kry baie warm of dit het te min water. Pampoene is geneig om maklik te verlep, selfs al het dit genoeg water. As die plant weer lyk asof dit optel, soos wat die dag afkoel, is daar genoeg water. Skuif dalk die pot na `n koeler plek toe, as dit moontlik is.
As die plant geel word, is een van die moontlike redes, dat dit te veel water kry. Sodra jy dit agterkom, probeer uitvind of die grond modderig is. Grond wat te lank modderig bly, laat die plante maklik versuip. Skuif die plant na `n warmer plek toe, dat die water so vinnig moontlik kan verdamp. As daar water in die dreineringsbakkie lê, moet dit dadelik droog gemaak word en droog gehou word.

Nou kom ons by die pret gedeelte, om die plantjie te plant.

As jy baie min plek het vir jou groentetuintjie, is die maklikste manier om saailinge by `n kwekery te gaan koop.

Die voordele daarvan is dat:

  • dit relatiewe gesonde plantjies is,
  • dit al `n paar weke nader aan oestyd is,
  • jy net `n klein bietjie plantjies kan koop, gewoonlik so tussen 1 en 6 plantjies per bakkie,
  • die plantjie wat jy koop, gewoonlik goed aangepas is vir jou klimaatstreek.

Wanneer jy `n saailing oorplant in die houer in, is daar omtrent net twee goed om in gedagte te hou. Dit is om die wortels so min as moontlik te versteur en om die plantjie op min of meer dieselfde diepte te plant as wat die in die saailing bakkie was.

Sou jy besluit om direk van saad af te kweek, is die koste per plantjie baie goedkoper as wanneer jy saailinge gaan koop. Ek het selfs al saad gekry wat my ‘niks’ gekos het nie. Wanneer ek van `n spesifieke tamatie hou, gebruik ek sommer daardie tamatie se saad.

Jy kan of eers in saailing bakkie plant, of jy kan direk in die bakke plant. As jy in saailing bakkies plant, kan jy die sterkste plantjie kies om oor te plant in die potte in. Wanneer jy direk in die potte plant, is my voorstel om so 4 of 5 saadjies in te sit. Sou dit gebeur dat een of twee saadjies nie ontkiem nie, is daar `n paar ander wat wel ontkiem het. Dan kan jy nog steeds na `n rukkie kyk watter van die saailinge die sterkste is. Die res trek jy eenvoudig uit.

Deur die seisoen hou jy die plante nat en kyk uit vir siektes en peste.

In hierdie artikel gaan ek nie diep ingaan op siektes en peste nie, behalwe vir een of twee opmerkings.

Siektes is gewoonlik van een of ander mikroörganismes, soos `n swam, wat op die plant begin teer. Die ander rede vir siektes, is dat daar een of ander voedingswaarde tekort in die grond is. Google gee gewoonlik vir jou goeie raad vir `n oplossing, ongeag of jy organiese of chemiese metodes verkies.

Peste is insekte, ruspes en ander soortgelyke goggatjies wat op jou plante teer. Daar is baie goggas wat voordelig is vir jou plante, so moenie net gif spuit vir die eerste goggatjie nie.

Nadat die voorbereiding, plant en versorging verby is, is dit tyd om die vrugte van jou arbeid te geniet – die oes.

Vir my is tuinmaak baie ontspannend. Geen wonder dat soveel mense sê dat tuinmaak een van hulle stokperdjies is nie. Elke stap is baie bevredigend. Ek is een van die groot kinders wat nog steeds daarvan hou om in die grond te speel.

Dis lekker om die plantjie te plant en oor te plant. Dis lekker om die groente te oes.  En dis so lekker om jou eie groete te eet.

Die tussen-in fase, om te kyk hoe dit groei, is net so bevredigend – elke nuwe blaartjie, elke nuwe bloeisel.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Francois du Toit
  • Francois du Toit
  • Entrepreneurskap, selfstandigheid, veiligheid, innovasie, tuisonderrig, finansies, natuurbewaring, gesinslewe, christenskap, eko-toerisme...

    Hierdie is onderwerpe waaroor Francois graag gesels en skryf.

    Hy woon saam met sy vrou en sy dogter op `n kleinhoewe, waar hulle elektrisiteit heeltemal van die netwerk ontkoppel is, waar hulle al hulle water uit `n boorgat kry, waar heelwat van hulle kos uit hulle eie tuin kom, en waar hulle vir langer as 7 jaar alreeds tuisonderrig doen.

    Hy maak heeltyd planne om dinge goedkoper en makliker te doen, van sonoonde tot elektrisiteitslose verwarmers.

    Hy weet ook wat die uitdagings is ten opsigte van sekuriteit op plase.

    Hy ken die waarde van goeie buurmanskap en inskakeling by die groter gemeenskap - ter wille van sekuriteit, samewerking en tot voordeel van die besigheidsgemeenskap waar hy `n rol speel.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui